Lesersbrief: Liewe Boer …

Anneke Blignaut van Pretoria skryf:

Foto: André Steenkamp

Liewe Boer,

Ek het amper my matriek in 1993 gedop, so ‘n A-simbool was my amper nooit, ooit beskore nie.

Behalwe een wat ek gekry het vir ’n opstel wat ek geskryf het oor die droogte.  Ek kan nie onthou of dit ’n onderwerp was wat ek self gekies het en of dit vir ons gekies was nie. Die streek het toevallig gebuk gegaan onder ’n erge droogte daardie jare, 1988-1990 se koers in die Oos-Kaap.

Pa het deeltyds geboer op ’n lappie grond so 15 km buite die dorp. Daar is baie wat ek kan onthou van dié droogte.

Die swart verbrande bossies wat sommer stof raak as jy daarop trap. Die bokke wat doelloos rondsnuffel tussen die klippe en grond vir ’n moontlike iets.

Elke bruikbare skaduwee kolletjie was vol bokke. Het daar ingeryg gelê soos op ’n sosatiestokkie, styf teen mekaar om elke skadukolletjie te benut, hygend, amper in ’n staat van hibernasie, om die fel son te oorleef. Die ooie wat een-een hul lammers afgooi omdat hulle weet die veld kan nie hulle en haar bokkind dra nie.

Die koedoes wat uitgedroog oor die drade hang – iewers tussen diékant en daaikant van die draad het die krag ingegee.

Maar daar is een ding wat ek die helderste onthou, en dit is die verskillende soorte geblêr van die bokke. Soos babas se gehuil, het ook húlle geblêr betekenis.

Daar is die staan-op-hok-geblêr wat eintlik net beteken: maak die hek oop, want ons wil uitgaan.

Dan is daar die hanslammers se honger geblêr wat eintlik net beteken: maak vinnig mens, ek is honger en ongeduldig.

En dan die geblêr wat my sal bybly tot die dag wat ek dooi.  Dié geblêr wat sny deur jou hele lyf, wat jou wurg aan jou strot en wat jou maag vasgryp met sy ysige kloue en jou laat voel jy versmoor.

Die dank-Vader-hier-kom-die-kos-geblêr, die kan-julle-nie-agterkom-ons-vrek-nie-geblêr, die hoekom-doen-julle-so-min-geblêr…

Dis wanneer die bokke pa se ISUZU KB 100 se gedreun hoor, dat hulle met dié geblêr aangestorm kom, flappende ore, breë glimlagte om die nou monde, want dan weet hulle, hier kom ’n bietjie mielies.

Liewe boer, dit gaan ’n groot leuen wees om voor te gee ek weet waardeur julle gaan.

Dis jy wat elke liewe dag moet stoei met vrees, angs, hooploosheid en slaaploosheid. Dis jy wat jou getroue, jare lange werkers moet aflê. Dis jy wat moet aanhou asemhaal en moed uitkrap uit jou diepste binneste om dieselfde uitdagings elke liewe dag aan te pak.

Vir jou, boer, gee ek vandag ‘n A-simbool. Vir jou haal ek my hoed af, lig hom hoog en knik my kop effens na regs uit eerbied en respek.

Seëngroete, van ’n wannabe-plaasmeisie wat lewe in die stad.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Amelia Steenkamp ·

My trane loop.Ek bid…Here wees genadig en stuur die reen.Vergewe ons omdat ons ongeduldig raak want verseker,op U regte tyd sal die reen val.Amen!

Naomie ·

Goeie skrywe. Ons sal aanhou Sy Naam aanroep vir reën. Here asseblief maak die skatkamers met water oop oor die veld wat dier en mens versmoor van die droogte. Totaal en al afhanklik van U reën. Laat dit reën In Jesus Naam. Amen Amen Amen Die boere het U nodig! Nòù

Ansie ·

Ek bid elke dag huilend en smek die Here vir uitkoms vir mens en dier. Hoekom roep die regering nie soos vroere jare weer ‘n biddag vir reen uit waar alle besighede vir ‘n uur sluit en almal na ‘n plek van aanbidding gaan om the bid nie.

Weskusnooi ·

Ansie, ek hoor jou hart en stem saam.

Ongelukkig is dit mense wat die God Drie-Enig ken of Wil ken nie, daarom sal hulle dit nie doen nie. Hulle ondersteun nie eers die boere met droogtehulp nie, hulle help ook nie plaasmoorde keer nie.

So nee my liewe mens, ek voel elke dorp moet self ‘n biddag uitroep en nie net bid nie, vas ook!

Ek weet nie, maar dis ‘n vloek van ‘n droogte wat net nie gebreek wil word nie lyk dit my?

Laat ons aanhou en bly bid en waak en dankbaar wees wanneer die reën spoedig kom!

John ·

… nee tog asb nie, want die toordokters sal weer die voordansters wil wees, teen betaling, en ander vreemde groepe wat die probleem sal vererger.

ChrisE ·

Ek het as jong kind op ‘n plaas in die verre noorde van destydse Natal grootgeword. Ek kan my nie indink waardeur die hedendaagse boere moet deurgaan, ervaar, beleef en beveg nie. Daardie jare was dit nog ‘n beroep waar jy relatief veilig op jou plaas was. Die regering was jou goedgesind, die bevolking was jou goedgesind en die weer en elemente ook. Ek kry elke keer ‘n kramp op die ingewande en beklemming om my hart as ek die vee so sien swaarkry. Die mense op die plaas kan vlug, maar die arme diere nie. Ek bid dat daar uitkoms sal wees wat ek verseker weet is op pad. Die Here se oor is nie so doof om nie te hoor nie en sy arm nie te kort om te help nie. Ons moet onsself verootmoedig en smeek vir vergifnis. Hy sal uitkoms bring.

Bianka ·

Wat my de vieste in maak is as mense kla oor reën, want dit meng in met wat ook al hulle beplan het of skade wat reën veroorsaak. Dan wonder ek of mense besef dat vloedskade en droogteskade hemelsbreed verskil van mekaar. Droogteskade kring wyer uit, wêreldwyd, want hulp moet van ander lande kom as dit kritiek raak. Droogteskade vat jare voor omgewing weer herstel, vat jare voor Boere weer wins kan wys. Die son brand letterlik die lewe uit alles uit. Mense, plante en diere kry swaar onder son en droogte, so jy, ja jy Mnr en Mev wat so kla oor reën, sê eerder dankie liewe Here vir U genade. Gaan staan in die reën, strek jou arms op na die Hemele toe en sê DANKIE. Jy weet nooit of dit jou laaste reëntjie gaan wees wat jy kan geniet en waardeer nie. Kom in voeling met die natuur, dan sal julle ook plant en dier se stress kan aanvoel as die son genadeloos elke laaste bietjie energie uittap. As jy so warm kry…dink bietjie aan hoe plante en diere voel. Hou op kla oor reën asseblief mense!!

Maria ·

Jip ek ook op plaas groot geword in die droë dele van land en ken die bekommernis en sente omdraai van droogte. Maar ons was darem nooit honger nie al was daar geen luukses of nuwe mooi klere en vakansies nie. Arme diere was maer en honger en Pa moes hul aan die lewe gehou met mielies wat hy nie eintlik kon bekostig nie. As dit uiteindelik gereën het en daar weer geld ingekom het uit die boerdery is dit bank toe, om skuld te delg en ‘n neseiertjie vir die volgende droogte weg te sit. Vasgevang in n ewige kringloop.

Sarel ·

Dankie skrywer. 2015 survivor en steeds hierdie kant van die lewe. …. Wanneer droogte en lewe slaags raak. Dit is soos dit is.
Dankie

Jeanne Hugo ·

Uit die hart gespreek. Hierdie “wannabee plaasmeisie” het hoendervleis in my lugverkoelde kantoor in die stad….maar my gedagtes bly heeltyd by elke boer se stryd wat jy so perfek verwoord het……ONS SAL NOOIT OPHOU BID EN GLO VIR REEN vir al die boere veral in Noord-Kaap, FS en Oos-Kaap wat my so na aan die hart lê…. wens ek kon elke wolk oopbreek as ek so na buite kyk…

Isabel ·

So onsettend hartseer…. die trane loop vrylik oor my wange. Mag ons almal aanhou bid dat die Here gou n uitkoms sal gee. Boere, dankie vir alles wat julle opoffer, van menswees kan ons in die stad baie by julle leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.