Lesersbrief: ʼn Aangename ondervinding

ian-de-jager-boggom

Ian de Jager (Boggom). Foto: Verskaf.

Boggom van Pretoria skryf:

Ek was vandag by die Akasia-lisensiekantore in Daan de Wet Nelrylaan, Pretoria, om my bestuurderslisensie te hernu.

Vir diegene wat ook een of ander tyd moet plan maak: jy het ʼn gesertifiseerde afskrif van jou ID nodig, jou ID self, jou rybewys (bestuurderslisensie) en R228 in kontant. Indien jy vir ʼn tydelike lisensie gaan aansoek doen, het jy ook ʼn foto van jouselwers nodig en ʼn addisionele R72 in kontant.

Ek het sommer weer hoop gekry vir ons land vandag. Die beampte wat my ID gesertifiseer het, was die vriendelikheid vanself – soveel so, dat ek 50 meter verder, onderweg na my volgende bestemming, omgedraai het en haar weer gaan bedank het, net omdat sy my dag gemaak het met haar vriendelikheid.

ʼn Vreemde ou en dié se vrou het vriende geword en sommer Boggomjane ook, soos wat ons skuifel-skuifel aan beweeg het in die ry. Die beampte wat my oë getoets en vingerafdrukke geneem het, het my gekomplimenteer en genoem dat ek mooi verouder. Was ek ʼn vrou, het ek my oogwimpers gefladder en gebloos.

Die kassiere het my humor waardeer en lekker saamgelag en ek het ʼn vriendin raakgeloop wat my ʼn klapsoen en ʼn lekker stywe druk gegee het.

Ek is sommer lus en gaan Woensdag weer.

Maroelas en al daai mooi dinge!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deon Naude ·

Ek was laas week daar, dieselfde diens gekry, was daar vir ‘n uur toe is ek in en uit, moet se ek was net voor 08h00 daar

H Groenewald ·

Ek is ook een wat dit aangenaam vind ommet die Verkeersdepartement in Akasia te doen te kry. Hulle verdien die pluimpies wat na hulle kant toe kom! Welgedaan, en baie dankie!

Alida Müller ·

Ek was vanoggend 8 vm by Somerset Wes tak. Ek is 20 voor 9 daar uit. Hernuw8ng van my bestuurslisensie in die sak. Ek het eergister die groen vorms ingevul wat my man so gaaf was om vir my te bring. Ek het nog 3 fotos gehad van so jaar of wat terug….. hulle het slegs 1 benodig. En ek het my oogtoets verslag van ‘n week gelede vir my nuwe leesbril by Oogarts gaan haal. Dit het my R140 gekos. Dus is ek in en uit en baie vriendelik gehelp met net 3 mense voor my in die ry in minder as 45 min. Dankie Somerset Wes. Julle is TOPS!!!!

Heinrich ·

Ai tog, wens ek kon dieselfde ondervinding hê: ek en my vrou was by Krugersdorp, en watter slegte ondervinding was dit nie! Die proses het amper twee ure geneem. Jy word nie gegroet nie, jy word nie gevra vir papiere nie dit word net gegryp, instruksies om na ‘n volgende kamer aan te skuif word kortaf soos ‘n korporaal met ‘n selfbeeldprobleem uitgeblaf. Die inligtingstoonbank is onbeman, daar is nie genoeg penne om die vorms mee in te vul nie. Toe ek die ongeskikste jafel uitvra oor hoekom hy nie ten minste ‘n mens kan groet nie, word ek reguit gesê dis nie in sy ‘job description’ nie. Daar was een wit man wat wat ‘n waardige poging gegee het, die res was maar meer as tipies staatsdiens. Ek moet erken ek het nie meer as dit verwag nie, en my verwagtinge was beslis bevestig.
Ek is bly die skrywer het ‘n aangename ondervinding gehad en dis goed om te weet daar is nog beskaafde staatsdienswerkers onder die klomp.

Salome Lawson ·

Ek is so trots op jou (Ian de Jager) Boggom. Jy is die beste skrywer ooit. Vir die wat hier kommentaar lewer, doen julle self n guns en gaan sluit aan by Boggom se blad op facebook. Jy sal skater vir sy humor. Hy maak al die boggomjane se lewe n lied. Toe, doen dit nou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.