“My droom vir elke meisie is gehalte onderrig”

Foto: Verskaf aan Maroela Media

Foto: Verskaf aan Maroela Media

Deur prof Linda du Plessis

In Vrouemaand word ʼn mens weer herinner aan die vroue in die geskiedenis wat die weg gebaan het vir ander vroue in hul onderskeie gemeenskappe en vir die mensdom as geheel: Helen Joseph, Nadine Gordimer en Albertina Sisulu. Hierdie vroue het ons, die vroue van vandag, in staat gestel om ʼn impak te kan maak waar ons onsself bevind. In die geval van die Noordwes-universiteit se Vaaldriehoekkampus maak vroue ʼn impak as kampusambassadeurs, soos ons beeldskone Mej. NWU Vaal, as direkteure van afdelings waar sy mense moet bestuur, in die raadsaal waar raadsaalonderhandelinge met ʼn eenvoudige koppie tee en toebroodjie gedoen word, as “ma-weg-van-die-huis” as huismoeder van ʼn koshuis, of die “suster-wat-ek-nooit-gehad-het-nie” as lid van ʼn huiskomitee.

Ons leef in ʼn land waar armoede, siekte en misdaad steeds op ʼn daaglikse basis soveel lewens aanraak. Ons leef in ʼn era waar die vrou soveel rolle het om te vervul: eggenoot, ma, ouma, broodwinner, gemeenskapsleier, beskermer en aktivis. Met gehalte opleiding, sal sy hierdie rolle net soveel makliker optimaal kan vervul.

Die Let Girls Learn-beweging meen 62 miljoen meisies wêreldwyd is nie in die skool nie weens ʼn verskeidenheid redes, terwyl diegene wat wel hulle skoolloopbane voorsit, weens ʼn verskeidenheid faktore fokus verloor. In sommige lande voltooi minder as 10% van tienermeisies hul sekondêre skoolopleiding.  Terwyl die situasie in Suid-Afrika sekerlik beter lyk, is daar steeds groot uitdagings vir ons kinders, veral ons meisies wat hulle moet oorkom. Volgens UNICEF is 96% van Suid-Afrikaanse kinders tussen die ouderdomme van 7 en 13 by ons primêre skole ingeskryf. Slegs 70% van kinders tussen 14 en 17 is ingeskryf vir sekondêre onderrig. ʼn Totaal van 10,2% van jong Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar is HIV-positief. Meisies en vroue het ʼn vier keer groter kans as seuns en mans om met HIV besmet te word.

Greg Mortenson het gesê: “If you teach a boy, you educate an individual; but if you teach a girl, you educate a community.”

My wens is dat elke vrou in ons kampusgemeenskap en ons land ʼn geseënde Vrouedag het en waarlik besef watter belangrike rol sy as vrou vervul. My droom is vir elke meisie in ons gemeenskap en in ons land om toegang tot gehalte onderrig te hê en dat sy die meeste maak van elke geleentheid wat sy kry. My oortuiging is dat dit die enigste manier is vir ons om waarlik die wêreld te verander.

  • Prof Linda du Plessis is waarnemende kampusrektor van die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes Universiteit (NWU Vaal).

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theuns ·

Prof. Pragtige idiaal! Ek ondersteun vroue wat die hoogste sport bereik maar ook elke vrou wat omsien na haar man en kroos. Drie Hoeras vir julle!!!!

Jan Jooste ·

Hoera Prof du Plessis en ook al ons bemagtigde vroue! ‘n Sterk Afrikanervolk het sterk vroue nodig, en hulle sal ook die reeks rolle kan vertolk wat u uitspel. Volgens Greg Mortenson se siening, skep ons dan bemagtigde geslagte deur die vrou te bemagtig via onderrig. ‘n Bemagtigde vrou is veral ook ‘n spanmaat in die huwelik, en nie die slaaf van ‘n man wat vroue probeer domineer nie.

Ampie ·

Prof du Plessis, jou gedienstigheid aan die ANC-regering is betreurenswaardig. Ek neem aan dis om jou posisie as kampusrektor te beskerm. Helen Joseph, Sisulu en Gordimer was nog altyd vyande van die Afrikaners. Hulle het saam met die terroriste teen die Afriaknerregering gewerk en die tweedeklas burgerskap wat ons vandag beleef is beslis deels hul nalatenskap. Dink eerder as Emily Hobhouse, Tibbie Steyn en honderde Afrikaner vroue wat ‘n bydrae tot vroueregte gemaak het.

CHARMAINE WALL ·

HM JA DIT SAL MY DROOM OOK WEES,VERDER STUDIES SO ONBEKOSTIGBAAR DUUR,ONS LAND AL KLA TE KORT AAN PROFESSIONELE MENSE,EN SODRA JY GAAN NA N INSTANSIE WAAR DIE STAAT BY BETROKKE IS,KRY JY NIE WERK?????

Denise ·

Ek stem saam met Ampie hoekom jou vyande prys en wat van ons eie boer vrouens ag nee !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.