Lesersbrief: Moedverloor is nie ’n oplossing nie

charne-kruger

Charné Kruger. Foto: Verskaf.

Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:

Die droogte het ons hard geslaan. Ek en my man was beide op moedverloor se vlakte, en ek het al begin werk soek. En met al die probleme en situasies wat die droogte skep, verval ‘n mens later in ‘n diep donker gat.

Jou planne raak op, en die geld is al lankal op. Jy staan op die voorstoep van jou plaashuis, daar waar jou wortels lê, en sien hoe die reënwolke verbygaan. Jy hoor van ander boere wat goeie reëns gehad het en die bietjie hoop wat daar was, waai weg saam met Boesmanland se warrelwinde.

Ná ‘n ruk raak my gebed vir reën ‘n bakleiery met ons Hemelse Vader, want wanneer kom ons broodnodige genadewater waarvoor ons nou al so desperaat wag?

En met al my gebede en smeek en baklei het ek bly terugkom na ‘n uitdrukking wat ons in die kombuise gebruik het terwyl ek geswot het: “Back to basics.” Maar ek kon nie verstaan wat die Liewe Vader vir my wou sê nie. Ons leef dan al klaar op die broodlyn, hoe basies moet ons nóg gaan? Moet ons in ‘n grot gaan bly? En toe…

Twee weke gelede, op pad Upington toe, tref dit my soos ‘n bliksemstraal: Jy moet begin kosmaak, vroumens.

Maar hoe? Die vleisprys is so wisselvallig, dus om te bemark, is stank vir dank; die reën bly nog weg en om te voer, is net te duur. Ek sit nog en tob, toe kom die antwoord: Gebruik die vleis wat jy het en begin kosmaak, Charné Kruger.

My eerste stop was om verpakkingmateriaal vir die kos te koop. Ek het so min of meer ‘n idee gehad wat ek wil maak en het ‘n paar bestanddele gaan koop, en net daar is Smaaklike Ete, my tuisbedryf gebore.

My man het my daardie aand met groot oë aangekyk toe ek vir hom sê, “Môre moet jy asseblief vir my twee lammers slag en twee springbokke skiet.” En soos hulle sê, “die res is geskiedenis”.

Die ondersteuning is oorweldigend, en daar is ‘n klein bietjie lig wat deursyfer na die donker tonnel.

Die dae raak lank en die nagte korter en soms kry die uitputting my onder. My twee peuters het onder my kombuistafel ingetrek, seker maar ‘n geval van as die berg nie na Mohamed wil kom nie… Maar op moedverloor se vlakte sien jy my nie gou weer nie.

Ons hoop en gebede vir reën is nog lank nie verby nie, maar ek hoop dat my twee meisiekinders, al verstaan hulle nie nou heeltemal hoekom hulle ma heeldag voor die kospotte staan nie, ‘n waardevolle les sal leer. “Moedverloor is nie ‘n oplossing nie, net ‘n tydelike skop onder  om jou in die regte rigting te stuur.”

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jy is voorwaar 'n ware Christen ·

Dankie vir die plaas van jou storie…baie van ons is in daardie bootjie..jy gee waarlik hoop deur voorbeeld te stel..daar is nie nou tyd om te gaan le nie..ons vrouens moet saam staan en mekaar aanmoedig!!

Essa ·

Inspirerend Charné! Jou geloof wat wankel en weer vlam vat, jou blink plan en jou deursettingsvermoë is ‘n les vir moedverlorenes. Sterkte met die lang ure se harde werk. En mag God julle seën met al die nodige rëën. ????

Hendrik UAE ·

Ek haal my hoed af vir jou. Julle geloof sal nie beskaam nie. Saluut vir jou (soos in met baie respek)Sterkte met die besigheid en kinders.

HM ·

Wees vol moed. Al het baie van ons net n bakkie pap of n stukkie brood om te eet, ons kan nog eet. Geliefdes het nog mekaar. Vir diegene wat te siek is om te eet, moenie vrees nie. GOD JESUS CHRISTUS is nog steeds in beheer. Ek bid vir julle almal vanaand. Xxx

HPV ·

Afrikaners is ysters, niks knak of kry hulle onder nie, sterkte met jou onderneming. Die genadewater sal kom.

humor ·

Jy was gelukkig dat daar vir jou n deur oop gegaan het. Hier by ons gaan die deur vir baie mense nog nie oop nie, maar ons verloor nie moed nie en ons het ook al geleer om bietjie anders te bid soos wat die groot MEESTER ons leer “Laat U wil geskied” en dan ook help my om U wil te aanvaar. En ons weet steeds daar sal n deur oop gaan.

Kokkie ·

Wonderlike inspirasie vir ons almal. Mag die reëns kom en mag die Here jou en jou gesin ryklik seën.

Lynette Brink ·

Watter wonderlike inspirasie is jy nie, Charne! Jou glimlag spreek boekdele. Jy is ‘n voorslag-vrou en bewys net weer dat in tye van groot nood, God altyd daar is met ‘n oplossing – Hy verwag net van ons om die eerste tree te gee. Die rykste seën vir jou en jou gesin! Die Here gaan verseker uitkoms bring.

Petro ·

Haai Chane
Ons was saam op skool, 2000 matriek!
Ons was sterk mense, go for it! Noord- Kaap het murg groot gemaak! Super trots!
Liefde

Antionette ·

Charnè, jy is voorwaar ‘n lig in die donker vir baie mense!!! Jy was nog altyd ‘n goeie mense gewees net soos jou ma!!! Hou aan en hou Barkly-Wes se naam hoog!!!

Antionette ·

***Jy was nog altyd ‘n goeie mens gewees, net soos jou ma!!!***

Adele ·

Dit is iets om voorwaar op trots te wees, want dis vir so baie mense maklik om net eerder tou op te gooi. Jy is ‘n inspirasie vir baie mense en jou getuienis is groot en gaan nog groter word, sodra daardie groot reën geval het by julle.

pinkie ·

Bittereinder. ‘n Voorbeeld vir almal wat moed opgegee het :-)

Amelia ·

Ek besluit om jou verhaal eerste te lees en was ek aangeraak…..Ek kry in my werk daagliks te doen met boere wat kom veevoer koop.Ek huil in my hart saam.Verseker SAL die reen kom,glo net,moenie moed verloor nie.Binne hierdie droogte is GOD met julle.Nog net n kort rukkie en dan gaan julle dans in die reen en trane stort van DANKBAARHEID……Ons bid saam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.