My vriende die Koerde

My vriende die Koerde

Hügo saam met Soheila, Seyhan en Somayeh. Soheila en Somayeh is van Iran Koerdistan en Seyhan is van Turkse Koerdistan. Foto: Verskaf.

Deur Hügo Krüger

Die Afrikaners moet begin uitreik na die Koerde as hulle ernstig wil raak oor taalgemeenskappe.

Hier in Europa raak dit al moeiliker om nié bewus te wees van die vlugtelingkrisis ná die opkoms van die Islamitiese Staat (Isis) in onder meer Irak en Sirië nie. Daar is wel een groep vlugtelinge wat uitstaan te midde van die onreg van die hedendaagse wêreld asook dié van die vorige eeu: die Koerde van Koerdistan.

Dit is die ongeveer 40 miljoen mense wie se tuisland destyds tydens die Eerste Wêreldoorlog, ná die val van die Ottomaanse ryk, in vier lande, Irak, Iran, Sirië en Turkye, verdeel is deur Brittanje en Frankryk. Geografies is dit ʼn bergagtige streek en die moondhede Brittanje, Rusland, Frankryk en die VSA het die situasie misbruik om onstabiliteit in die lande te saai. Die meeste Koerde woon in Turkye, of Anatolië, soos hulle sê.

Kultureel is hulle nader aan die Persiërs van Iran. Een aktivis van Iran vertel my: “Ons is steeds nie heeltemal Persies nie, ek is ʼn Koerd”. Daar word ook beweer dat hulle afstammelinge kan wees van die Meders waarna die Bybel verwys, maar dit is nog nie heeltemal bevestig deur DNS-toetsing nie.

Die Turkse regering het ná die val van die Ottomaanse ryk ʼn wrede uitwissing van die Armeniërs gepleeg, maar min word gesê oor die wreedhede wat teen die Koerde gepleeg is. Aktiviste is as terroriste gedoop en sit nou nog in die tronk, families is geteister of vermoor. In Irak het Saddam Hoesein tydens die oorlog met Iran en later tydens sy 12-jarige tirannie chemiese wapens teen die Koerdiese minderhede gepleeg ten spyte daarvan dat die meeste ook Soeeni-Islam nagevolg het. Derduisende het gesterf aan mosterdgas – ʼn oorlogsmisdaad volgens die Geneefse konvensie. Van die twee miljoen Iranse soldate wat gesterf het, was ʼn groot gedeelte Koerde gewees.

Toe die VSA destyds die oorlog teen Irak begin het, het miljoene Koerde die Amerikaanse soldate as bevryders verwelkom, maar baie van hulle se huise is plat geskiet en families verplaas – vandag bedel van hulle op die strate van Berlyn, Parys of Brussel. Ná die onttrekking van die VSA het hulle eerste met die wreedhede van Isis te doen gekry. Terselfdertyd het die Siriese regering van die Koerdiese vryheidsvegters gebombardeer en aktiviste toegesluit. Die Yazidi’s, ʼn Koerdiese minderheid, word deur Isis as seksslawe aangehou.

kurdestan-vlag

Die vlag van Koerdistan. Foto: Youtube.com

In Iran gaan dit effens beter met die Koerde, daar is ʼn semi-outonome regering, maar soos ʼn Koerdiese vrou my vertel het: “Ons word maar net verdra”.

Die Koerde het ook hulle eie taalgemeenskap, maar die taal is in skole verbied in al vier lande. Nietemin is daar nog Koerdie organisasies wat kinders die taal leer. Die Koerdiese Turk Ali vertel aan my: “As ek in Turks, Arabies of Farsies begin dink, dan verloor ek wie ek is.”

Die tyd het dalk gekom vir die Afrikaanse gemeenskappe in Suid-Afrika om bande te begin bou met hierdie mense. Ons uitdagings is anders, maar in beginsel voel ek dit is ʼn morele saak om die onafhanklikheid van Koerdistan te ondersteun. Afrikaners sal nooit vergeet hoe Ierse, Russiese, Poolse, Duitse en Italiaanse soldate ons ondersteun het teen Brittanje nie. Dit is tyd dat ons begin brûe bou, met dié wat ook in nood is.

Ek vra die Koerde toe, wat wil julle eintlik hê van al die lande?

Hulle antwoord was duidelik: “Ons wil net hê dat hierdie lande ons begin respekteer en vir ons ook erkenning begin gee.”

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dissipel ·

Ai John, mag ek jou herinner aan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan?

John ·

Dissipel, Angela Merkel voel ook so. Welsyn sonder die verkondiging van die Woord verdien egter geen punte in die Hemel nie. Moslems sien neer op Christene en Jode en beskou Christus as bloot ‘n profeet. Maar bring hulle gerus hierheen as jy met hulle saamstem. Ons het juis te min opwinding en variasie in die landjie van ons.

Saamstaan ·

Wat van as al ons ondersdrukte volke in die wereld wat versoenbare waardes het saamstaan en n vereeniging vorm?

Struktuur ·

Ek het in die Anatoliese berge naby die Siriese grens gewerk tussen die mense. Omtrent almal wat ek daar ontmoet het is Moslems en ek is elkedag op hul hande gedra as Christen. Een naweek het ek en ‘n kollega net sommer rond gery en ons was ingenooi in ‘n wildvreemde man se huis met die meeste gasvryheid ooit. Hul het omtrent met ons gedeel, maar wat ek tot vandag nog kan onthou is die smaak van die wilde europeuse heuning koeke saam met die vars brood wat soos ‘n pannekoek gebak is. Alhoewel my Turks maar swakkerig is wil ek steeds vir die man tesekur edderum sê. Wonderlike mense.

Rupert Ashford ·

Dankie Hugo. Hierdie mense kry swaar en hoewel jy se “ons uitdagings verskil” is die dag dalk nie ver dat ons uitdagings dalk nie meer so baie sal verskil nie. Een van die grootste onregte wat uit hierdie hele Amerikaans-inisieerde Siriese gemors kom is dat Turkye dit gebruik as ‘n verskoning om nog meer Koerde dood te maak onder die dekmantel van “terrorisme beveg” terwyl hulle IS vrye deurgang deur hulle land gee om mense in en uit Sirie te kry en ook om olie en ander kommoditeite te beweeg en te verkoop om hulle oorlog aan die gang te hou. En die wereld kyk anderpad.

Nico K ·

Ek moet sê dat ek gedog het daar is meer Christene onder die Koerde. Ek het nie besef soveel van hulle het Moslems geword nie. Maar ek dink die meeste mense mis die punt. Wat ons in gemeen het is dat ons albei minderheidsgroepe in ‘n land is. En daar is baie minderheidsgroepe soos ons. En min van die groepe het enige regte in ons lande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.