Ma van twee sê: ‘geniet die lewe!’

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Omtrent ʼn week gelede het ʼn student, A de Jonge, ʼn brief aan Maroela Media geskryf, eintlik ʼn brief aan volwassenes wat die lewe nou mooi onder die knie het. In haar brief vra sy, of jy as volwassene, as jy kon teruggaan in tyd, ander besluite sou neem? Sy meen dat die lewe vol boksies is wat “afgemerk” moet word. Graad-afgemerk, goeie werk-afgemerk, man-afgemerk, 2,4 kinders-afgemerk. Wat sy eintlik vra, is of dit die moeite werd is om al hierdie boksie af te merk. Is hierdie die régte manier van lewe? Lees haar volledige brief hier.

Maroela Media het (namens A de Jonge) by verskeie mense gaan antwoorde soek en hier is Annabelle Lombard (38) ma van twee, se antwoord:

Liewe A De Jonge,
Dame, jy vra al die regte vrae en is krities genoeg om jou eie brief te beantwoord, maar ek dink jy sal dit geniet om ‘n paar amateur-grootmense se menings te hoor. Ek sê amateur, want oor 15 of 45 jaar skryf ek dalk vir jou ‘n splinternuwe brief!

Vandag wil ek sê sit terug en geniet die lewe. Ek is 38 en lewe in die droom. Die meeste van my boksies is afgemerk: graad, mooi huis, tuin, labrador, Europa, 2 seuntjies, ‘n vervullende werk met gemaklike ure van die huis af, die beste man en mooiste vriendinne.

Is ek gekwalifiseer om jou te help om jou keuses te maak? Gladnie, want ons paadjies lyk elkeen anders. Jy klink vir my na ‘n georganiseerde beplanner wat selfs die dromer in jou tem om jou doelwitte te bereik. Ek is ook so – inteendeel, ek verstaan dis ‘n kwaal by die gemiddelde Westerse vrou, saam met kommerwekkende statistieke oor miskrame, depressie en uitbranding.

Ons hou daarvan om die maksimum uit die lewe te kry en die minimum risiko’s te loop. Ons doen navorsing op die internet oor alles sodat ons kan uitblink, ons lewens beveilig, vergemaklik en mooi maak. Ons loop wye draaie rondom goeters wat ons geluk kan steel of ons perfekte prentjie kan skaad. Maar dan gebeur die lewe. Vir my was dit laas jaar borskanker en ‘n galblaas!

My lewe lank sou ek swoeg om te verhoed dat die paw paw die fan tref, maar toe dit wel gebeur, kon ek ontdek dat ek steeds ek is. Die byproduk van lyding is versnelde wysheid en intense waardering van die lewe – so vandaar die moed om hierdie dinge vir jou te skryf: Ek dink die belangrikste vraag wat ‘n jong meisie moet vra is wat maak my gelukkig en hoekom?

As jy die bron van geluk regdeur jou lewe buite jouself gaan soek, gaan jy regtig teleurgesteld wees in die lewe. Ek weet nou ander mense se menings oor my tel baie min, welstand is net goed as jy tyd het om dit te geniet en ‘n goeie mediese fonds is ononderhandelbaar.

Geluk is in eenvoud en oningewikkeld. Geluk is ‘n keuse – nie ‘n doelwit of ‘n bestemming nie. As jy nou al kan leer om te geniet wat jy het en waar jy is, gaan jy nie soos ‘n hamster in ‘n wiel voel nie. Jaag jou eie geluk na met passie en vergeet van die groter prentjie.

Oor jou vraag of ek dit anders sou doen – “Hindsight is 20/20 vision”. Ek glo egter ek sal gelukkig en tevrede kon wees waar ek ook al is, want ek weet nou ek het die innerlike krag, kreatiwiteit en geloof om alles te kan hanteer. Daar is nie eintlik iets soos verkeerde keuses nie, want as jy gelowig is, is selfs jou swak oordeel deel van Sy plan. Of jy links of regs gaan, kan jy die pad geniet, herinneringe en lewenservaring kry en as jy buigbaar en geduldig bly, is daar altyd tyd vir oordoen, derde en vierde kanse.

‘n Mens is eintlik ‘n ongelooflik aanpasbare wese met ‘n geweldige potensiaal om lief te kry en intense vreugde te ervaar. Ek het ook agtergekom jy kry heeltyd nuwe boksies by om af te merk, want gelukkige, gesonde mense groei heeltyd, is nuuskierig en die wêreld word vir hulle ‘n avontuur wat ontdek moet word.

Moet nooit ophou om aan jouself te werk nie, bly kinderlik en soek na alles in die lewe wat vir jou mooi, betekenisvol en lekker is. ‘n Vrou gaan deur soveel seisoene in haar lewe, jou selfontdekking is nooit afgehandel nie. Spandeer meer tyd aan die bou van jou eie selfbeeld, karakter, talente en goeie verhoudings as aan jou klerekas en beeld na buite.

Volg jou eie energie. Leer nou al om nee te sê en oor niks skuldig te voel nie. Verwelkom nuwe mense en dinge ver buite jou gemaksone. Gooi jou vooropgestelde idees oor ouerskap, huwelike, godsdiens, gesondheid, fiksheid, ens. weg. Dit is waarskynlik oorgeërf, outyds of verdraai. Wees oop en bly ‘n lewenslange student. Herdefinieer ambisie en sukses vir jouself gereeld en onthou jy hoef nie nou alles uit te werk nie.

Hou jou drome aanpasbaar en weet dat jy nou bloot net ‘die volgende ding’ hoef te doen. Leer vreesloos leef, want 99% van alles wat ons vrees gebeur nooit. Jou vrese staan tussen jou en ‘n vol lewe. Maak jou oë toe en spring! Die lewe is kort, onvoorspelbaar maar kosbaar en mooi saam met die regte mense.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Corneli ·

Amen, amen… Jy praat my hart se taal, jy self is nog so jonk maar reeds wys en weet van ware geluk vind, ongeag! Welgedaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.