Moenie jou stem op die DA mors nie, sê dié leser

Demokratiese Alliansie

Demokratiese Alliansie

Deur Carel de Jager

Na aanleiding van ʼn onlangse SMS van die DA dat ek my stem mors deur vir ʼn kleiner party te stem, het ek besluit om ook my mening te lug.

Suid Afrika se grootste opposisie-party is lief daarvoor om vals propaganda te versprei dat ʼn stem vir ʼn klein party niks werd is nie. Die probleem met hierdie boodskap is nie net dat dit vals is nie, maar ook dat soveel mense dit glo. Ek hoor gereeld by my vriende, familie en werkskollegas dat hulle maar vir die DA sal stem ten spyte van die feit dat hulle nie die DA se mandaat ken of daarmee saamstem nie, want “dis die enigste party wat ʼn verskil kan maak”.

Hierdie is ʼn diep-gewortelde vals persepsie onder veral Afrikaners en moet soos pes uitgeroei word. Dit veroorsaak dat baie mense glad nie stem nie, of vir ʼn party stem met wie hul hoegenaamd nie kan vereenselwig nie.

Laat ek verduidelik waarom dit ʼn vals persepsie is, deur twee standpunte te maak.

My eerste standpunt berus op ʼn eenvoudige wiskundesom. As tien mense hul kruisie trek, waarvan vyf vir die ANC stem, drie vir die DA, en twee vir ʼn kleiner party, dan het die ANC mos 50% van die stemme verwerf, die DA 30% en die kleiner party 20%. As die twee mense wat vir die kleiner party sou stem besluit om op 3 Augustus eerder die huis te verf, omdat “my stem geen verskil gaan maak nie”, dan sou die totale stemgetal slegs 8 gewees het, en die ANC sou eindig met 63% van die stemme, die DA met 37% en die kleiner party met geen. Die beginsel wys dat, al kry die kleiner party nie eens ʼn setel nie, bring daardie stem steeds die ANC se totale stempersentasie af en so ook die invloed wat hulle op die ou end op my en jou lewens gaan uitoefen.

Vir my tweede standpunt moet ons gaan kyk wat regtig gebeur het die dag in 2006 toe die DA beheer oor die stad Kaapstad verkry het. In dié verkiesing het die DA nié met ʼn volstrekte meerderheid gewen nie, en moes hul 16 setels bedel by partye soos die VF+, ACDP en UDM. Hierdie kleiner partye het egter nie hul setels verniet weggegee nie, en in ruil daarvoor moes die DA ʼn gedeelte van hul mandaat prysgee en die mandate van die kleiner partye implementeer. Die VF+ het byvoorbeeld geëis dat daar vir Afrikaans en Christenwaardes opgestaan word en dat die DA regstellende aksie teenstaan. So het die ander partye ook hul vereistes gestel.

Die uiteinde van die saak was dat die DA sy mandaat opsy moes skuif en ʼn mengsel van al die kleiner partye se bepalings aanvaar. Op hierdie manier het dit die beste uit elke party gebring en was ʼn groot persentasie stemgeregtigdes se belange verteenwoordig. Dit is ʼn duidelike bewys dat die beste opposisie ʼn veelparty-opposisie is.

My gevolgtrekking is dat ʼn stem vir ʼn kleiner party nie ʼn mors is nie. Ek voel jy mors eerder jou stem deur dit vir ʼn party te gee met wie jy jou nie kan vereenselwig nie, of wat nie vir jou regte veg nie. Dink mooi voor jy jou kruisie trek.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

120 Kommentare

jongste oudste gewildste
Arno

Baie goed gestel. Ek het egter gemengde gevoelens en is nogal verward oor hoe ek uiteindelik moet stem. Ek woon in Kaapstad en kan duidelik sien hoe relatief suksesvol die DA hier regeer (baie, baie beter as elders). Maar as ek werklik met my hart moet stem, sal ek vir ‘n baie klein party stem (en dis nie die VF+nie). Op die ou einde, sal ek dan eerder my verstand gebruik en stem vir ‘n party wat homself bewys het — en eerder op ander maniere (bv. saam met burgerregte-organisasies) tot my hartsake bydra.

Barbaar

As hierdie stelling die waarheid is – Wil ek graag weet vir watter party om te stem sodat Suid-Afrika gered kan word oor die afdraende pad van die afgelope 22 jaar .Die tyd loop uit .

Paul

Carel, jy vergeet van die manier waarop die helfte van die plaaslike verkiesing werk. Die helfte van die setels is wyk-setels wat op ‘n “first past the post”-basis toegeken word. Die kiesstelsel maak baie saak, maar dis verbasend hoe min mense weet hoe dit werk. So vat dan hierdie voorbeeld. As daar 100 kiesers in ‘n wyk is, en 45 stem vir die ANC, 40 stem vir die DA en 15 stem vir die VF+, dan wen die ANC die setel, want dis hoe “first past the post” werk – die party/kandidaat met die meeste stemme, wen – daar hoef… Lees meer »

Wian

Dit gaan nie daaroor om die ANC se “totale stempersentasie af te bring ” nie. Sien dit so: Daar is drie maatskappye wat navorsing doen oor die bekamping van globale verwarming. Die eerste een kry al die fondse, maar sy navorsing beteken niks. Die tweede een kry minder fondse, maar nie genoeg nie, maar sy navorsing kan iets beteken. Die derde een kry die minste fondse, maar hy het groot ideale vir navorsing. Jou redenasie is dus om vir die derde maatskappy jou bydrae te gee, sodat die eerste maatskappy minder fondse het. Oor 30 jaar sit ons met drie… Lees meer »

Piet Pompies

Ek stem nie saam met die stellings, 2/3 meerderheid word nie genome in enige van die stellings. As die groter party ‘n 2/3 meerderheid het kan hy wette verander sonder die ander partye se insette en goedkeuring. Samewerkings ooreenkomste tussen partye voorkom reeds hierdie probleem. So dit gaan nie net oor wiskunde getalle nie, dit gaan oor meerderheid en hoeveel setels die opposisie kan kry. Ek glo dat PE, PTA en selfs Gauteng deur die DA oorgeneem gaan word en dit is in hierdie plekke waar ekonomiese besluite geneem word. So, gaan trek gerus jou kruis agter die DA, ek… Lees meer »