Lesersbrief: Tyd vir meer gesinsvriendelike Afrikaanse flieks

Ben Bezuidenhout skryf: 

(Foto: Unsplash)

Ek sit nou die dag op Showmax en kyk deur die legio Afrikaanse flieks en kortflieks waartoe die kyker in sy privaat sitkamer toegang het. Wonderlik, gerieflik, knus en tuis is van die emosies wat ek ervaar wanneer ek met my afstandbeheer soek-soek na iets vir die verbeelding, iets vir afleiding, vir die nie-alledaagse, vir bietjie komedie – produksies uit ons eie Suid-Afrika.

Die gesin sit almal saam (met ʼn bak suiker-en-botter-springmielies natuurlik) en ek soek, soek en soek na die ideale fliek vir ʼn doodgewone gesin. Maar helaas, niks sonder ʼn ouderdomsperk vir óf seks, óf geweld, óf kru taal, óf wat vir kinders 13 jaar en jonger geskik is nie. Moet ek maar die kinders kamer toe stuur, of dan my 10-jarige se ongemaklike vrae trotseer net om na Fiela se kind te kyk?

Ek dink ons Suid-Afrikaanse filmvervaardigers mis hier ʼn reusemark wat net wag om ontgin te word – gesinsvriendelike flieks waar jy nie die kinders se ore en oë hoef toe te druk nie, waar daar nie vreemde, onder-die-belt of skokkende gebeure plaasvind wat selfs volwassenes probeer ontstel nie.

Daar is soveel moontlike opsies vir gesinsvriendelike films. Ons het puik Afrikaanse kinderboekskrywers soos Jaco Jacobs, Dianne Hofmeyr en nog vele wat beslis weet hoe om ʼn interessante storie te vertel sonder die geswets, kaal lywe, bloed of onderwêreldgedrogte wat vir jou wink.

Om maar enkele voorbeelde te noem:

Lion deur Garth Davis. ʼn Vyfjarige Indiese seuntjie word deur ʼn Australiese egpaar aangeneem nadat hy honderde kilometers van die huis af verdwaal het. Hy gaan soek 25 jaar later na sy verlore gesin.

The Dressmaker deur Jocelyn Moorhouse. ʼn Aantreklike vrou keer na haar klein geboortedorpie in die Australiese platteland terug. Met haar naaimasjien en unieke hoogmode-styl omskep sy die plaaslike vroue en neem sy soet wraak op diegene wat haar in die verlede leed aan gedoen het.

Paper Planes deur Robert Connolly. ʼn Verbeeldingryke kinderfilm oor ʼn jong Australiese seun se passie vir vlieg en sy uitdaging om aan die Wêreld Papiervliegtuigkampioenskappe in Japan deel te neem.

Al hierdie rolprente kom uit Australië, wat ons in die filmbedryf ligjare voor is.

Komaan filmbedryf, teiken ons Suid-Afrikaanse gesinne! Julle sal verras wees om te weet dat almal nie meer in vandag se wêreld lus is vir wellustige, growwe humor of moord en doodslag nie. Om dan nie eens van die animasie-genre te praat nie. Of gaan ons eerder net alles oorklank en ons talente diep onder die maatemmer begrawe sodat kuns, taal en kultuur maar net ʼn bysaak word?

Ek hoop om gou nuwe opkomende en opregte talent te sien – in ons Showmax-teatertjie tuis, reg langs my vroutjie se warm kombuis.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cheryl ·

Stem 100% saam. Ek was geskok om te sien hoe daar in afrikaanse rolprente gevloek word en ook hoe die Here se naam as krutaal gebruik word. Hoe sê die Hollanders? Dit brengt geen vrugt voort.

Kaal Keiser ·

Die afrikaanse liedjies raak ook al hoe meer net oor drank en seks…als tong in die kies natuurlik !

Elmarie ·

Dankie ek stem 100% saam! Ons hoef nie agter Hollywood aan te hardloop nie. Baie Suid Afrikaners voel soos jy daaroor

Charl ·

So waar … met al die geweld en bloed in aksie rolprente en “soapies” waar die hoogtepunt is wanneer iemand “verneuk” of “uitoorle” is, watse waardes dink ons leer ons ons kinders ? Waar is die flieks wat goeie waardes vir kinders leer – dan spaar jy sommer tyd om hulle reg op te voed en die families doen sommer iets saam….
Dieselfde frustrasie het ek met die engelse goed .. rerig alles dieselfde twak en goed wat niks waarde toevoeg tot ky lewe ..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.