Lesersbrief: Moenie dat jou omstandighede in jou pad staan nie

jani-dreyer

Jani Dreyer. Foto: Verskaf.

Jani Dreyer skryf:

Vandag kan ek ‘n klein bietjie van my getuienis deel…

Ek sal altyd gebrandmerk bly as die meisie wat swanger geword het op skool. Die meisie wat op 18 moes begin werk en terselfdertyd matriek skryf. Daarbenewens is my pa die nag voordat ek die Vrydag gr. 12-biologie moes gaan skryf, oorlede. Ek het dit gedoen, ten spyte van my stukkende hart.

Ja, daar was mense wat my uitgelag het, selfs gespot het. Ek moes (en het) my kop opgelig en aanbeweeg.

Werk en swot. Daar was aan die begin nie eens geld vir studies nie toe ek my oorbruggingkursus moes doen om onderwys te kan studeer omdat ek my matriek deur die pos gedoen het – ek kon soms net vir een module op ʼn slag registreer.

Gelukkig het my man intussen ʼn finansiële hupstoot gekry, en ek kon vinniger aanbeweeg… tussen twee swangerskappe en boonop siekte, kon ek steeds my onderwysgraad in vier en ʼn half jaar voltooi.

Verlede jaar hierdie tyd het dokters gedink ek gaan dit nie maak nie, maar weer eens het God, my man, familie en vriendinne se gebede my deurgedra, want ek was reg vir die Koninkryk van God. God se tyd is nie ons tyd nie.

Daar’s baie struikelblokke maar dis oorkombaar al moet jy 20 keer opstaan.

As jy voel jy kan nie meer nie, probeer net nog ʼn keer. En nóg ʼn keer en nóg ʼn keer. Ten spyte van angssteuring, depressie, epilepsie en verkragting as dogtertjie, is daar steeds hoop.

God se liefde sal jou sewentig keer optel. Wat Hy van jou dink en van jou glo, is baie belangriker as aardse aanmerkings. Kritiek van ander is oukei, maar gaan vra vir Jesus wat dink Hý van jou.

Sy belofte verlede jaar in die hoësorgeenheid het my gedra. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas met my eie hand.” (Jesaja 41:10)

Maak ʼn afspraak met God. Hy wag vir jou. En inspireer ander mense, want ons lewe in ʼn gebroke wêreld.

 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dorothy ·

Jani, wil jy nou hê ons moet jou jammer kry omdat jy verkeerde keuses gemaak het. Ons maak tog ons eie keuses en leer tog van vroeg af wat is verkeerd en wat is reg en wat is nee en wat is ja. So leer uit jou eie foute want die lewe kan ‘n duur leer skool wees. Dit noem ek nie ‘n getuienis nie maar dom foute.

PaulV ·

Watter vieslike, ongevoelige aanmerkings, Dorothy. Ek neem aan jy het nooit ‘n fout gemaak nie en het ‘n perfekte lewe. Hoe gelukkig is jy nie.

Patrys ·

Jy kan baie trots wees op jouself! Jy het ontsettende hoë hoogtes bereid. Om deur die pos te swot is al klaar baie toewyding en opoffering om nog alles deur te gemaak het wat jy moes deurmaak en nog jou suksesse te kon behaal is ‘n inspirasie vir almla.
Baie geluk en well done!

Jerry ·

Jani se mooi verhaal is een van talle mooi verhale om vir mense te wys dat daar hoop is vir diegene wie vir God toelaat om in beheer te wees, dit is dan wanneer mense kan ervaar hoe groot God se genade is, dat selfs siektes genees word en gebroke lewens weer heel gemaak word. Dankie Jani dat jy bereid is om God en jou mooi verhaal met ons te deel!

Jan Brand ·

Pragtig juffrou. Jy gaan ‘n uitblink onderwyseres maak.

Ruben ·

Jys n rolmodel vir almal daar buite…dankie vir die inspirasie.

Jaco ·

En jys al hoeveel jaar lank besig om te skei? Nou praat jy jou man so goed.

EC ·

Dorothy klink soos my kollega ……. sy hou nie daarvan om die son oor iemand anders te sien skyn nie, dan raak sy vreeslik beledigend. Jani het foute gemaak soos ons almal maar doen – dis menslik. Jani geniet jou lewe en jou sukses wat jy bereik het.

Posduif ·

Ek vermoed Dorothy is iemand wat graag ‘n bydrae maak om die emosies bietjie op te jaag sodat die kommentaar kolom kan groei. Dit is verblydend om te sien dat die mense nie die “aas” vat nie en meestal komplimente gee waar dit hoort. Om vir iemand nie ‘n platform te gee nie deur met “stilte” te antwoord op daardie kommentaar is kragtig!! Well done lesers!!

GM ·

Dorothy – ek neem aan jy het glad nie ‘n probleem met al die ou garde wat op 13 al begin kinders kry het nie? Jou rede sal wees – ‘hul het vroeg getrou’? Nou net omdat die meisie 18 was, en ongetroud was, nou is sy die grootste sondaar ooit?
Dis ‘n belaglike redenasie. Mens kan getrou wees aan iemand sonder om getroud te wees. Netso kan mens ‘n belofte aan God maak, sonder ‘n groot partytjie. Baie paartjies wat saam bly, is meer getrou aan hul maats as wat baie van die sogenaamde getroude mense is, maar net omdat hulle ‘n papiertjie geteken het, en ‘n ring aan hul vinger het, is hul nou verhewe bo alle kritiek al loop die man of vrou rond.

Elkeen moet vir hul eie sondes gaan pa staan voor God, so wat is almal altyd so behep met ander mense se ‘foute’? Die wat hul so hoog heilig hou, het gewoonlik nog meer geraamtes in die kas, maar hul sit Sondae heel vroom in die kerk.

Die vrou hierbo het haar studies klaargemaak en haar kinders versorg. Sy het nie haar kind weggegooi net omdat sy nog op skool was en almal voel sy het ‘n fout gemaak nie. Geen kind is ‘n fout nie. Sy verdien respek.

Op die ou einde van die dag is waarheen jy gaan, en hoeveel keer jy opstaan na ‘n val, belangriker as hoeveel keer jy geval het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.