Moenie met voedselsekerheid dobbel nie

Die artikel is geskryf deur dr. Philip Theunissen**

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

In sy chaotiese staatsrede van 12 Februarie het President Zuma die ANC se voorstel van ʼn grondplafon van 12 000 ha, wat as ʼn klousule oor die “beperking op die besit van private grond” in die wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit ingeskryf gaan word, bevestig. Sy minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, mnr. Gugile Nkwinti, het reeds voor die staatsrede te kenne gegee dat die doel van die 12 000 ha-beperking is om ongelyke grondeienaarskap reg te stel.  Sy direkteur-generaal, Mnr. Mdu Shabane, sê die voorstelle val onder die viervlakstelsel van grondbesit. Dit behels dat staatsgrond en openbare grond slegs verhuur mag word, dat daar ʼn beperking op die besit van private grond moet wees, dat buitelanders nie grond mag besit nie (maar dit vir ʼn minimum van 30 jaar kan huur) en dat voorsiening gemaak word vir kommunale grondbesit met sekere institusionele gebruiksregte.

Uiteraard het die president se uitspraak vinnig en fel kritiek uitgelok. Kritici meen dat die aftakeling van eiendomsreg ongrondwetlik, onprakties en onekonomies is en die land  in die verkeerde rigting stuur. Die eensydige en voortydige aankondiging wys ook hoe ʼn uiters onbetroubare vennoot die ANC in die hele grondhervormingsdebat is. Die eenvormige plafon wat op alle soorte boerdery geplaas word, wys verder  die ernstige gebrek aan begrip wat die ANC-regering vir die diverse moderne landbou het. Die resultaat van hierdie voorstel gaan gevolglik onsekerheid in die landbou verhoog en indien dit uitgevoer word, sal dit voedselsekerheid ernstig ondermyn.

Hierdie kritiek is beslis nie ongegrond nie. Die volgende realiteite word  al geruime tyd en by herhaling deur verskeie vooraanstaande internasionale organisasies soos die World Bank, Food and Agricultural Organisation en International Food Policy Research Institute aangevoer en word oral, behalwe deur die ANC-regering, ernstig in beleidsformulering oor voedselsekuriteit opgeneem:

  • Die wêreld se bevolking is vandag 7.2 miljard en sal in 2050 9.3 miljard wees;
  • Afrika se bevolking sal oor dieselfde tydperk met 113% groei en dus meer as verdubbel;
  • Tans woon 50% van die wêreld se bevolking in stede en dit sal na verwagting tot 67% in 2050 toeneem;
  • In Afrika woon 36% van die bevolking tans in stede terwyl 60% na verwagting in 2050 verstedelik sal wees;
  • Bevolkings- en ekonomiese groei lei tot ʼn voortdurende styging in die vraag na voedsel;
  • Die toename in bevolkingsgroei is eksponensieel terwyl die toename in voedselproduksie liniêr is;
  • ʼn Toename in die vraag na water en grond vir huishoudelike gebruik sal die kapasiteit om voedsel te produseer toenemend beperk;
  • Verhoging van voedselproduksie deur die uitbreiding van nuwe landbougrond is nie moontlik nie;
  • Groter voedselproduksie kan alleen bereik word deur opbrengs te verhoog terwyl daar al minder van water en grond gebruik gemaak kan word;
  • Die aanwending van verbeterde landboutegnologie en –praktyke en die kundigheid om dit toe te pas, is van kritiese belang vir verhoogde voedselproduksie.

Projeksies van die Suid-Afrikaanse bevolking en landbou kan soos volg saamgevat word:

  • Oor slegs 20 jaar, in 2035, sal die huidige bevolking met 38% tot 70 miljoen aangroei;
  • Teen die huidige tempo van verstedeliking sal 52.6 miljoen (75%) Suid-Afrikaners in 2035 in stede bly;
  • Van die totale 100.7 ha miljoen huidige landbougrond in Suid-Afrika is 14.5 miljoen in opkomende boere se hande en 82.2 miljoen behoort aan kommersiële boere;
  • Die ongeveer 82.2 miljoen hektaar se kommersiële landbougrond verskaf voedsel en vesel teen 6 hektaar  vir elke lid van die bevolking;
  • Die gevolge van mynbou en verstedeliking lei tot ʼn verlies aan landbou se produksievermoë, veral die verlies aan hoë potensiaal landbougrond in Mpumalanga;
  • Indien die bevolking in 2035 tot 70.1 miljoen toeneem en daar is terselfdertyd ʼn afname van 5 miljoen hektaar kommersiële landbougrond oor hierdie tydperk, is daar slegs 1.1 hektaar landbougrond per lid van die bevolking beskikbaar om aan sy voedsel- en veselbehoeftes te kan voldoen.

Dit is juis die 82.2 miljoen ha kommersiële landbougrond waaroor menere Zuma en Nkwinti hulle hande vryf en waarvan hulle groot gedeeltes, skynbaar tot 50%, vir kommunale boerderye opsy wil sit. Dit wat blykbaar sedert 1652 met Jan van Riebeeck se koms van swart kommunale boere ontneem is.

Jan van Riebeeck en ander se invloed op Suid-Afrika se ekonomie verdien beslis vermelding maar eers agtergrond oor die kommunale stelsel wat histories hier bedryf is. In “Tribesman, Trader, Peasant and Proletarian”(1978) sê Peter Kallaway: “Communal economy is an entity that has within itself a complete division of labour and a single cultural framework and dominantly an economy based on natural products of the land produced for personal or group needs.”

Kallaway verduidelik verder dat die kommunale ekonomieë een gemeenskaplike kenmerk gehad het, naamlik dat die grond deur die stam besit is vir die gebruik van die groep as ʼn geheel en geen individu binne die stam is die gebruik daarvan ontsê nie. Die belangrikheid van hierdie aspek moet gesien word teen die feit dat kommunale landbou-aktiwiteite by verre die dominante bestaansrede van hierdie samelewings was.

Toe Jan van Riebeeck ʼn handelstasie in die Kaap begin het, het suidelike Afrika onvermydelik tot die wêreld-ekonomie toegetree. Die streek se mate van deelname is drasties versnel toe diamante in die Noord-Kaap en later goud in die huidige Johannesburg ontdek is. Daardeur is daar oornag ʼn omvangryke mark vir arbeid en landbouprodukte geskep. Hierdie snelgroeiende handelsentrums het nie alleen oorsese blanke immigrante gelok nie, maar ook plaaslike swart migrante van alle lae van die bevolking. Die kommunale samelewings kon eenvoudig nie hierdie multi-kulturele bevolking akkommodeer nie. Individue het hul eie identiteite begin ontwikkel wat op hul eie persoonlike belange en nie langer dié van die kommunale samelewing nie, geskoei was. Die kohesie van die kommunale ekonomieë het dus eerstens op grond van kulturele verskille begin verbrokkel.

Plaaslike swart én anderskleurige stamme het vrywillig aan die nuwe ekonomiese stelsel begin deelneem en wildsvleis, lewende hawe, vuurmaakhout en landbouprodukte aan die handelsentrums verskaf. Aanvanklik het hulle met sukses die nuwe geleenthede benut maar die kommunale ekonomieë kon later nie bybly met die voortdurende styging in die vraag na hul produkte nie. Grond is in die proses onvermydelik hervorm van ʼn medium wat arbeid aan die groep kon verskaf, na ʼn instrument wat grootskaalse surplusse aan die markte moes voorsien. Die ekonomiese realiteit hieraan verbonde is egter dat sodra daar van grond verwag word om ʼn surplus te produseer, grond noodwendig self ook ʼn verhandelbare item word.

Die kommunale samelewings het mettertyd groot dele van hul grond verkoop of verruil en tesame met die kulturele oorsake, het ekonomiese kragte en nie politieke kragte nie, eenvoudig die losstaande kommunale ekonomieë van onderlinge herverdeling met ʼn enkele kapitalistiese produserende ekonomie vervang. Die ANC-regering is duidelik van plan om hierdie situasie nou weer om te keer deur grond van sy verhandelbare status te ontneem. Terselfdertyd sal die inisiatief om surplusse daarop te produseer,  noodwendig ook in die slag bly.

Sedert die ontdekking van diamante in 1867 het Suid-Afrika se ekonomie net aanhou groei. Selfs die ANC-regering klop homself nogal gereeld op die skouer oor sy eie bydrae tot ekonomiese groei sedert 1994. Dit is dus totaal onverklaarbaar waarom die huidige regering dink hy kan die tweede grootste ekonomie in Afrika deur middel van ʼn kommunale landboustelsel voed. As dit meer as ʼn honderd jaar gelede al deur die heersende ekonomiese kragte uitgedien geraak het, hoe kan dit 70 miljoen mense in 2035 voed waarvan 53 miljoen in stede gaan bly?

Landbou is die enigste ekonomiese sektor wat die mensdom kan voed. Die toekoms van landbou is dus direk aan die toekoms van die mensdom gekoppel. Vertroue in landbou is terselfdertyd ook vertroue in die mensdom se toekoms. Die voormalige Amerikaanse president, Thomas Jefferson, het by geleentheid gesê dat, hoewel die boer die titelakte van die plaas hou, die grond in werklikheid aan die mensdom behoort, aangesien ons voortbestaan daarop berus. Boere self is dus maar net die beskermers van die grond namens die mensdom.

Die Indiese omgewingsaktivis, Vandana Shiva, sluit hierby aan en sê: “If we have declared a war against the soil itself, then we are literally committing a species-level suicide.” Die kruks van die saak is dus dat die res van Suid-Afrika se huidige 53 miljoen mense baie meer bekommerd oor die president se uitlating behoort te wees as die land se 36 000 boere. Dit is immers die hele bevolking se voedselbehoeftes wat hier op roekelose wyse op die spel geplaas word.

Ten spyte van vroegtydige en herhaaldelike waarskuwings het die ANC-regering nogtans die Eskom-probleem bly ignoreer toe dit nog hanteerbaar was en gewag totdat die kalf in die put is en ons almal onder die kalf in die put lê, voordat hulle begin reageer het. Dit het Suid-Afrika in ernstige kragtekorte gedompel met vernietigende gevolge vir die ekonomie. Hier is dus ook ʼn vroegtydige waarskuwing vir die ANC-regering: moenie populistiese politieke speletjies met grond se verhandelbaarheid speel en daardeur met miljoene mense se voedselsekuriteit dobbel nie. Ons kan nie beurtvoeding toepas soos wat Eskom beurtkrag toepas nie. Voedseltekorte is nie net nog ʼn bietjie ontwrigting wat met kerslig oorbrug kan word nie. Lê eerder nou die nodige, dalk ongewilde, leierskap aan die dag en vervang die beplande klousule oor die “beperking op die besit van private grond” met hierdie een: “Upon this handful of soil our survival depends. Husband it and it grows our food, our fuel and our shelter and surrounds us with beauty. Abuse it and the soil will collapse and die, taking man with it.” Indian civilization (1500 BC).

** Dr. Philip Theunissen het sy eie rekenmeesterspraktyk op Bethlehem. Buiten die totale rekordhoudingsfunksie vir boerderye, dek sy advies en konsultasies ook onderwerpe oor boedelbeplanning en erfopvolging, boerderybestuur, meganisasiebestuur, vertakkingsbegrotings, kontantvloeibegrotings, landbou-ekonomiese vergelykings en die interpretasie van finansiële state. Hy is ook ‘n vryskutjoernalis en het al verskeie rubrieke in al die vernaamste landboutydskrifte van Suid-Afrika behartig.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gerhard ·

‘n Mens dobbel net met iets van waarde, anders is dit nie dobbel nie. Afrika het oor millenia heen geen waarde aan voedsesekerheid geheg nie. Die dag van môre was nog nooit belangrik nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.