Nelia Drenth skryf:
Op 23 Oktober het ek die geleentheid gehad om weerbaarheid, veerkragtigheid, omgee en liefde eerstehands te ervaar. Dit was tydens ʼn ontlontingsessie aan ʼn groep jong kinders en ʼn klompie volwassenes wat ooggetuies was van ʼn grusame, noodlottige aanval op ʼn jong vrou.
Ek het baie verhale van braafheid, vrede, geloof en onderlinge ondersteuning gehoor, en min verhale van paniek en angs, soos mens eerder sou verwag.
Ek het gehoor van kindertjies so jonk as ses jaar wat, sonder om te skroom, bevele om plat te val en stil te lê, gehoorsaam het, van dogtertjies wat op bevel van ʼn tannie na veiligheid gekruip het, van ʼn dapper seun wat kopgehou en die polisie gebel het, en ʼn ander jong man wat saam met een van die volwassenes gaan kyk het of hulle die slagoffer kon help.
Ek het gehoor hoe die grootmense elke kind wou beskerm, ten koste van hulle eie veiligheid, en hoe kinders mekaar getroos en ondersteun het. Ek het gehoor hoe grootmense mekaar erkenning gee vir elkeen se aandeel in die beveiliging van ons land se toekomstige leiers. Ek het, belangrikste van alles, gehoor hoe mense God se bewarende hand beleef het.
Ja, daar was trane oor wat gebeur het en kommer oor die pad vorentoe. Daar is verseker vrees, maar daar is beslis nie wanhoop en ongeloof nie!
Aan die einde van die sessies was ek met dankbaarheid gevul vir ondersteuning deur hierdie selfde groep mense toe my kollega my geskok kom meedeel het dat my motor gesteel is. Ek was omring met omgeemense en aanbiedings van hulp te midde van hul eie pyn en kommer.
Ek salueer elkeen van julle! My bede is dat ons weer eendag in vrede sonder grusaamhede en disrespek vir mekaar in hierdie mooi land van ons sal kan woon.
Het iemand al ooit uitgevind wie die vermoorde vrou was?
Dit is in ons genetika om op te tree soos in die berig weergegee word, dit maak dat ons goeie fondasie bou om ons toekoms te verseker. Ek voel trots in wat in die berig staan en kan myself daarmee assosieer. Wel gedaan aan die skrywer en die mense wat daardie dag dapper opgetree het.
Ek vergelyk ons land se mense baie kere met mense in ander lande soos Afganistan, dan kom ek tot die gevolgtrekking, God laat nie dit wat syne is, verlore gaan nie. Staan vas in die geloof.
Maak my trots om lid van die Voortrekkers te wees. Gedissiplineerde kinders wat weerbaar en veerkragtig is. Offisiere wat kinders se belange hoër ag as hul eie. Mooi so Sytze Wierda. Sterkte met jul pad vorentoe! En dankie Heer vir U beskerming.