Lewe is nie meer heilig nie

Argieffoto

Argieffoto

Almal weet die tegnologie het baie gevorder die afgelope jare. Satelliete reis lankal reeds veel verder as die maan en gevolglik weet ons so baie meer van ons sonnestelsel af as vyftig jaar gelede, motors is reeds gemaak wat nie bestuurders nodig het nie en ook elektries is, onbemande tuie soos die “drone” is beskikbaar vir Jan en Alleman om te gebruik, om nie eers te praat van hoe selfone mense se lewens gemakliker maak en terselfdertyd meer frustrasie bring, soos om jou te dwing om altyd beskikbaar te wees vir wie ookal wil praat of adverteer nie. Daar is dus vir almal wonderlike voordele wat volg op nuwe tegnologie, maar dikwels ook onontkombare nadele.

Die mediese wetenskap is by uitstek ʼn terrein wat aan individue ʼn verskeidenheid moontlikhede bied wat voorheen nie bestaan het nie.  Daar is pasaangeërs wat harte laat aanhou klop, heupoorplantings wat bene langer laat loop, prostese wat olimpiese atlete voortbring, breininplantings wat Parkinsons onder beheer bring en nog vele meer. Dit is voorwaar verstommend hoe lewe verleng kan word deur die dood as’t ware te uitoorlê. Sulke verbeterings versterk sekerlik moderne geslagte se oortuiging dat lewe heilig is en dat niemand behalwe God die reg het om ʼn lewe te neem nie.

Of is dit dalk nie so edel as wat dit wil voorkom nie? Word God se reg op die beskikking van lewe en dood nie oortree deur hierdie kunsmatige verlenging van lewe nie? Waarom is dit net menselewens wat betrokke is en waarom is al die tegnologie beskikbaar slegs vir mense wat dit kan bekostig?

Die afgelope Kersseisoen is die lot van so baie verwaarloosde ou mense weer na vore gebring. Hul lewe het geen betekenis vir hulself of ander nie en vir hul kinders is hulle ʼn onbekostigbare las. Baie van hulle word in ʼn versorgingsfasiliteit geplaas en daar vergeet omdat daar nie geld is om ʼn gesin te versorg en ook nog vir die versorging van Ouma of Oupa te betaal nie. Is soʼn lewe regtig heilig?

Terwyl die mediese wetenskap reeds lankal begin ingryp het om lewe te verleng, is daar werklik nog enige grond om te dink dat lewe en dood beslis word deur God alleen? As die reg bestaan om ʼn persoon wat duidelik nie tot enige waarde kan wees nie, teen hoë koste te laat lewe, behoort daardie persoon nie die reg te hê om sy/haar lewe te beëindig nie? En is dit nie die samelewing se plig om te veg vir soʼn reg om te sterf nie? Waarom moet mense verplig word om die reël van “heiligheid” te gehoorsaam terwyl daar lankal ʼn faktor van beheer deur die mediese wêreld toegelaat is by die kwessie van lewe en dood?

Daar is in elk geval ʼn skynheiligheid saam met die weerstand teen genadedood en die reg om te sterf, want elke dag is daar iewers op aarde ʼn oorlog aan die gang waarin sterk en gesonde mense omkom – mense met jong kinders – maar dit word aanvaar as onafwendbaar en selfs patrioties. In verskeie beroepe word dit van mense verwag om hul lewens doodsveragtend op die spel te plaas ter wille van ander wat dikwels deur moedswilligheid in die moeilikheid beland het. Dan word dit beskou as ʼn dapper daad en die “heiligheid” word gerieflik op die agtergrond geskuif. Maar sieklike oumense mag nie die keuse hê om waardig na die dood gelei te word nie, ook nie mense wat onherroeplik uitgelewer is aan ʼn lewe van armoede nie, ook nie ʼn misdadiger wat besef hy is nie rehabiliteerbaar en sal gedurig in die tronk wees nie.

Om watter bisarre rede word aanvaar dat sulke mense nie die insig het om oor hul eie lewe of dood te besluit nie?

Natuurlik sal en moet daar beperkings gestel word sodat ʼn mens nie mag sterf bloot op grond van ʼn tydelike probleem nie, maar daar is ʼn saak uit te maak vir mense wat nie meer sinvol kan deelneem aan die samelewing nie, sowel as mense wat geen inkomste het nie en ook nie die vooruitsig het om ooit ʼn waardige bestaan te kan maak nie. En dit moet natuurlik daardie mens se keuse wees.

Dalk sal bitter min mense so ʼn keuse maak, maar nogtans moet die keuse beskikbaar wees. Soos dinge nou is, word almal verplig om te leef omdat ander mense die een of ander geloof of oortuiging het. Dit behoort verander te word.

Dr. Breytie Breytenbach

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

26 Kommentare

Cecilia Tjaden ·

Dr. Breytenbach- ek sal graag wil hoor wat is u mening dan oor aborsie?

elize naude ·

kersfees word as die romantiese liefdevolste gebeurtenis van die meeste mense opgedwing… as mens die hele jaar nie met mekaar die lewe leef en beleef nie… kan mens nie verwag dat tydens die kersgety n harmonie heers wat nie daar is nie… tensy families hul probleme aanpak en oplos!!!
hier by ons (switserland) glo mens dat die welsyn an ‘n land gemeet word aan se mees kwesbares… en dit is in ons grondwet veranker!

Chris Visser ·

Bravo! Uiteindelik iemand wat vele ander se gedagtes sinvol verwoord. Ek stem!

Henry ·

Die briefskrywer het sy standpunt oor die verlenging van lewe gestel. Daaroor sal daar uiteraard verskillende menings wees.
Waarom stel jy nie jou standpunt of vrae wat met die onderwerp verband hou aan die skrywer, ipv om jou beledigende en niksseggende persoonlike aanvalle hier tentoon te stel nie?

Henry ·

Ek het hierdie opmerking aan iemand gerig wat die briefskrywer persoonlik beledig het, sonder om enige standpunte oor die inhoud van die skrywe te stel.
Haar kommentaar is klaarblyklik verwyder, wat jammer is.
Soos gewoonlik vertel sulke skryfsels meer van die skrywer as wat dit van enige ander nut is.
Hoe ookal.
Mynsinsiens ‘n uiters interessante skrywe waarin gedagtes uitgespreek word, wat duidelik verskil van ge-ykte oortuiginge.
Vir wat dit werd is – ek stem allie pad saam met die inhoud van die skrywe – veral die laaste paragraaf.

Dr Willie Strydom ·

Dr Breytenbach jy is duidelik op n dwaalpad.
As christen gelowige weet ek my lewe is in God se hande. Voorspoed of teespoed is Sy wil. Selfs n sieklike oumensie kan n getuie wees as Hy dit wil.
dr Willie Strydom

elize naude ·

ek werk in n tehuis vir gestremdes en geniet my werk terdeë… ons leer van mekaar en die maak ‘n groot verskil!!!

Anti-fascisme ·

Ja swaer. So het die nazis mos ook gereken. Die volgende stap is natuurlik die ‘genadedood’ van gestremdes en alle mense wat, om jou aan te haal, “nie meer sinvol kan deelneem aan die samelewing” en “‘n waardige bestaan kan maak” of “uitgelewer is aan ‘n lewe van onherroepelike armoede”. Bloedstollende woorde sowaar.

Jan ·

@ Anti-fascisme:
Werklik goed gesê! Ek stem heelhartig met jou saam. Hierdie soort praatjies is voorlopers vir die erger ontwikkelinge waarin ‘n menselewe niks vir niemand beteken nie. Laat God besluit!

Anti-fascisme ·

Ja ek dink die moderne woord vir dié soort ‘genadedood’ is sustainability. Is jý onderhoubaar? Want as dié gedagtegang tot volle uiting kom, sluit dit ook mense met oorerflike siektes, depressie ens. en weldra ook politieke teenstanders in. Jy weet, almal wat “nie sinvol kan deelneem aan die samelewing nie”.

Sarel Strydom ·

1) Jy moet Maroela Media se voorwaardes aanvaar en om beledigend te wees en persoonlike aanvalle te doen glo ek oorskry daardie voorwaardes.
2) dr. As Christen gelowige glo ek slegs God het die reg op lewe en dood. Ja ons sien en ervaar geweldige leiding om ons waarvoor die mens verantwoordelik is. Maar die toepassing van Aborsie en Genadedood stel ons gelyk aan diere. Die mens het reeds alle perke by God oorskry, daarom dat hierdie wereld so deurmekaar is.

Anti-fascisme ·

Niemand beledig die skrywer nie. Google “Action T4” op Wikipedia of ander geskiedenisbron. Lees asseblief met aandag.

Breytie Breytenbach ·

Ek dink hier word iets in my skrywe ingelees wat nie daar staan nie. Die bedoeling is nie dat verswakte mense vankant gemaak moet word nie. My redenasie gaan daaroor dat ‘n mens nie die reg het om te besluit om liewer te sterf as om voort te gaan nie. In die lang lys van menseregte is daar ook “die reg op lewe”, maar daar is nie “die reg op dood” nie. Intussen is daar baie faktore in die moderne samelewing wat veroorsaak dat mense “ontmens” word en die klassieke beskouing van wat ‘n mens is, geld nie meer in alle gevalle nie. Daarom, dink ek, die reg om te sterf moet net so’n fundamentele reg wees as die reg op lewe.

nig ·

Breytie, moenie stres nie, Maroela lesers is geneig om hul eie gevolgtrekkings te maak en oordele uit te spreek ens ens….Steur jou nie, jy het ‘n punt! Natuurlik is daar mos nou die wat sommer (veroordelend) veralgemeen en dan sê die volgende stap is dan seker …blablabla. Jy beoefen jou vryheid van spraak so basta met die vingerwysers!

febe ·

Ek het onlangs n skripsie geskryf oor die verliese van bejaardes. Bejaardes word uit die samelweing gestoot en geminag en ons gaan dit weer moet herstel. Dit is so hartseer. Ek het hier in Krugersdorp so 90 verwaarloosde bejaardes wat regtig behoeftig is wat ek probeer help en maak my so hartseer om te sien dat hul kinders glad nie belangstel nie.

Frans ·

Die tyd het aangebreek dat mense ophou om God by elke saak te betrek en dan te besluit
of ‘n lewe nog die moeite werd is om voort te bestaan omdat so’n lewe as ‘n oorlas vir die res van die samelewing beskou word en die reg tot beëindiging in die hande van die invidu
te laat.

Lees gerus die moderne weergawe van die ‘Hippocratic oath’ wat die groot verantwoordelikheid van geneeshere in die saak op skrif stel en veral te bevry van die versoeking om nie God te speel nie.

Elke saak moet op meriete beoordeel word en moet dit nie aan verswakte bejaardes of enig ander oorgelaat word om te besluit of namens hul te besluit wanneer hul moet ophou lewe.

Wanneer ‘n persoon dus die begeerte uitspreek dat sy lewe beëindig moet word moet dit deur ‘n span mediese deskundiges en ander bv siekundiges ondersteun word in samewerking met die familie.

Omdat daar ‘n plig op die staat rus om lewe te beveilig en te beskerm moet ipv vermorsing van fondse op Nkandlas meer fondse beskikbaar gestel word om mense instaat te stel
om steeds ‘n menswaardige oudag te beleef waar familie nie langer daartoe instaat is.

Anti-fascisme ·

Waar genadedood eers vrywillig geskied, word dit ook verpligtend. Om sosio-ekonomiese redes natuurlik, soos die skrywer dit ook duidelik stel. Ek wens dat dié onmenslike debat onmiddelik in die kiem gesmoor word, maar genadedood aktiviste het dit juis ten doel om die bevolking gewoond te maak aan die idee dat moord regverdigbaar is. Dit is ook ongelukkig ‘n onvermydelike deel van die donker toekoms wat ons in die gesig staar. Ek vind dit interessant dat die woord “heilig” gebruik word om gelowiges se siening te manupileer en op hul sentimente te speel. ‘n Uiters gevaarlike stuk aktivisme.

elize naude ·

as in mens “begeer om aan sy lewe ‘n einde te maak, dan vind ek moet hy/sy dit self doen of op vrywillige basis vir diegene wat hulp verleen… dit is net so oneties van n persoon te verwag wat teen genade dood is, as volstrekker op te tree…

Johann ·

Ek stem glad nie met Dr Breytenbach saam nie. As gelowige Christen glo ek dat die lewe altyd heilig sal bly. Dit is tog wat God se Woord ons leer. Ek sal by daardie beginsel bly. Ek is ‘n alleenloper man en versorg nog steeds my Moeder wat binnekort 92 word alleen. Die inkomste is nie altyd na wense nie, maar met Sy genade kom ons reg. Al is daar meningsverskille en ‘n groot ouderdomsverskil, ag ek dit my plig om so lank moontlik te doen wat ek kan. Nee Dr, ons moet altyd die lewe respekteer en by ons beginsels hou, al is dit soms moeilik. Respekteer God se Woord en sien lewe in ‘n nuwe perspektief.

Karel Sieta ·

Dis ‘n uitstekende artikel Dr. – ek kon nog nooit verstaan dat bv. ‘n ou mens in pyn en ellende moet wees met geen vooruitsig van enige verbertering tov sy medies toestand en dan moet ly net omdat daar nog steeds mense in hierdie nonsens glo dat jou reg om te lewe nie jou eie is nie. Dankie MM vir die plasing van hierdie artikel – dit skep so bietjie balans want ons almal dink tog nie dieselfde oor godsdiens nie.

Pieta ·

Goed gestel.
Ons sê ook dankie vir MM en wil graag bevestig wat Karel uitwys – dat ons nie almal dieselfde oortuiginge oor godsdiens deel nie.

Johan ·

“Liewer laat as nooit”. Graag sal ek net n regstelling wil maak, mense moet asb die betekenis van woorde ondersoek alvoorens hulle stellings maak. Die woord heilig beteken afgesonderd, om heilig te wees is dan ook niks anders as om afgesonder te wees nie. Kom nou u is sekerlik geletterd Dr.

Breytie Breytenbach ·

Johan, die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal gee tien verklarings van die woord “heilig” as byvoeglike naamwoord en “om afgesonder te wees” is nie een daarvan nie. Ek gebruik in my brief nommer 2(a): “Aan god of ‘n godheid gewy.”

Chris ·

As ek n oumens sien dink aan lank gelede. Ek sien dan n klein dogterjie of seuntjie wat speel. Geen bekommernisse vir die dag van more. Ouers. Familie wat hulle liefhet. Wat hulle vashou en drukkies mildelik gee. Tyd stap aan. Dan word hulle oud. Hulle vriende gaan dood. Hulle kinders sterf moontlik voor hulle. Hulle kleinkinders is in baie gevalle hard besig om die lewe te geniet of om die pot aan die kook te hou. Min gepla dat hierdie n bose kringloop geword het in ons samelewing. Oumas en oupas wat toe dit goed gegaan het. Net sekere kleinkinders “geken” het. Die oulikes en slimmes. Ons het een van die belangrikste gebooie van God vergeet. Ons moet ons naaste liefhe soos ons self.
Dit moet eerstens gebeur in ons eie huise. N gesindheid wat by elkeen van ons gekweek moet word van kleins af.

Sumari ·

Ek ken familie van my man wat hulle ma in ‘n huis gesit het. Hulle betaal wel alles, maar hulle gaan nooit kuier by haar nie, want hulle is nou hierdie hoog heilige mense so hulle dink om net geld te betaal maak alles reg. Geld kan bokkerol koop. Hulle is altyd te besig om na haar te gaan, maar nou ja hulle is gesiene mense in George so mens kan niks van hulle sê nie.

Ebert Terblanche ·

Hoe verhoed ons dat die sogenaamde ‘reg om te sterf’ verander na ‘n ‘plig om te sterf’?

Voorstaanders van ondersteunde selfmoord gee altyd voor dat daar genoegsame beskermingsmaatreëls in plek gestel kan word om te voorkom dat mense wat nie andersins selfmoord sou oorweeg nie, gedwing word om selfmoord te aanvaar (deur druk vanaf familie, dokters of mediese fondse in wie se belang dit moontlik mag wees om die persoon te sien sterf).

Tog wys slegs ‘n oorsigtelike ondersoek na die statistiek oor ondersteunde selfmoord in plekke soos Nederland, België en dele van die VSA waar hierdie praktyk gewettig is, dat die beskermingsmaatreëls vining verwaarloos word en die aantal ondersteunde selfmoorde na enkele jare eksponensieël begin toeneem.

‘n Onlangse studie in België het gevind dat soveel as 32% van gevalle waar ondersteunde selfmoord toegedien is, daar nie bewyse was dat eksplisiete toestemming deur die pasiënt gegee is voordat die dood toegedien is nie. Hoewel verpleegsters nie wettiglik die dood daar mag toedien nie, doen hulle dit tog en is daar tot 45% van die gevalle waar verpleegsters die dood toegedien het, nie bewyse van eksplisiete instemming deur die pasiënt nie.

Daar is ook aanduidings dat mense weens ekonomiese redes gedwing voel of selfs gedwing kan word om ondersteunde selfmoord te versoek. Gedurende 2009 het ‘n egpaar in Oregon, ‘n deelstaat van die VSA waar ondersteunde selfmoord wettig is, waarvan die vrou longkanker en die man prostaatkanker gehad het, ‘n brief van hul mediese fonds ontvang wat aangedui het dat hulle nie bereid is om chemoterapie te befonds nie, maar wel bereid is om vir die paartjie se ondersteunde selfmoord te betaal.

Wat verder meer skokkend is, is die gebrek aan vervolging waar sulke praktyke plaasvind. Een van die belangrikste probleme is dat die slagoffer dood is en dus nie ‘n klag kan lê of getuinenis kan lewer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.