Links en slinks

Johan Smit van Bellville skryf:

Hoërskool D.F. Malan. (Foto: Facebook)

Uitnemendheid in ons midde word dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Die Hoërskool DF Malan in Bellville is dalk so ’n voorbeeld. ’n Makroskool met soveel fisiese en organisatoriese kapasiteit vanaf akademie tot sport en kultuur. Die fondament van die skool se sukses is egter die kultuur en waardes wat neerslag vind in hoe onderrig by die skool plaasvind. Meriete, aanspreeklikheid, hardwerkendheid, eerlikheid, integriteit, lojaliteit, respek en dissipline beskryf net die oortjies van hierdie spreekwoordelike seekoei wat aanleiding gee tot baie persoonlike opoffering deur leerders en personeel.

Die noodwendige geleenthede en sukses wat volg maak die instelling wêreldklas, haas onvervangbaar en amper onmoontlik om weer van voor af op te bou.

Ironies genoeg is dit juis om hierdie rede dat die skool en ander tradisionele of behoudende instellings geteiken word. Die doel van hierdie aanslag is kompleks, maar kan gereduseer word tot ’n linkse sekulêre ideologie wat ’n probleem het met uitprestasie en die gevolglike “ongelykheid” wat dit meebring.

Om uitvoering te gee aan die aanslag teen tradisionele instellings word ’n fyn beplande en misleidende strategie, wat meesal onder die dekmantel van menseregte gevoer word, gevolg. Alhoewel vernuwing en inklusiwiteit voorgehou word as doelwitte, is die uiteindelike uitkoms die verskraling van die regte van behoudende groepe en die vervanging van die kultuur van die instelling.

Die doel is dus nie ’n verbreding van die kultuur om ook vir ander sienswyses en waardes voorsiening te maak nie, maar die stilmaak van behoudende stemme sodat die instelling as’t ware oorgeneem kan word. Dit kan beteken dat die waardedraers van die huidige kultuur vervang of gedomineer moet word met getalle. Hier kom leerders van ander rasse en gemeenskappe soms handig te pas.

Die uiteindelike gevolg is uitsluiting en diskriminasie en die geleidelike verval van die instelling totdat dit net ’n skaduwee is van die eens roemryke instelling wat dit was; dus, presies die teenoorgestelde as wat aanvanklik beloof is. Alhoewel dit onsinnig klink, is dit die manier waarop die linkse agenda van gelykheid bewerkstellig word en rassisme (lees: uitprestasie of “systemic racism”) beveg word.

Die proses verloop soos volg. Die eerste stap is om die instelling te identifiseer wat geteiken sal word. Die keuse van die eerste instelling is gewoonlik belangrik, want die einddoel is om momentum te skep om soortgelyke instellings soos domino’s te laat val.

Die volgende stap is om ’n groep te identifiseer wat as onskuldige slagoffers uitgebeeld kan word. Ten einde voorgaande beeld te versterk, is aktivistiese optrede nodig wat ’n reaksie uitlok, wat dan voorgehou kan word as die oorsprong van die probleem, terwyl die oorspronklike uitlokkende optrede van die antagoniseerder geïgnoreer of gereduseer word.

Die volgende stap is om die instelling en bestuur op morele gronde aan te val en uit te kryt as diskriminerend, rassisties, homofobies, outoritêr, ensovoorts. Goed bedoelende besluitnemers is gewoonlik totaal onbewus van die agenda en heeltemal verras deur die felheid van die kritiek en dus geneig om te dink dat dit geregverdig is.

Daarna word platforms wat reeds getransformeer of oorgeneem is deur linkse ideologie (soos die media) gebruik om openbare opinie te beïnvloed en druk op die instellings uit te oefen om toe te gee of om verskoning te vra. Beriggewing is dus eensydig en net die een kant van die saak word gestel, terwyl empatie gewek word vir die slagoffers. Op dié manier word die emosie, wat uiteindelik die oorhand sal kry oor beginsels en die huidige getoetste waardes, gemobiliseer.

’n Volgende stap is om besluitnemers te probeer intimideer met regsaksie of die moontlikheid van verlies aan inkomste. Onder hierdie druk swig besluitnemers gewoonlik omdat hulle onervare is en nie besef waarmee hulle gekonfronteer word nie. ’n Gebrek aan sterk leierskap kan ook aanleiding gee tot tweespalt en druk van binne en van bo om toe te gee aan eise.

Die volgende belangrike stap in die proses is wanneer die bestuur begin om terug te krabbel en om verskoning te vra. Hulle vra as’t ware om verskoning vir onbedoelde aanstoot in ’n poging om redelik te wees. Só plaas hulle hulself egter op die agtervoet en word die tafel gedek vir die uitrol van ’n nuwe beleid wat aanvanklik gevier word as verlig en voordelig, maar baie gou lei tot ontnugtering en ’n uittog van behoudendes.

Dan is dit net ’n kwessie van tyd voor die instelling openlik vyandig en diskriminerend optree teenoor die oorspronklike kultuur en gemeenskap. Dit versnel die uittog van waardedraers en behoudendes sowel as die onttrekking van kritiese stemme.

Saam met al die voorgaande kom dan die druk om te konformeer en die nuwe ideologie aan boord te neem met die uiteindelike doel om die hele gemeenskap te konformeer of ten minste stil te maak.

Afhangend van hoe ingelig u is, kan u self die oordeel fel oor waar DF Malan hom nou in bogenoemde proses bevind.

Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat toegewings nie gaan lei tot verslapping van die aanslag nie, maar eerder die teendeel. Uit persoonlike ondervinding kan ek wel vir u sê dat besluitnemers se bedoelings en integriteit van uiters hoë standaarde getuig.

Net tyd sal egter leer of hulle uitgeslape en opgewasse is om staande te bly teen die aanslag.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Baie goeie indrukwekkende artikel. Dankie

Samuel

Uitstekende kommentaar, Johan Smit. Dit is so jammer dat die trotse skool nou om verkeerde redes in die nuus is.

Skoppensboer

Hou op om heeltyd die ander wang te draai. Ja, die Bybel vereis dit, maar soms moet n mens dit maar ignoreer.

M-woord

Net so Johan. Wereldwyd verval die mensdom in ellende. Die Christen moet gedurig jammer se en die Christen moef sy waardes laat gaan om plek te maak vir die “siek waardes” van ander onder die vaandel van menseregte! Waar is die predikante, dominees, pastore en ander Christen leiers? Hoekom so stil terwyl die wereld om ons vergaan? Kyk maar wat gebeur in Amerika tans. Ons bid en pleit elke dag tot God vir hulp, maar wat doen JY om God se naam uit te dra en op te staan vir Hom?

Johan

In hierdie geval het die beheerliggaamvoorsitter sommer by ‘n latere stap begin, op sy rug geval en dadelik omverskoning gevra (vir wie weet wat). Let op dat dat die organiseerder(s) nie omverskoning gevra het dat hulle nie toestemming gehad het om die oproer te hou nie.