“My seun het my lewe gered”

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Deur Anni van Zijl

Ek wil graag my getuienis met jou deel, omdat ek glo dit sal ook ander mense help om te weet Jesus los ons nooit nie. Hy kom haal ons op plekke waar gewone mense nie sal gaan nie. Hy maak ons vry en sement ons voete vas op die Rots. Jesus gee nie net hoop nie, Hy is ons Hoop, ons Verlosser en ons Saligmaker. Hy is die middelpunt van alles.

Ek is Anthea (Anni) en ʼn voormalige dwelmverslaafde wat vir tien jaar heroïen, crack en dagga gebruik het en ook betrokke was by prostitusie, heksery en die okkulte. Ek was ook in ʼn lesbiese verhouding. Dis ʼn lang lys, maar my lewe was ʼn gemors. Ek was ook in motor- en motorfietsongelukke en het probeer selfmoord pleeg.  En tog het ek bly lewe. Die laaste ongeluk was met ʼn motorfiets, waarin ek baie erg beseer is. Weer ʼn keer het Jesus my uitgehaal.

My seun was ses jaar oud toe sy pa ons gelos het vir ʼn ander vrou. Ons was stukkend en gebroke, maar ons moes aangaan met die lewe. Ek het nie ʼn inkomste gehad nie en kon ook nie werk kry nie. Aangesien ek nie kon werk om ons te onderhou nie, het ek my na prostitusie gewend. Dit het my hele menswees afgebreek.

Aangesien ek nie baie geld gemaak het in bordele nie, het ek my na die strate gewend. Hier het ek ook met dwelms deurmekaar geraak. Dit het deel van my lewe en bestaan geword.

Ek dank God ek het my seuntjie nooit verniel nie. Hy was altyd my eerste prioriteit en ek het altyd seker gemaak hy is versorg. Hy het grootgeword en op twaalf begin drink. Op veertien het sy vriend hom uitgenooi na ʼn jeugkamp, waar hy tot bekering gekom het en gedoop is.

Op die kamp het hulle ʼn kruistog gehou. Hulle het ʼn vuur gemaak en elke kind het ʼn kruis uit tamatiekisplankies gemaak. Hulle moes hul gebedsversoek op die kruis skryf en daarvoor bid en dit dan in die vuur gooi. Hy het letterlik op sy knieë geval en God gesmeek om sy ma te red. Hy het vier jaar lank elke jaar die kamp bygewoon waar hulle vir my gebid het.

Terwyl hulle vir my gebid en hy God vertrou het met my redding, het ek ʼn paar keer byna gesterf. Na die vierde kamp het my seun my die soveelste keer gevra om net een kruistog saam met hom te doen en ʼn versoek vir God te gee.

Ek het ingestem net om hom uit my hare te kry. Al wat ek daar gesê het was ‘Here ek is moeg, red my.’ Ek het die papiertjie toegevou en in die vuur gegooi. Vyf maande later het God my seun se gebed van vier jaar beantwoord.

Hy het my uit die hel gehaal en my vasgesement op die voete van Jesus Christus. Ek het nie rehabilitasie gehad nie, geen medikasie nie, niks. God het alles in ʼn oogwink verander. Hy gee my wilskrag en deursettingsvermoë.

Binne die eerste drie dae van ontrekking het ek my lesbiese verhouding beëindig en ek was ook vry van die okkulte en alles wat daarmee saamgaan. My lewe het verander van wanhoop na hoop.

Dit is nou drie en ʼn half jaar later en ek is nou ʼn geesvervulde kind van God. My kind se gebed het my lewe gered. Hierdie is maar net die oppervlak. Die groeiproses was moeilik en dit was moeilik om vergifnis te vra en te gee.  Die moeilikste was om myself te vergewe en om te leer Sy genade is vir my genoeg.

God se krag het my gedra toe ek op my swakste was. Jesus het my hoop en liefde gegee toe almal gedink het daar is geen hoop nie. God het Sy hand uitgesteek en gesê: ‘kom My kind, jy is Myne’.  Hy het my vry gemaak en my ʼn toekoms vol hoop gegee.

My seun het op 27 Julie 2016 gesterf terwyl hy in ʼn diabetiese koma was. My pappie het ʼn week later gesterf. My hart is stukkend. My hele wese voel asof ek uitmekaar val, maar ek weet God is goed. God is genadig en groot. Ek sal treur, maar nie gaan lê nie. Ek sal Jesus dien en Hom liefhê. Ek sal op God vertrou en op Hom steun om my deur hierdie verskriklike seer te dra. Hierdie getuienis sal voortgaan tot eer van God, want daar is lewe na die dood wat Jesus moontlik gemaak het toe Hy aan die kruis gesterf het.

Dit is totsiens, my kind en my pappie, maar nie vaarwel nie.

 

  • Anni van Zijl is een van die sprekers by die kongres “ʼn Hoopvolle toekoms”-vrouekongres wat op 29 Oktober vanjaar in Rustenburg aangebied word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor dié geleentheid.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

rudolph ·

Dankie vir die awesome getuinenis Anni..jy is ‘n voorbeeld van SY LIEFDE EN GETROUHEID

Sterkte vir die pad vorentoe!

ook n Jesus kind! ·

Dit is n wonderlike getuienis.Jesus red en genees.Dit is weer n bewys dat ons net moet aanhou bid,glo en vertrou.Die woord se Jesus is getrou en regverdig,en op Sy tyd sal ons gebede beantwoord word.Ek het n baie lang lysie van al die wonderwerke wat Hy al in my lewe gedoen het,en nogsteeds daagliks doen.Vir elkeen daar buite wat moedeloos is,en voel die lewe het nie meer sin nie,JESUS IS DIE ANTWOORD!!!!!!

simone ·

Jesus het my ook opgetel. Ek was vir 30 jaar aan toonbank medikasie verslaaf. Hy het my ook verlos. Sonder enige rehabilitasie. Die pad was moeilik, maar danksy my man wat my met liefde bygestaan het is ek al vir 4 jaar skoon. Sterkte vir jou Anni. Ek is dankbaar saam met jou.

Nog 'n kind gered ·

Ek was ook deur ‘n dwelm hel en prostitusie, tronk straf en ander misdade. Ek was ook menigmale amper dood. Ek het op ‘n Vrouekamp gegaan (teen my wil… ) en het daar ook teruggekeer!! Jesus is besig met SY groot plan terwyl hy ons voorberei vir die ewigheid. Prys die HERE, want HY is Groot en Goed. Liefde!!

Joaline ·

Jy is ‘n amazing mens – dankie vir jou storie. Jy gee soveel mense nuwe HOOP!

sylvia ·

Dit is so amazing, jy is amazing dankie jy gee my hoop vandag.

Sandra ·

Dankie vir hierdie wonderlike getuienisse. Dit was opbouend en nie so afbrekend soos die mense wat Oscar so veroordeel nie. My ma het altyd gesê: Die lewe is vol draaie en doodloopplekke. Maar met Sy hand op my skouder, SAL ek deurkom!

Cheryl ·

Wat ‘n wonderlike getuienis! – Baie sterkte vir die pad vorentoe sonder jou seun en pappie – God is Groot!

Jeanne ·

SANDRA – En nie so onvanpas soos jou VERWYSING NA OSCAR NIE, wat het OSCAR nou met hierdie pragtige verhaal van hierdie vrou te doen? Word tog groot.

Anni, ek is baie bly jy het God gevind en is van al die ou gewoontes ontslae, ek wens jy het meer tyd saam met jou seun en jou pappie gehad, mag jy rus vind in HOM, vrede vir jou!

Michelle ·

Anni – ek haal my hoed vir jou af. Wat ‘n wonderlike getuienis is dit nie hierdie nie. Dit is verskiklik dat een mens soveel pyn en lyding moet deurgaan. Mens besef nie wat buite alles gebeur nie. – Baie sterkte vir jou.
Kan net se “PRYS DIE HERE”.
Mag sy hand van bewaring altyd oor jou wees.

Adele Maritz ·

Sjoe sjoe sjoe. Hoe groot is ons God nie inderdaad. Ek is in trane. Jy is n sprekende voorbeeld dat as jy eers God gevoel en beleef het jy geen ander rigting wil ga. Jy het besluit om steeds God te kies na al jou pyn en leiding. Eere aan God!!!!! Jy is een van sy wonder kinders en jou doel op aarde is nie vervul nie. Basein jou getuie uit sover as moontlik. Jesus liefde Adele

Ans ·

Sjoe dit is nou n baie mooi getuienis. Prys Sy Naam Amen. Anni ek is so bly jy het die regte keuse gemaak Sterkte vir jou en ja by God is ons altyd veilig hou vas aan Hom Hy is getrou. Ek groet jou in Jesus se naam xx

peanut ·

Liewe Anni
Wat n kragtige getuienis. HY het jou waarlik diep uitgehaal en nou staan jy op die ROTS wat nooit verkrummel of wankel.

Jy is SYNE en met jou getuienis bring jy soveel ander nader na Hom, ons Redder.

Baie dankie dat jy die vrymoedigheid het om jou diepste seer met ons, wild vreemdelinge, te deel. Mag ons Vader Elohim jou elke dag meer en meer sene en bewaar.

Annina ·

Hallo Anni. My naam is Annina en my bynaam is Anni. My man is 7 Julie 2016 oorlede. Ons was 27 jaar saam en 24 getroud. Hy is dood 8 dae nadat terminals pankreas kanker ge diagnoseer was. In my hart weer ek dit was Sy tyd, hy het vrede gehad. Ek en my seun (enigste kind) is stukkend, maar weer God is met ons. Mag hy jou krag gee. Baie dankie vir jou getuienis. Prys die Heer. Wanneer Jy Om en Om in sirkels loop wn voel asod Jy kan sterf van hartseer, weer dat God jou trane Sal afdroog. Annina

Maria van Dieweeck ·

Anni ek bewonder jou, wat n mooi vrou is jy. Ek bid vir jou

Proppie ·

Waarlik… Jesus is goed. Dankie vir U getrouheid en genade!!

Jan Jooste ·

Baie dankie Anni en voorspoed. GENADE onbeskryflik groot. Aan Sy liefde is daar geen einde nie.

Nella ·

Sjoe! Kan net se Amen op die getuienis.
Dankie dat jy so gehoorsaam is en dit met ons almal deel. Wat ‘n wonderlike lewende bewys is jy van Christus/ons Pappa Vader in die Hemel, se onvoorwaardelike liefde! By God is enige iets moontlik en kan hy RADIKALE veranderinge bring! Sterkte met jou groot verlies en hartseer. Gaan so voort om vas te hou aan God. Jou getuienis gaan en het reeds soveel harte aan geraak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.