Lesersbrief: Wanneer die dag kom

Okkie C Lotriet skryf:

(Argieffoto ter illustrasie: Pixabay)

Wanneer die dag kom… my laaste oomblikke saam met my hondekind.

Troeteldiere gee jou lewe ekstra kleur, of kleur dit soms heeltemal in. In my geval is dit honde, drie van hulle. Optelpa Shadow, weggooima Jasmine en seuntjie Pikkewyn. Jy sien, omdat ek nie getroud is nie, speel hulle ʼn ekstra belangrike rol in my lewe, en omdat ek nie kinders het nie, is hul my kinders.

Wanneer ek wakker word, is hulle daar… en as ek tot ruste kom kry hulle hul lêplek langs my. Ons eet saam, stap saam en bid saam – jaar in en jaar uit. Dit is die einste jare wat aanstap, en soos ek ouer raak is dit dieselfde met die span. Hier en daar ʼn grys haar, ʼn seer lyf en minder belangstelling in die wêreld daar buite.

Shadow het egter skielik die laaste ruk baie gryser geword, meer gereeld ʼn seer lyf gehad en hom glad nie meer aan vreemde geluide gesteur nie. Die lewendige hondjie wat eens nie ʼn tennisbal kon uitlos nie, het geen belangstelling getoon wanneer my karsleutels ʼn uitstappie aankondig nie. Dis toe dat ek agterkom, hy is besig om sy sig te verloor, en skielik was hy een oggend blind in sy een oog.

Daagliks het sy sig swakker geword, en daarmee saam het hy vertroue in sy vermoëns begin verloor. Eens die baas van ons stukkie plaas, het hy nou opsoek na sy waterbak, in alles in sy pad begin vasloop totdat hy net gaan sit het. Daar waar ek hom los, sou ek hom kry.

Ek het alreeds geweet die dag het gekom. Dit was bitter om alleen te weet sy tyd saam met ons hardloop uit, en die feit dat ek die besluit moes neem om ʼn einde aan sy besige lewe te maak was hartverskeurend.

Die oggend voor ons die kort lang pad moes vat, het ek hom vir oulaas bederf met sy gunstelinghappies. Ek wonder wat die ander twee gedink het toe hulle die keer nie kon saamry nie, want dit was nog nooit so nie. Die veearts het gesê dat Shadow my teenwoordigheid aanvoel en dat ek tot die heel einde toe by hom moet wees, sou ek kon. Hoe dan anders, want die laaste vyftien jaar was hy vir my daar as ek gevoel het ek kon nie. Ons het ons groetoomblik gehad. Ek het in sy waserige oë gestaar en vir oulaas het hy my hoor sê: “Dankie Shadow, dankie dat jy my lewe meer betekenis gegee het. Jy het min gevra en baie gegee. Onvoorwaardelik. Ek is lief vir jou en ons gaan jou mis”.

Toe het sy ou lyf pap geraak in my arms, en op die koue staaltafel het ek hom neergelê. Met ʼn swaar hart het ek snikkend huis toe gery. Sy plekkie is leeg, en ek kan sien die ander twee weet hy is nie meer daar nie.

As jy ʼn hondjie het, kyk mooi na hom of haar. Maak tyd om te gaan stap en sorg vir ʼn snoesige slaapplek, veral in die winter. In ruil vir kos en water sal jy oneindig baie liefde ontvang. Jou troeteldier dink die wêreld van jou, sal jou soos ʼn skaduwee volg en is verseker jou beste vriend. En wanneer die dag kom, vergesel hom of haar tot die onbekende einde. Dit gaan vir jou swaar wees, maar dis swaarder vir hulle.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Toffie ·

Jy verwoord absoluut my afskeidstorie(s) – ek moes oor die jare ses van my hondeliefies laat uitsit het. Ek was ook end-uit by hulle, want my honde sou tot op die einde by my gebly het.

Vinny ·

dis die ergste ding ooit, ek het altwee my diere kinders in 6 maande moes veearts toe vat om te laat uitsit, baie mense verstaan nie die plek wat ‘n dier in mense se lewens beteken nie. my wereld is leeg sonder my diere.

VaalDonkie ·

Weet jy, ek het my geliefde papegaai en my baba seun ‘n paar maande uitmekaar verloor. En die pyn is nie eens in dieselfde liga nie.

Christelle ·

Jy het dit so mooi verwoord. Baie sterkte, dis een van die seerste seer wat daar is.

Eclectus ·

Het dié pad al ‘n paar gestap en dit bly die beste dat hulle in jou arms sterf. Een veearts het geweier en ek is tot vandag spyt ek het nie eerder na iemand anders gegaan nie.

Clssf* ·

Ons beurt lê seker ook binnekort voor. Die ou lyf raak al ouer, maerder en tammer, maar die oog (die een wat nog kan sien) en aptyt is op en wakker. Die hase word nog gesoek in die agterplaas saam met haar “partner in crime” alhoewel dit in slow-motion plaasvind en die hare val in klosse uit . Ek weet steeds nie hoe mens daai besluit moet maak dat sy nou genoeg gehad het van die lewe nie. Wie is ek om daai kersie uit te blaas….? Ek hoop en bid maar dat sy vir ons sal wys dit is tyd, en dat ek gewillig en gereed gaan wees om dit raak te sien… Maar op die stadium brand daar nog ‘n vlou vlammetjie. :(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.