Liefde ál kuur vir Suid-Afrika se bitter hart

uniegebou-studente1

Studente se betogings voor die Uniegebou in Pretoria in 2015. Foto: Twitter

Deur Dano Taljaard

My mede-Suid-Afrikaners

Kom ek stel my aan julle bekend. Ek is ’n jong student in hierdie land en my hart bloei vir Suid-Afrika. Miskien bereik ek een persoon, maar dalk tog duisende.

Nietemin, ek móét dit net doodeenvoudig sê.

’n Week gelede was ek baie negatief oor hoe dinge tans in Suid-Afrika lyk. Ek het nogal diep besin oor of dit werklik die moeite werd is om in hierdie land aan te bly en my lewe as jong mens hier te begin.

Ek het myself afgevra: “Hoe het ons hier uitgekom?” Hoe kan ons so min vir mekaar omgee dat ons mekaar verskree, aanval, mekaar se menslikheid vernietig en alles moontlik van ’n ander persoon afvat wat dalk ’n bedreiging vir ons inhou?

Ons het ons vermoë verloor om menslik te wees; ons het ons waardigheid verloor; en, heel belangrikste van alles, ons het die liefde vir mekaar, waarvoor miljoene mense geveg het, verloor. Ons het dit verloor, en ons stap nie op die regte pad om dit weer terug te kry nie. Dit is die hartseeer werklikheid van Suid-Afrika vandag. Fisiek leef ons almal, maar in werklikheid is ons dood. Ons loop soos lyke rond in hierdie land; dit is wat van Suid-Afrika geword het.

Ek skryf nie hierdie brief om my politieke opvattings te verwoord of die politici te kritiseer nie. Ek glo vas dat ons, as Suid-Afrikaners, genoeg gehad het van politiek, ons weet alles wat ons moet weet.

So, ek raak nie vandag by daardie gesprek betrokke nie.

Ons, die mense van hierdie land, is die polsende hart wat lewenskragtige bloed deur elke enkele stukkie van hierdie land pomp. Niks kan oorleef sonder ’n hart nie. Neem die hart weg, en dit is ook die einde van lewe.

Ons het ’n baie ongelukkige verlede, maar ek glo vas die apartheid-hoofstuk is nou agter ons en ons moet ophou daarmee om dit alewig op te haal. Ja, die uitwerking van apartheid is steeds sigbaar, en ons durf dit nie ignoreer nie – dit sou wees soos om ’n boek net vir die prente te koop, en nie vir die inhoud, die woorde, nie. So, kom ons skei uit daarmee om die skuld vir al ons huidige probleme op apartheid te pak. Hiermee sê ek allermins ons moenie daardie probleme wat juis aan apartheid te wyte is voor apartheid se deur lê nie. Natuurlik moet ons! Geen Suid-Afrikaner kan ’n eerlike, sinvolle lewe lei sonder om die gevolge van hierdie wrede stelsel in die oë te staar nie.

Asseblief, laat ons tog nooit mekaar se waardigheid stroop nie – dis soos om iemand se hart weg te vat. ’n Persoon wat sy waardigheid verloor het, is bloot ’n verlore siel wat sy menslikheid op die wreedste manier denkbaar verloor het, aan die hand van iemand anders wat dit sonder ’n greintjie gewete gegryp het.

Ek is baie trots op die jong mense van hierdie land wat hul stem vind, oftewel opstaan vir iets wat aan hulle belowe is.

Ek moet dit darem ook byvoeg, die manier waarop julle vir jul regte probeer veg, is onmenslik en niks om op trots te wees nie. Julle doen presies wat die apartheidsregering gedoen het: Julle ontneem mense hul waardigheid en gee nie ’n flenter om wat julle doen om dit te bereik nie. Al verskil tussen julle en die apartheidsregering is dat julle vir iets goeds en opbouends veg.

So, gaan asseblief voort om jul regte te beoefen, maar neem tog ander mense ook in ag. Wit, swart, gekleurd, enige ras in hierdie pragtige land, vat hande en werk aan ’n beter Suid-Afrika – dit is die enigste weg.

Ek sien mede-Suid-Afrikaners wat as’t ware verdrink in hul begeerte om gehoor te word. Laat ons mekaar tog nie voos slaan omdat ons regering nie sy beloftes nakom nie.

Ons is almal dieselfde, presies dieselfde! Ons moet dit begin glo, want as ons dit nie doen nie, sal ons almal vergeefs sterf – ons is reeds vinnig op pad daarheen. Ek het julle lief, nou en altyd, julle is my broers en susters.

Liefde is die geneesmiddel!

Uit die pen (en hart) van ’n besorgde, sielsongelukkige lid van Suid-Afrika se jeug.

  • Hierdie is ‘n verkorte en vertaalde weergawe van Dano se artikel op sy persoonlike webjoernaal. Lees die volledige artikel hier.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hannelie ·

Dano ek is baie trots op jou!! Dit is goed gestel. Dit maak mens net meer ongelukkig as mens sien die jeug ly ook onder die kamstige “apartheidsera” wat na 1994 veronderstel is om reggestel te wees. Maar sommige mense klou soos magneet aan die “ek is te na gekom deur blankes” stigma.
Ek voel of ek net vir hulle wat nog agtergeblewenes wil sê: “Bou ‘n brug en kom daaroor”.

Dano ·

Baie dankie Hannelie, ek waardeer kommentaar, Liefde wen altyd!

tamboti ·

Liewe Dano, ek lees jou ek hoor jou standpunt.
My standpunt (soos baie ander) is soos volg: Parasiete teer op ander, en hul liefde. Liefde bring nie orde en vooruitgang nie, daarvoor het jy reels en wette nodig.
Maar liefde vir ‘n gemeenskaplike saak sal ons bymekaar bring – wat is die hele bevolking in SA se gemeenskaplike saak? Ons het nie en dis die probleem , ons is te divers en te ver van mekaar verdryf deur presies die teorie dat ons almal eenders is. Jy wil vorentoe gaan en almal versoen, maar die meerderheid wil alles vir hulself he en verteer, kyk maar na die wegdryf van Afrikaans by Universiteite. Hulle wil jou nie kans gee solank jy wit en Afrikaans is nie, jy sal dit moet prysgee.
Laastens: Apartheid was nie wreed nie, daar het wel wreedhede voorgekom, net soos vandag. Maar in der waarheid is apartheid gebasseer op selfbeskikking wat enige volk wat homself liefhet (en ander ook) se hoogste doel en strewe is.

John ·

Hoor hier broe, ek wil nou nie jou donderweer steel nie, maar sjoe, wanneer het jy op die’ planeet aangeland? Ons is almal presies dieselfde. Nee, ons is almal verskillend: Verskillende geslagte, rasse, volke, verskillende talente, godsdienstige groepe ens, ens. Nie eers gesinne is sonder vetes nie, Het jy al gehoor van egskeidings; dis nou waar 2 mense ewige liefde aan mekaar beloof voor getuies en hul handtekeninge daarby sit. Sal ons almal te vergeefs sterf. Aai tog. Iemand het reeds vir ons sondes gesterf, Christus. Hy het niks verkeerd gedoen nie en sy eie mense wou hom dood he. Ons moet juis mekaar se verskile akkomodeer en aanvaar. Die speletjie van rassisme is juis daarop gerig om hierdie basiese konsep van verskille te troef.

Hermien ·

Dano dit is met trane in my oe dat ek hier lees maar ook met trots. Ek hoor elke woord wat jy se en glo met alles In my dat Liefde die begin en einde is.

Danie Kok ·

Dano,
Jy is ‘n ietwat naïewe humanis. Hoeveel onse is in jou pond? John het jou nogal skitterend opgesom…

Sarie ·

Dano, jy maak ons harte trots! Bly altyd so beginsel vas, jy sal die hoogste leer klim!

Dano ·

Baie dankie vir jou kommentaar Sarie, ek glo vas dat nes ek en jy, wil almal maar net eenvoudig he dat Suid Afrika heel moet word, baie dankie dat u my ondersteun :)

Dup du Plessis ·

……Dano, as dit maar so eenvoudig was. Hoekom dink jy is die hele wereld afgeskort in duisende verskillende lande?…selfs van die eerste opgetekende geskiedenis in die Bybel. Dink jy dit is maar per toeval? Die geheim is egter om mekaar te respekteer, mekaar se ruimtes en sonskyn te gun. Wat van Afrikaners se swaarkry en vertrapping en armmoede a.g.v. Engelse beleid…..wat baie,baie erger as apartheid was…..het hulle aanbeweeg of daarby vasgehaak soos nou die geval met apartheid is?

Shannon ·

Ai hoe pragtig. Dano, kom ek gee jou advies om jou diepe bepynsing te spaar. Oor jou wroeging of jy moet bly of gly, my vriend, as jy nie kan sien dat jou land in `n hool vernader het nie dan is dit dalk nie in jou hart waar jy moet soek na `n oplossing nie maar in jou logika.

tamboti ·

Dano, jy’s dapper! Ek respekteer jou daarvoor.
Die idee wat jy het, het reeds 21 jaar gelede in werking getree en dit loop skeef, nie omdat daar rassisme(apartheid) is nie, maar omdat dit nie reg hanteer word nie.
Die groter ideaal waarvoor alle SAners eintlik moet streef is om die land op te bou, nie af te breek nie.
Nie menseregte, valse beloftes, stryd, optogte, uitsprake, toi-toi, vandalisme of intimidasie sal dit voortbring nie maar:
Harde eerlike werk, saamwerk, vergifnis, respek en trots, nederigheid, STILLE opoffering, nugtere denke, realistiese verwagtinge en hope raad van ervare kundiges.
Sterkte in die grootmens wereld.

Dano ·

Baie dankie vir jou opbouende kommentaar, ek waardeer dit opreg :)

Willem Grobler ·

Probeer gerus propageer dat jy jou eie mense lief het en kyk wat gebeur! Solank jy predik dat ons almal moet lief hê is dit aanvaarbaar maar laat ek as Afrikaner nou aandring dat my ou alma maters (RAU en Kovsies) Afrikaans bly omdat ek my taal en mense liefhet dan kyk jy wat gebeur…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.