Lesersbrief: My kind se siel is nogal duur

mariska-rabie

Mariska Rabie. Foto: Verskaf.

Mariska Rabie van Vancouver, Kanada skryf in reaksie op Ernst van Zyl se meningstuk “#JongStemme: Die emgrasievraagstuk en die prys van ʼn siel”:

Ek wonder hoeveel geniet mens regtig die sterre in die Karoo met ‘n pistool teen jou kop? Hoe mooi is ‘n Afrika-sonsondergang werklik wanneer jou (wit, Afrikaanse) kinders geen toekoms het nie? Is die skaapvleis regtig so lekker as die boer wat daai skaap laat slag het, gemartel en vermoor is? Of is dit net mense wat direk deur geweld geraak word wat mag emigreer?

Ek bewonder die optimiste wat glo dat dinge gaan beter word. Dit is ook nie ‘n geloofsaak nie: die Vader, Seun en Heilige Gees is in Kanada ook. Hy is orals.

Emigrasie is so oud soos die aarde self. Die Israeliete was emigrante. Dit het hulle ongeveer 40 jaar geneem daar deur die woestyn, maar hulle het uit Egipte getrek. Jan van Riebeeck was ‘n emigrant. Dus is al ons voorouers emigrante. Mense emigreer nie omdat hulle ruggraatloos is, swak is, of probleme nie meer kan hanteer nie. Inteendeel.

Mens kan mos maar kies waar jy wil woon of nie. Elke mens moet besluit waarmee is hy bereid om mee saam te leef, en waarmee nie. Elke gesin wat emigreer (of gly, soos die kwaai ouens dit noem) het sy of haar eie redes. Vir nie een emigrant was dit maklik nie.

Alle emigrante mis dit om te braai. Ons mis ons kultuur. Ons mis ons mense. Ons sou ons mense gemis het, al het ons net in ‘n ander provinsie as hulle gewoon. Terloops, daar is skaapvleis in ander lande ook, en die kos is net so lekker. Waarvoor ons wel ons “siele verkoop” het, is vreedsaamheid, wet en orde, en ‘n toekoms vir ons kinders. Ons belastinggeld word nie gesteel nie. En niemand haat my net omdat ek ‘n wit vel het nie. Die redes is legio. Maar indien enige iemand dink ons het die maklike uitweg gekies: ons wag elke dag vir die “maklik” om te begin.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Suidkus ·

Al breek dit my hart om my kinders te sien gaan, Kanada toe, waar ookal, maar hulle moet gaan, terwille van my kleinkinders. Vir niemand is dit lekker nie, nie vir hulle wat gaan nie en ook nie vir ons wat agterbly nie. Dit is nie ‘n maklike besluit nie en die gedagte is ‘seer’. Wie wil jou kinders en kleinkinders sien gaan? Nie ek nie, maar ek weet, daar is geen ander keuse nie. Breek my hart!

Tan ·

Ek stem 100% saam dis baie goed gestel en dis baie lekker om te sien hoe jou kind vrylik in n parkie (wat nie afgebreek vermors of verbrand is) kan speel. Vooruit hardloop op n sypaaidjie sonder vrees dat iemand gaan stop en hul gryp nie. Wonderlik om te weet my kind kan huistoe stap of veilig op die bus huis toe ry sonder vrese dat dit aangeval en verbrand sal word. Dis die moeilikste alleen pad wat mens stap maar elke tree die moeitewerd.

Nicolette van Niekerk ·

Ons almal sit in die buiteland oor ons kinders se toekoms. Nie vir onsself nie. Ek mis my ouers. Maar as ouer self het ek in my hart my kind op my rug getel, sy oë toegemaak. Hom getroos en gehardloop so vinnig as wat my bene my kon dra. Dit is wat instink doen. Hy speel nou tot laat in die aande buite, saam maaitjies in enige park en slaap met oop deure en droom oor wat hy wil word eendag as hy groot is. En ek slaap beter oor hy veilig is.

Afrikaner? ·

Dis my mense of ons Afrikaners dit of dat of my kind se siel blah blah blah. Dis lagwekkend. Die helfte van julle weet nie eens wie bly langs jou of twee huise van jou af nie masr dan praat jy van ‘my mense’. As die kans hom voordoen dan sal jy nog jou mede Afrikaner deur die ore werk, so baie gee jy om vir ‘jou mense’. Wat doen jy vir jou mense in die plakkerskamp? Redding van jou siel is in Christus, waar jy bly het nie ‘n bydrae tot dit nie. As jy dors is drink water.

Sideliner Opinions ·

Wie het gesê jul het die maklike uitweg gekies? Daardie groot prys wat mens in verlange en gemis moet betaal is presies wat Ernst probeer sê is dit wat vir hom te veel gevra is vir die voordele wat jy noem. Sy siel gaan te veel en te lank pyn, soos jyself sê joune nou doen. Daardie dieper dors wat geen ander plek kan les nie, is wat hom teen emigrasie laat besluit het. Hy respekteer jou keuse maar verkies om ter wille van die behoud van dit wat vir hom waardevol is, nie te emigreer nie en hier te bly ten spyte van al die nadele wat jy genoem het. Hierdie moet nie ‘n vir of teen debat word nie. Elke persoon is in beheer van sy eie lewe. Soos Ernst sê, is dit ‘n kwessie van perspektief. Jy het joune en hy het syne. Respekteer dit. Jy moet positief wees oor jou besluit en hy oor syne, as jul ‘n sukses daarvan wil maak. Sterkte daar in die koue, verre vreemde. Mag jou drome waar word.

pinkie ·

Dit is die waarheid. Wens ons was ook so bevoorreg om uit hierdie ‘hell hole’ te kon padgee. Ek bid maar net dat my seun graad vang en ‘n werk oorsee kry. Weg van vrees en veroordeling bloot omdat hy blank is.

Sarel ·

Indien ‘n beter toekoms kan skep. Dit is egter ook ‘n feit dat daar soms bejaarde ouers alleen agter bly en dit is hartseer. Verder is dit ook ‘n feit dat met elke persoon wat emigreer raak ons getalle minder. De Afrikaners emigreer al vir jare. Dink aan die Groot Trek, Die Dorsland Trek en die groep wst hulle in Argentinië gaan vestig het.

Sideliner Opinions ·

Mariska, wie het gesê jul het die maklike uitweg gekies? Inteendeel, Ernst sê juis dat hy nie bereid is om te emigreer nie want die prys van sielepyn (wat jy erken dat jyself nou ervaar) wat emigrasie veroorsaak, vir hom net te groot en te lank is om daardie stap te neem. Daardie dieper dors wat geen ander plek kan les nie, motiveer hom om SA met al sy rissikos te aanvaar as sy sieletuiste. Dit wat hy met immigrasie moet opoffer is vir hom persoonlik te waardevol om dit te verruil vir die voordele wat jy noem. Hierdie moet nie ‘n vir of teen debat word nie. Dit is ‘n kwessie van perspektief soos Ernst sê. Jy het joune en hy het syne. Respekteer dit. Jy moet glo in die redes vir jou besluit en hy in syne as jul beide suksesvol wil wees. Ons wens jou en jou kinders sterkte en geluk toe daar in die koue verre vreemde. Mag jou drome waar word en mag jou dapper besluit vrugte afwerp vir jou kinders.

Christine Marais ·

Die dame is besonder sensitief oor ‘n jongman wat bloot vertel het hoe lief hy v sy land & mense is; dat dit is waar hy voel hy hoort. Ja, natuurlik is ons optimisties, dis hoekom ons geskiedenis kan vertel v ‘n AB. Julle is welkom om te gaan waarnatoe julle wil, v watter rede julle ookal wil. Ons wil hier bly, dis die beste v ons & ons is trots op ons land & die wat hier bly, wat hom wil maak werk. En ons sal dit sê.

Anna ·

Ek stem. Dit is nie verkeerd om lief te wees vir jou land nie. My kinders wil nog minder as ek loop maar as ander wil gaan moet hulle dit doen.

Gjorgi ·

Ek stem saam Christine….dis so asof sy haarself wil verdedig, wel, ons kan onsself (die wat bly) seker ook maar verdedig? En dis wat sy artikel gedoen het.

Sue Coetzee ·

Die wat gaan en die wat agter bly. Ons dogter en haar gesin woon in Luxembourg en seun en gesin in Perth. Dis swaar, maar ons verstaan. Maklik is dit nie, maar dankie vir what’s App en Skype.

Gjorgi ·

Dis maklik om te sê ek doen dit vir die kinders maar vir elke persoon wat dit sê kan ek jou een wys wat dit vir homself doen. Gaan lees weer Ernst se artikel, dit gaan ook oor hoe ons hier gekom het en as jy nie veel ag slaan op al daardie harde werk en opofferings van ons voorouers nie wel….miskien moet jy dan weer gaan kyk hoe jy jou kinders grootmaak.

Gerhard ·

So wat daarvan as iemand dit vir homself of haarself doen?

GB ·

Daar is ook n ander aspek wat mense hulself deeglik van moet vergewis voordat hulle besluit om te emigreer, veral as hulle wil gaan ter wille van hul kinders se toekoms. Dit is die vraag: waarheen is die Weste op pad?

Gaan dinge nog so goed gaan daar oor twintig of dertig jaar? n Mens wonder as jy kyk na die golf van onwettige immigrante wat hul teenwoordigheid in Westerse lande al hoe meer laat geld. Saam daarmee is die probleem van n stadige bevolkingsgroei onder Westerlinge. Hoe lank gaan die Weste nog die Weste wees?

Daar is ook ander gevaarligte soos die tipe onverdraagsame liberalisme en militante ateisme, waarteen Ernst Roets dit in n onlangse artikel het, wat besig is om die ou waardes waarop die Weste gebou is heeltemal weg te kalwe.

Hoe tragies sal dit nie wees as die volgende geslag Afrikaners in die vreemde voel hul word verstik nie, en dan is daar geen huis om na terug te keer nie. Ook ter wille van hulle moet die wat bly, hier n plek probeer uitkap.

Rasper ·

Afrikaners het by ‘n kruis-pad uitgekom met net twee keuses. Emmigreer, of maak ‘n daadwerklike plan om vir onsself te sorg. Daar is nie meer ‘n middel grond nie. G’n stem vir watse verkiesing, of wag vir ‘n beter ANC president gaan iets aan ons toekoms hier in Suid-Afrika doen nie. Punt, klaar. Wie anders dink, gaan vir familie op die lughawe groet, en oor ‘n jaar of twee in ‘n Suid-Afrikaanse Zimbabwe wakker word. Tyd het gekom om te beweeg. Stil staan is so goed soos opgee. Spring saam met Solidariteit en Afriforum aan die werk, en maak jou lewe hier beter. Indien dit nie vir jou is nie, maak jou planne reg om te emmigreer. Daar is nie baie keuses om jou deurmekaar te maak nie, dit is net twee…..

Gys ·

Mense erken nie sommer hulle het ‘n fout gemaak nie (verkeerde motor gekoop, met verkeerde persoon getrou, verkeerde beroep, ens.).
Diegene wat emigreer, sal nie sommer erken dit was ‘n fout nie.
Diegene wat bly, sal ook nie sommer erken dit was ‘n fout nie.
So neem maar mense se woorde met ‘n knippie sout.
Is dit werklik so fantasties in die buiteland soos wat die emigrante sê?
Is dit werklik so fantasties in SA volgens die blyers se woord?

Gerhard ·

Ek dink dit is eerder n geval van solank dit nog goed met jou gaan in die Nuwe SA teenoor wanneer dit nie meer goedgaan met jou nie.

dejager ·

Vir my is emigrasie weghardloop.Dit is net nie ń opsie nie.As ek ongemaklik is oor die moorde op my mense en die diskriminasie teen my mense dan gaan ek nie beter daaroor voel in Kanada of Australië nie.My mense is my mense – ek het hulle nie gekies nie – hulle is deur God aan my gegee op my geboortedag.Ek is hier om my mense te dien en dit sal ek doen ongeag die omstandighede.As dinge nie werk nie dan maak ons dit werk.Dit is waar -God is orals maar weet jy ooit waarvoor jy geskape is?Het jy Hom al gevra wat jou lewensdoel is?

Henry ·

Jou voorouers wat hierheen weg ‘gehardloop’ het, soos jy dit stel, was ook verkeerd. Hulle het -volgens jou – dus ook nie hul mense wat hulle agter gelaat het ‘gedien’ nie.
:-)

Jesse ·

As ons maar net kon sou ons ook “gly”… jy praat uit meeste van se ons se mond.

Heinrich van Zyl ·

Nee wat, ek sal my motorfiets toere deur die Karoo en Suidwes te veel mis as ek moet emigreer.
Dan moet ek maar gehaat word. Ander mense se gevoelens teenoor my laat my in elk geval koud. Daarvoor is my vel te dik.
En as ek amper heeltyd ‘n vuurwapen by my moet dra, dan is dit nou maar so. Ek is in elk geval versot op vuurwapens.
Wat wel geëmigreer het, is my geld.

KaterinaKat ·

Jy het die regte besluit geneem, Mariska. Dit gaan werklik my verstand te bowe dat enigiemand want kan bekostig om hierdie helhool te verlaat, verkies om the bly. Braaivleis is nie alles nie, jy kan nie eet as jy dood is nie. Ek vergroot nie as ek se ek sou my linkerarm gee om uit hierdie vervloekte land the kan ontsnap. Good grief ek sou my regterarm gee, al is ek regs. Daar is nie woorde vir hoe ek mense beny wat kon ontsnap nie.

Amanda ·

“Dulce et decorum est pro patria mori”…..it is sweet and fitting to die for one’s country.
Patriotisme is so oud soos die berge. Dis filosofies, dringend, inspirerend, oproepwekkend en spreek tot die edele in ons wese.
Totdat jy by jou vermoorde kind se graf staan.
Totdat jy die verminkte liggame sien van die slagoffers van plaasaanvalle.
Totdat jy wonder hoe jou kinders se kinders hier sal kan oorleef, waar ‘n lewe nikswerd geword het nie.
Dan lyk patriotisme vaal en ontoereikend om die verliese uit te balanseer.
As jy bereid is om jou lewensfilosofie te skoei op Dulce et decorum est pro patria mori – as jy bereid is om die hoogste prys te betaal moet jy bly.
As jy in jou kinders en kleinkinders se oë kyk en jouself kan wysmaak dat jy hulle net so lief sal kan hê as jy hulle grafte besoek, moet jy bly.
As jy jou nie kan versoen om die hoogste prys te betaal nie, moet jy gaan.
Die keuses is eenvoudig, die implikasies egter, is legio.

Verskil ·

Dit is bietjie kras – hiermee impliseer jy dat almal se kinders vermoor gaan word? Misdaad is buite beheer, maar jou kommentaar ook.

@Verskil ·

Een kind wat hier onnodig sterf is kras en buite beheer.

Erik ·

Ek dink dit is belangrik om ander mense nie te oordeel nie, aangesien almal hulle eie redes en omstandighede het. Indien ek werkloos was, of deur ernstige misdaad deurgeloop het, het ek ook emigrasie oorweeg. Ons land is op die afdraende pad, maar hoekom moet ek emigreer indien dit goed gaan met my, indien my hart gelukkig en vol hier is, en waar my kinders groot word tussen oupa’s, ouma’s, niggies, neefs en oom en tannies? Hoe meer mense emigreer, hoe meer geleenthede is daar vir my in hierdie land. Ek bly juis hier vir my kinders se siel! Sien nie kans vir ‘n perfekte speelgoed sekulêre wêreld waar alles werk en Christenskap besig is om te kwyn nie. Wat help dit my kinders is fisies veilig, maar my nageslag se siele nie gered nie? Dinge kan egter verander, my siening ook, dan sal ek emigreer. Bly of gly is almal se persoonlike keuse, maar vir nou is ek nog te gelukkig net hier! Ek en my vrou het nog nooit gesukkel om werk te kry nie (net genade – ek weet!), ook nie deur ernstige misdaad getref nie. En moet asb. nie vir my sê dis net ‘n kwessie van tyd voor misdaad my ook tref nie…ek wag al 4 dekades.

dejager ·

Ek sal emigreer as die hele afrikanervolk en my taal saam met my sal emigreer.Ek sal selfs in die Golan hoogland of in Sirië gaan oorbegin maar dan moet my hele volk saamkom.Ek wil my kinders in my taal en kultuur grootmaak.Ek wil hê hulle moet ook my volk se mense wees.

Agie ·

Siestog Mariska Rabie
Wou jy jouself en al die ander weghollers troos?
Suid-Afrika is my geboortegrond

Essa ·

En so het elke saak twee kante en is dit elke kant se reg om sy saak te stel en sy gevoelens daaroor te hê.
Ons wat hier bly is reg, en sy wat verhuis het het met haar brief baie perspektief gegee op hulle besluite.

Philip ·

Dis ‘n kwessie van perspektief – waar elkeen op sy eie perspektief geregtig is. Myne is eerstens dat hierdie wereld nie ons woning is nie, tweedens as Christen weet ek dat ons in die laaste dae seker mag wees dat ons vervolging op elke lewenstertein kan verwag, derdens moet elkeen wat wil “gly“ baie eerlik wees oor die rede waarom hy/sy dit doen, vierdens dat watookal jou keuse is – ek nie tot vervelens toe jou regverdiging hoef aan te hoor nie. Dus maak jou keuse en “get on with your life”. Laastens – waarheen jy ookal besluit om te gaan – onthou dat jy jouself met al jou vrese en issues saamneem. Kweek ‘n dik vel: wat ander in elk geval van jou dink, het niks met jou uit te waai nie…

Philip ·

… O ja, en vir die wat so graag die “siel van die kind” as beweegrede aanvoer: hoe lyk die kind se siel na ‘n paar jaar se blootstelling aan ‘n sekulere, humanistiese, heidense en polities-korrekte leerplanne en samelewing so eie aan die “beskaafde” Weste?

Ozymandius ·

So die blootstelling aan sekulêre, humanistiese, heidense, en polities- en -ras -gedrewe leerplanne midde die misdaadgeteisterde samelewing in SA is beter?

marco polo ·

Uitstekende skrywe, Mariska. Ek was nou vir n maand met vakansie in SA en as dit nie vir my kinders en vriende was nie, het ek nie eens die moeite gedoen om terug te kom nie. Al wat ek in die media gesien het was dood en moordslag, almal is negatief en dienslewering is uiters swak, met die houding dat jy n guns bewys word om gehelp te word. Ek het nie geemigreer nie, daarvoor is ek te oud, maar ek sien uit darna om terug te keer na my tuiste in die Ooste, waar ek veilig voel, en waar ek voel asof ek behoort en waardeer word. En die vuurtjie waarlangs ek sit terwyl ek skryf, en die vet van die lekker biefstuk nog op my lippe is nie genoeg om my hier te hou nie. Ek was nog altyd n voorstaander van n volkstaat, maar ek is bevrees dit lyk asof dit net n droom gaan bly. Daar IS n lewe buite SA en net soos ons voorvaders getrek het, kan ons ook trek en die ou suurknolle wat nie die insig het om die skrif aan die muur te sien nie, agterlaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.