Mag ons nie nét bid nie…

droogte

Foto: Daeron/Pixabay.com

Louise Botha* skryf:

Ek kyk na foto’s van droogte op sekere groepe op sosiale media.  Dan lees ek mense se kommentaar daarop: “sterkte, ons dink aan julle”, “ons sal vir julle bid”, “lees hierdie Bybelvers”.  Dis pragtig, regtig dit is.  Maar tog kan ek nie help om te wonder is dit al wat ons kan doen nie?

Het jy al in die veld gery en die lammers, wat jy en jou kinders elke dag gevoer het omdat hulle nie genoeg melk by hul ma gekry nie, is maer, uitgeteer en gaan heel moontlik nie die volgende sonsopkoms sien nie?  Het jy al ʼn dier moes skiet wat ly, uitgeteer van honger, wat na jou toe aangekruip kom met ʼn smeking in sy oë en weet daar is niks maar niks om hierdie dier te gee om te vreet nie, niks?  Het jy in sy oë gekyk en die pyn gesien en so hard gehuil en gesmeek by die Here en gesien hoe jou trane val op die grond en dan gesien hoe die grond daardie druppels opslurp?  Het jy al gekyk na jou plaaswerkers en geweet hulle het jare lank saam jou hard gewerk en hul toekoms is net so onseker soos joune, hulle wie se sweetdruppels ook geploeg lê tussen hierdie dor lande?

Het jy van jou diere eintlik moes weggee net omdat jy wil nie hê hulle moet langer vrek van die honger nie?  Terwyl jyself geen kos in die huis het nie, vir wie gee jy kos, jou diere of jou kinders?  Het jy al voor ʼn koskas gestaan en geweet môre is daar nie kos in die huis nie?  Het jy al die balju in die oë gekyk en geweet dat tussen hom en ʼn paar ure is jy ʼn paar besittings kwyt, waarvoor jy so hard gewerk het?  Het jy al jou bankbestuurder in die oë gekyk en net gehuil, want jy self weet nie wat om verder meer te verduidelik nie?

Het jy al ʼn oproep gekry en moes aanhoor dat ʼn boer in jou distrik, wat nie meer langer kon aangaan met die droogte wat elke bietjie laaste hoop uit jou siel tap nie, sy eie lewe geneem het?  Het jy? Het jy sy vrou en kinders op sy begrafnis gesien en gedink “Here wat sê mens vir hulle?”.  Het jy al woordeloos voor ʼn dor veld gestaan waar nie eens meer ʼn bossie groei nie, waar tussen die blou wolklose lug en die dor grond, alle lewe weggekwyn het?  Dis woestyn, Here, dis woestyn?!  Wat bid mens?  Hoe bid mens, jy voel dan leeg, dor, dors, net soos jou lande?

Het jy al ʼn tyd saam mense van Boere in Nood deurgebring?  Gesien daar is 116 boodskappe op haar foon, wat sy probeer om almal te antwoord terwyl sy probeer om vervoer te reël?  Het jy elke dag foto’s van diere wat gevrek het op jou foon gekry, boere wat huil, boere wat smeek, boere wat stukkend is, groot manne wat snik soos hulle huil, het jy?  Weet jy wat om te antwoord vir so ʼn boer terwyl jy weet daar is soveel bale voer wat geskenk is maar dit kan nie na daardie boer vervoer word nie, want daar is nie fondse vir vervoerkostes nie?

Het jy wakker gelê snags en aan hierdie boere, hul gesinne, hul werkers en hul diere gedink? Jy sien foto’s van mense wat skenk en is dankbaar, maatskappye wat vervoer reël en is dankbaar, maar net ʼn rukkie later is daar nog ʼn dier wat vrek, nog ʼn boer wat huil, nog ʼn maag wat leeg is, nog ʼn boer wat moedeloos is.

Nou vra jy, wat moet mens dan antwoord? Ek weet nie wat antwoord mens nie?  “Ek dink aan jou” sit nie kos op die tafel nie? Maar ek wil wel sê dat God ons as mens ʼn hart gegee het, ons het dalk nog nie in daardie mense se skoene gestaan nie.  Maar ons kan help! Hoe?  Ons kan iets doen, ja jy, jy kan!  Versprei die woord, die nood, moenie dat mense vergeet daar is nog steeds droogte in ons liewe Suid-Afrika nie!

Raak betrokke by organisasies wat boere help, soos Boere in Nood.  Gee een van jou luukshede prys in ʼn maand, daardie R300 vir uiteet, of daardie R100 vir ʼn Pizza.  Of selfs daardie R14 vir ʼn gaskoeldrank.  Gaan so min kan help?  Ja dit kan! Dis dalk ʼn druppel aan die emmer, maar baie druppels maak die emmer vol, is dit nie so nie?

Is daar ʼn boer naby jou waar jy sien sy land is dor?  Ry en vat vir hulle ʼn ete, of gaan praat met sy kinders se skoolhoof en hoor of jy ʼn klein bedraggie kan skenk wat kan help skoolgeld betaal.  Maak ʼn groep mense bymekaar en gaan na hom en sy plaaswerkers en gaan bedien hulle, bid vir hulle, vat vir hulle iets lekker saam om te eet, neem vir ʼn paar minute die dor uit hul harte en skenk ʼn bietjie vreugde, al is dit net vir ʼn paar minute.  Wys vir iemand daar is mense wat saam met hulle staan, wys dit, moenie dit net sê nie.  Maak jou kerk, waarvan jy ʼn lidmaat is, bewus van die nood, neem ʼn spesiale kollekte op. Doen ʼn muntlegging by skole.  Maak al jou sente bymekaar en vra al jou vriende en familie ook en betaal dit maandeliks oor.  Die droogte is nog nie verby nie!

Ek weet baie mense is finansieël nie daartoe in staat nie, ek weet die beste wat jy kan doen is gebed.  Ja, gebed verander sake, maar almal weet ook al reën dit dadelik, is die veld nie dadelik groen nie.  Dit reën nie voer nie, dit reën wel hoop, hoop dat dit weer sal reën en weer en weer en weer!

Mag ons nie net bid, maar ook doen!  Mag ons…

 *Dit is ‘n skuilnaam.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Gerd Lourens ·

My hart gaan uit na ons boere – veral met die droogte en plaasmoorde.

MAAR!

Wat van sakemanne wat deur dieselfde pyne gaan???

Sakemanne wat enkelouers in die oê moet kyk en hul laaste salaris betaal, want produkte word goedkoper ingevoer as wat dit plaaslik geproduseer kan word, kontrakte is verloor agv BBBEE, vakbonde wat druk op jou plaas om onproduktiewe werkers se lone/salarisse te verhoog, arbeidswetgewing wat sleg werkers beskerm, ens. ens.

Kinders van sakemanne wat in die buiteland gaan werk, want die AA-teikens het nie plek vir wit seuns en dogters om die korporatiewe leer in hul eie familiebesigheid te klim nie.

NOG NIE EENKEER GEHOOR VAN IEMAND WAT OPSTAAN EN SUKKELENDE SAKEMANNE HELP NIE…

E. M ·

Ek was al lank sonder kos vanweë onstandighede buite my beheer, toe ek hulp gevra het het mense die deure in my gesig toegeslaan. Toe ek baie maer geword het, het die mense geskinder dat ek ‘n eetversteuring het. Toe ek gehuil het omdat my hondjie besig was om te sterf het die mense geskinder dat ek drink is. Toe ek ‘n prokureur op skuld gaan sien het, het hy my ‘n testament laat opstel waarin hy my sake sou behartig as ek sterf. Al daardie mense sit in die kerk. Vra eerder vir God om hulp en vertrou Hom. Mense gee nie om nie.

mien ·

skies, laat my dink: mense vra my ook altyd hoe kry ek dit reg om so maer te bly. Wel, ek kan dan nie eintlik sê dis omdat ek bittermin eet nie; dat ek my kinders eerste laat eet en dan eet wat in hulle borde agterbly nie. Dit gaan sleg met baie van ons. Slegter as wat baie mense dink. Ons sit almal in ons ‘mooi, groot’ huise (op skuld gekoop) met leë kombuiskaste. Die laaste paar rande word gebruik vir petrol om die kinders by die skool af te laai – weet nie of daar vanmiddag geld gaan wees om hulle weer te gaan oplaai nie. Gelukkig kom koop iemand iets, en kan ek weer ry vanmiddag. Ja, ek het ‘n besigheid, ek betaal eerste salarisse en kry self niks. Jammer, mense, sodra julle kontrakte verstryk, gaan julle maar moet gaan, ek kan nie so aanhou nie. Ons moet mekaar help, maar asb verskoon my as ek Sondag niks het vir die kollektebord nie – ek is nie suinig nie. Ek het probeer voorsiening maak vir die maer jare, maar dit hou aan en aan, ek het niks meer oor nie.

John ·

Het die boere al daaraan gedink om van hulle beleggings los te maak en self ‘n slag kos vir hul diere te koop? Het hierdie sukkelende boere al daaraan gedink om nie so baie diere aan te hou nie as hulle sien hulle gaan nie, sonder lenings en aalmoese, vir die diere kan sorg nie (en ons preek vir Afrika)? Het ons boere al daaraan gedink dat hulle eintlik sakemanne is wat moet kan beplan vir ten minste een maer jaar? Is dit nie dalk sonde om so te ‘spog’ oor die droogte op hul plase en mekaar uit moed uit te praat voor die ko-operasie nie? Hoeveel boere het geweier om hul vee goedkoper te verkoop maar eerder te laat vrek? Hoeveel boere het in die afgelope 22 jaar uitgereik na dorpenaars en stedelinge wat op hul kniee was weens afleggings of vir hulle gebid? Hoeveel wit boere het werklose jong wit mans in hul diens geneem? Hoeveel boere dank die Here ooit vir die voorreg om soggens die son te sien opkom oor die wye veld en weet:
Die aarde behoort (eintlik tog) aan die Here en die volheid daarvan?

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek stem saam met E.M. Ekself was nog nie in so ‘n posisie nie maar was betrokke by mense vir wie ek net nie meer kon hulp bybring nie maar toe ek vir ‘n baie gelowige getroue kerkmens vra om my te help het hy eenvoudig gese hy gee vir die kerk. Ek wou weet WIE IS DIE KERK? Die antwoord: Mense van die Skrif.

Koos1 ·

John, ek stem nogal saam met jou, maar die probleem is hier dat as die boere nie produseer nie ly die hele land daar onder. Besigheid mense wat bankrot gaan se inpak is gewoonlik veel laer as wanneer ons droogte het.
Maar in een opsig stem ek baie saam. Wat het die boere vir die afgelope jare vir die gemeenskappe gedoen? Die gevoel wat ek van die artikel gekry het is dat die blankes mekaar moet help, maar help die boere ook as daar volop is of word daar net meer wins gemaak? Die boere wat hulle deel gedoen het, moet deur ons gehelp word!

SARIE VAN HEERDEN ·

JOHN, jy is totaal onkundig oor boere. Ek of my familie boer nie maar hoeveel sakemanne sorg vir ‘n hele gesin wat gratis by hom inwoon? My voorgeslagte het wel geboer maar ons besef nie hoeveel boere vir hul werkers doen nie.

Liza ·

Ek dink almal wat hier ‘n eier te le het, moet in hulle karre klim en gaan kyk hoe lyk dit daar waar die droogte nog nie gebreek is nie. ‘n Boer kan ook net soveel beplanning doen, as die natuur nie saam speel nie kan jy maak net wat jy wil…. Ongelukkig is dit so dat as dit sleg gaan met die boere gaan dit ook sleg in die gemeenskappe waar boerdery die grootste been in die gemeenskap is. Ek het vir jare moes kyk hoe my pa in die lug in staar en daar is nie ‘n wolkie insig nie, dan plant hy steeds sy mielies met die GELOOF dat die Here sal voorsien…. Ek is ongelukkig ook nie in staat om by te dra nie, sukkel maar self om die mas elke maand op te kom, en dank die Here elke dag dat ek ‘n vaste inkomste elke maand het. Ek dink net dit gaan swaar met almal maar om hier te kom gal braak wys net weereens dat ons NIKS voel vir ons medemens nie, so bitter hartseer!

Joe Hall ·

Waarom daar op so ‘n aggressiewe wyse na mense verwys word wat hul menings en wedervaringe uitspreek, sal ek nie weet nie.
Dat die droogte en gevolge van ‘n pap ekonomie ‘n oorbekende feit is, verseker dat die oorgrote meerderheid mense wat hier kommentaar lewer, lankal reeds in “hulle karre geklim” het om die probleme eerstehands waar te neem en ook die pyne self ervaar het. Omdat ons almal deur die droogte en pyne geraak word, kom lê elkeen van ons ‘n eier, omdat ons kan en omdat dit nodig is.
Joe Hall

Anoniem ·

Ek wil graag aan E.M. en Sarie verduidelik hoe dit in ons gemeente werk: wanneer iemand in die gemeente swaar trek, ontvang hulle hulp van die diakonie. Daar word ook op verskillende maniere na buite gehelp, deur bv in die winter warm klere/komberse vir oumense of kinders te verskaf. Dit gebeur egter dat mense kom aanklop vir hulp, en verwag die kerk moet vir hulle geld in die hand gee, maar hulle stel nie belang om die eredienste by te woon nie. Jy soek geld, maar jy soek nie vir God in jou lewe nie? Hoekom behoort jy nie aan ‘n gemeente waar jy hulp kan vra nie?

Liza ·

100% korrek Anoniem! ‘n Gesin wat om hulp vra se behoeftes word bepaal en daar volgens word hulp voorsien, ontbyt pap, vrugte en groente ens. Telke male al gesien hoe kwaad word hulle as die kerk nie kontant wil gee nie, kamtig vir skoolgelde of huur maar as die kontakbesonderhede gevra word sodat die kerk reelings kan tref vir skoolgelde of huurgeld dan word dit geweier, hoekom? Soek hulle dalk geld vir sigarette en drank? My pa se altyd as jy ‘n bediende het of jy rook of jy drink, dan is jy nie arm nie!

Delia ·

@Anoniem en Liza: Ons was in presies dieselfde bootjie as E.M en Sarie….het die kerk waaraan ons behoort het om hulp genader.
Sal nooit ooit in my lewe die dag vergeet toe een van die dames van die kerk voor ons deur stop, die kattebak oopmaak en ons vra om kos te kom uit haal nie! ‘n Groot hoeveelheid groente en vrugte…..80 persent halfvrot en onbruikbaar…….
Dis die eerste en laaste keer wat ons hulp gevra het en nodeloos om te se ons nie meer lede vd kerk nie.
Gelukkig het die wiel gedraai en is ons nou in die posisie om ander te kan help – met goeie en voedende kos.

Anoniem ·

As jy nie self boer nie moet nie n vinger wys nie.
Ons Boer in die westelike bosveld. Hier is boere wat hierdie jaar vir die eerste keer in 7 jaar al hul lande kon plant . Dit het so Strepe gereën dat daar nie vog was om te plant nie.En waarvan van daardie boere in 2014 reeds ondergemiddelde oeste gehad het. kon reeds teen 2015 net die helfte van beeskude aanhou word. Begin 2016 is die laastes verkoop. Die droogte het op plekke langer as n jaar geduur.
n Boer kan ook net so lank op beleggings, spaargeld of lenings oorleef.
Dis so goed jou werk betaal jou 2014 jou volle salaris, 2015 Kry jy net die helfte en in 2016 is daar niks behalwe uitgawes nie.
En Dan moes die Boer nog steeds sy arbeiders betaal want van hul werk al jare op die plaas.
Ek weet wel van boere wat jong blanke mans in diens geneem het maar hulle wil nie werk nie. So John ek wil net vra of dink jy jy sal n week saam met n boer kan swoeg en sweet? Want ek het nog bitter min jongmense gesien wat vandag bereid is om hard te werk en iets te bereik en nie net te ontvang nie.
John, baie van ons Boer oor ons n liefde het daarvoor en daar niks lekkerder ruik as nat grond nie.
Ek wil ook net sê as jy na die droogte nog boer dan is dit net “UIT GENADE VAN ONS HEMELSE VADER” .

Susanna ·

Bid behoort in jou hande en dade te le, nie net in woorde nie.

“Ons/ek bid vir jou” was ongelukkig die afskeidswoorde van voormalige vriendinne toe die paw-paw die waaier tref. Ek het ‘n ewige hekel daarin ontwikkel – dit is deurtrek van vals note.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.