Lesersbrief: Moedertaalonderrig is die oplossing, nié die probleem

Carien Bloem (Foto: Verskaf)

Carien Bloem, onderwyskoördineerder by AfriForum, skryf:

Beste mnr. Lesufi

Ek skryf vandag hierdie brief aan u omdat dit duidelik is dat u stééds nie besef moedertaalonderrig is die oplossing en nié die probleem nie.

Dit is reeds die vyfde jaar dat u tevergeefs probeer dat voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders aanlyn vir die nuwe skooljaar aansoek doen. Elke jaar is daar probleme met die stelsel, wat tot groot verwarring, chaos en frustrasie lei. Die aanlynaansoeke is reeds oop en soos elke jaar vantevore was daar klaar weer probleme.

Waarom?

U politieke agenda dryf u daartoe om elke jaar die skoleregistrasie- en toelatingsproses, en onderrig in die algemeen, in ’n rasseherrie en debat oor Afrikaans te omskep. Dít terwyl die behoefte aan gehalteonderrig, sowel as onderrig in ʼn leerder se moedertaal, voortdurend toeneem en talle Gautengse ouers en leerlinge nadelig deur u besluite beïnvloed word.

Dit lyk egter asof dit u nie pla nie. Almal verdien gelyke toegang tot gehalteonderrig in hul moedertaal. Besef u dat Afrikaans ook een van die amptelike tale in Suid-Afrika is?

Dit gaan nie oor kleur of kultuur nie. Ons bly in ʼn pragtige, diverse land waar verskillende tale deur verskillende mense gepraat word. Dis egter belangrik dat kinders die taal waarin hulle onderrig ontvang, asook die taal wat hul medeleerders praat, verstaan.

Dit sal moeilik wees vir ʼn Engelse kind om in ʼn Afrikaanse skool aan te pas, en omgekeerd. Dit geld natuurlik vir alle kinders wat ʼn ander taal praat.

Afrikaans is een van die min hoëfunksietale in Suid-Afrika en ons kan ongelukkig nie toelaat dat u die taal probeer afbreek en vernietig bloot omdat u nie daarvan hou nie.

Mnr. Lesufi, u is verkeerd as u sê ons benadeel ons kinders se toekoms deur hulle in Afrikaans te laat skoolgaan, omdat al die universiteite Engels is. U, van alle mense, behoort mos te weet dat moedertaalonderrig meertaligheid bevorder en dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word, juis nie ’n probleem gaan hê om in Engels te studeer nie.

Waarom is Engels u enigste oplossing vir beter onderrig in Gauteng terwyl ons land so ryk aan verskeie moedertale is?

Waarom benadeel u leerders in Gauteng deur hul reg op moedertaalonderrig te probeer wegneem? Waarom skep u nie geleenthede vir alle Gautengers om in hul moedertaal te kan leer nie?

Ek kan nie help om te wonder of die foute op die stelsel dalk deel van u agenda is nie?

Die stelsel verifieer onder meer nie ouers se huisadresse nie, met die gevolg dat ouers nie suksesvol volgens ligging kan aansoek doen nie.

Is dit die stelsel wat foutief is, of het u dit so beplan nadat daar ooreengekom is om mekaar tegemoet te kom?

U wat so maklik beskuldig en mense as oneerlik afmaak, is u motiewe opreg?

Mnr. Lesufi, Afrikaans sal nog lank as onderrigtaal bly voortleef en ons as Afrikaanssprekendes sal op ons reg op moedertaalonderrig bly aandring. Dis tyd dat u vorentoe kyk en u deel doen vir ʼn beter toekoms.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kallie ·

Afrikaans sal waarskynlik vanaf 2028 uitgefaseer word in openbare skole. Nie-Engelstalige kinders sal in hul eerste skooljaar net Engelse taalonderig ontvang om hul taalvaardighede op standaard te kry. Dit is hartseer, maar dis hoe dit sal wees.

EKKE ·

Goeie artikel….Hy gaan nog die nuwe minister van onderwys word!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Marius Dobson ·

Goed gestel. Lesufi en kie sal bes moontlik nie eers daardeur lees nie. Wat hulle aanbetref is Afrikaans as taal n euwel wat wortel en tak uitgeroei moet word – net soos die mense wat dit praat. Oorlog teen ons het reeds begin. Dis nog net nie “amptelik” verklaar nie.

Johan ·

Mnr Lesufi het duidelik ‘n politieke agenda. Hy moet eerder vastel wat van al die tablette geword het of hoekom party skole’ n 0% slaagsyfer vir graag 12 het.

Heinrich ·

Sê my asb hoekom die VF+ en DA nog niks vir Afrikaanse moedertaal onderrig oor hierdie swaap Lesufi te sê het nie? Waar is die kampvegters vir Afrikaans nou? Was dit ook maar net verkiesings-hoe-ha? Ook maar net Afriforum wat baklei vir ons?

Thys ·

Die 2 redes hoekom Lesufi so hard druk om ons Afrikaanse skole te laat omskakel is eenvoudig:
1. Regering kon in 25 jaar nog nie regkry om skole vir die ander tale op standaard te kry nie.
2. Afrikaanse skole word behoorlik onderhou en nie afgebrand nie.
Nou wil hulle ons aftrek na hulle vlak toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.