My dag saam met dwelmverslaafdes

Argieffoto

deur René du Preez

Oorkant my sit ’n 21-jarige jong man met blink oë – eintlik nog ʼn seun. Hy glimlag as ek sê hy is nog bitter jonk om hier te wees. Ek vra hoe oud hy was toe hy die eerste keer dwelms gebruik het. Hy antwoord hy was 10 jaar oud. Ek kyk skielik op van die videokamera se skerm na sy gesig. Hy is ernstig. Sy broer wat 3 jaar ouer is, het dwelms by ouer kinders gekry en vir hom gegee. Sy broer was ook vir 11 jaar verslaaf.

Hier by Moeggesukkel se rehabilitasiesentrum en die ondersteunende ondernemings is mans wat almal soortgelyke stories het. Vir elkeen vra ek dieselfde vrae en die stories, met slegs details wat verskil, klink so: “Ek was in pyn, en om die pyn te vergeet en die gat in my binneste te vul, het ek gemaak soos my vriende. Groepsdruk is om cool te probeer wees, en aanvaarding en liefde te soek deur te doen wat jou vriende doen. Ek het met dagga begin en toe stelselmatig al hoe meer dwelms gebruik. Ek het gedink dit gaan my laat beter voel, maar dit het my lewe verwoes. Ek het alles verloor – almal waarvoor ek lief is. Tot ék besluit het om my lewe te verander. Net Jesus kan die pyn wegvat en die gat vul. Net Jesus kan die verslawing breek. Net Jesus gee hoop.”

As ʼn ma wonder ek onmiddellik hoe ʼn kind van tien se ouers nie agterkom dat daar iets aan die gang is nie. Hy sê sy ouers was nie betrokke by hom en sy broer se lewens nie. Hulle het nie geweet wat aangaan nie, want hulle het nie belang gestel nie. Ek vra hom hoe keer ʼn mens dan dat jou kind by dwelms betrokke raak. Sy antwoord is eerlik, opreg, eenvoudig: Wees daar. Wees betrokke. Ken jou kind se vriende. Wees bewus van hoe hulle tyd en geld spandeer word. Weet waar hulle is. En, die belangrikste: kén jou kind.

Ek vra hom toe hoe hy by Moeggesukkel uitgekom het. Hy sê sy broer het deur die program gegaan en toe het hy self ook besluit om te kom. Hy was in twee rehabilitasiesentrums voor hierdie een, maar elke keer het hy van die program af afgewyk. So hoekom sal dit hierdie keer anders wees? Hy glimlag. Hier werk jy met jou hande – jy werk hard! Hy het nog nooit hard gewerk voor hy hier gekom het nie, maar terwyl jy op die plaas werk, het jy tyd om te dink. Tyd om te reflekteer op hoekom jy dwelms gebruik het, hoekom jy verslaaf was, hoekom jy nie kon loskom nie. Jy het tyd om aan ʼn verhouding met God te bou. Tyd om gesond te word van binne af buitetoe. Tyd om te bid.

Ek praat met nog mans. Een wat vandag vir die eerste dag skoon is. Een wat ʼn pa van twee is, wat huil oor hy hulle seergemaak het terwyl hy met my praat. Een wat sy prokureursloopbaan moes prysgee. Een wat in die tronk beland het omdat hy gesteel het om sy dwelms te kon koop. Een wat as skoolseun in Menlopark Hoërskool met verkeerde vriende deurmekaargeraak het en sy toekoms opgegee het. Een wat dwelms op “special” gekoop het en dit dan herverkoop het om sy eie dwelms met daardie geld te kon koop. Een wat skelm in ʼn vriendin se buitetoilet geslaap het en by vriende se huise ingebreek het om sy dwelmverslawing te befonds. Almal wat niks oor het om te verloor nie.

Jacques Papenfus groet die jong mans wat by sy sentrum is asof hulle sy eie seuns is. Hulle noem hom Kaptein. Almal hier kyk met deernis, begrip en respek na mekaar. Hulle ondersteun mekaar. Hulle ken mekaar se stories. Hulle weet wat dit is om platgeslaan te wees. Jacques ook. Dis hoekom hy hierdie sentrum bestuur. Hierdie plek waar mans weer leer wat selfrespek is. Waar mans weer leer om op te staan en om te werk. Hierdie plek van hoop.

Jacques help die mans om hulle oog op die Here te hou en te dink oor die dag van môre. Hier het hulle ʼn sisteem. Die ouens weet as hulle deur die rehabilitasieprogram gaan, kan hulle betrokke raak by een van die Moeggesukkel-ondernemings. Daar gaan hulle ook hard werk, maar met ondersteuning en hulle weet daar is weer hoop. Hoop op ʼn toekoms na dwelms. Hoop om van voor af te begin. Hoop.

Vir meer inligting, besoek die Moeggesukkel-webwerf.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Jackie ·

ek’s baie trots om te sê dat ek vir Jacques ken en dat hy nie NET hierdie mans help hy’t ook my kind met ‘n rolstoel gehelp, hulle bedryf ook ‘n paneelklop besigheid en glo my hulle weet wat hulle doen. As enige iemand nie weet wat om met ekstra klere, beddegoed of geld te maak, skenk dit gerus vir Moeggesukkel daars ook markte op Saterdae waar jy nog 30 eiers vir onder R50 koop!
Jacques, die Here sien jou harde werk en ek bid dat julle net van krag tot krag sal gaan!

Leeu ·

Geen jammerte vir druggies nie, ek sê gee vir hulle die dwelms sodat ons vinniger ontslae kan wees van hulle.

Skande ·

@Leeu Dit is mense soos jy wat oningelig is en eintlik die problem is wat ons van ontslae moet raak.Jou negatiewe houding gaan jou nie ver bring in die lewe nie.Ek bid vir jou dat so iets nooit ooit met een van jou geliefdes sal gebeur nie.

Rene du Preez ·

Meneer, ek sidder om te dink wat sal gebeur as dit jou kind is. Tot jy daar sit rn die stories hoor besef jy nie dit kan met enigiemmad gebeur nie. Ja hulle het keuses gemaak soos ons almal. Maar net hulle dra daardie las.

dance ·

Stuur hulle vir Duterte, hy sal hulle vinnig reg ruk. As doodstraf jou nie van dwelms kan laat afsien dan is jy verby enige hulp.

SkarrelKind ·

En so oordeel ons mekaar sonder om in hulle skoene te staan. Skaam julle …

Andre ·

Baie goeie ding dat dat die dwelmverslaafdes in die werk gesteek word. Kan ons nie ook die mense wat so lui (lees sleg) is by hierdie sentrum inboek nie? Het pas weer gesien wat se lui mense jy in hierdie lewe kry – man wat 36 jaar oud is en niks makeer nie. Hy maak nie eens sy bed waarin hy slaap op nie. Gee hom ‘n taak en hy het die een verskoning na die ander; dan is die son te warm, dan voel hy olik, ens. Sit heeldag op die selfoon of voor die televisie, ander mense moet maar vir hom sorg dit is darem te lekker.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.