Lesersbrief: ’n Brief aan die ouer generasie

dogter-meisie-uitkyk

Foto: Pete Bellis/Unsplash.com

Marisha Hermann skryf:

Geagte ouer generasie

Ek is Marisha Hermann, ʼn graad 10-leerling, ‘n trotse Afrikaner en nie bang om dit te sê nie. Ek is bevoorreg om elke jaar ʼn Geloftefees by ‘n ander plek in die land by te woon. Ek is bevoorreg om in ‘n Afrikaanse skool te wees waar God aanbid word. Ek is bevoorreg om te weet wat saamstaan beteken en hoe om seerkry en terugslae te hanteer.

Ek sien ons grond word stukkie vir stukkie weggevat. Ek sien ons taal word onderdruk. Ek sien ons boere word vermoor. Ek sien God word uit ons skole gehaal. Ek sien ons het nie meer die voorreg om Geloftedag, soos dit oorspronklik was, Geloftedag te noem nie. Ek sien die Anglo-Boereoorlog moet nou die Suid-Afrikaanse oorlog genoem word. Dis kwansuis polities korrek.

Ek sien ons standbeelde en geskiedenis word verniel en verdraai. Ek sien mense is moedeloos. Ek sien al hoe meer van my vriende trek oorsee, want hul ouers sê die land se omstandighede is sleg en gaan net erger word. Ek sien hoe my familielede oorkant die see sê dis beter daar. Ek sien hoe ons wit werkers by Sasol onregverdig behandel word. Ek sien hoe daar gediskrimineer word. Ek sien hoe ons beskuldig word.

Ek hoor ook ons as jong kinders is die toekoms. Ek hoor ook dat daar gebou word. ‘n Nuwe universiteit, ‘n plek vir ons mense. Ek hoor ook hoe daar geveg word vir ons regte. Ek hoor dat ons nie na ʼn ander land sal trek nie, want hier is ons gevorm. Ek hoor ons sal bou en veg vir ʼn toekoms wat voorlê.

Ek hoor ons sal saamstaan.

Liewe ouer generasie. Nou vra ek waarom so min vertroue in ons toekoms en die krag van ons jonger geslag? Nou vra ek, waarom sê julle daar is geen toekoms, maar tog staan ons voor julle? Waarom sê julle ons moet eerder na ʼn ander land gaan as dit hier is waar ons gevorm is?

Ons is bereid om ook vir ons plek, voorouers, taal, tradisie en toekoms te veg.

Soos ‘n student een maal gesê het: As jy ‘n ander land vir my kan gee wat al vier seisoene per dag het, dan sal ek trek. As jy vir my ʼn land kan gee met so ’n pragtige natuurskoon, dan sal ek trek. As jy vir my mense kan gee wat so lekker kan kuier en koeksisters bak, dan sal ek trek. As ek ʼn plek kan kry waar ek kan bid in my taal, dan sal ek trek.

Waar anders kry jy ‘n taal wat ‘n “r” so lekker rol en mense wat kan braai vir elke ete?

Liewe ouer generasie, hier staan ons voor julle. Moenie vir ons besluit die toekoms is verby nie, want ons is hier om te bly. Moenie moedeloos wees en ons moedeloos maak nie.

Kom ons bou, bly en bid saam vir ʼn toekoms in ons land.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

ChrisE ·

Uiteindelik. Ek is bly om dit van ‘n jonger persoon te hoor. Ek glo ook sy is nie die enigste persoon wat dieselfde standpunt huldig nie. Ons “ouer” generasie was ook op ‘n stadium kinders, en ek dink ons ouers het ook hul vrese vir die toeloms van die land gehad. Gewoonlik is dit die ouers en ouer mense wat die jong mense beinvloed en negatief te stem. Ek stem saam met jou, dit is ons land die. Die mense moet ophou negatief en swartgallig wees. Ons roem daarop dat God ons sal help, maar elke keer as ons mor en kla stelmons ‘n mosie van wantroue in Hom. Hoe gouer ons ophou daarmee hoe gouer sal dit met ons beter gaan.

JAM BEKKIE ·

Mooi so, ons weet wat ons weet, en ons sal bly!!!!!!!!!!!!!!!! As Hy vir ons is wie kan teen ons wees.

ctd ·

Baie mooi . Ons gaan net hier bly waar ek deur GOD se genade n toekoms kan bou vir ons nageslag . Om op jou knee te bly is die beste plek maak nie saak waar jou huis staan nie.

Patrys ·

WOW! Jy is amazing!
Baie dankie vir hierdie brief. Ek is deel van die ouer generasie wat soms moed verloor en dit nie kan wegsteek vir my kinders nie. Maar jou briefie het my moed gegee – dat ons ouer generasie nie alleen baklei nie, al voel dit soms so omdat ons julle wil beskerm. Dat julle die toekoms is wat reg is om saam met ons die opofferings te maak. Ons wil dit vir julle maklik maak en dit vir julle gee – dis ons moedeloosheid. Maar die wete dat julle saam baklei maak die skuldgevoel dat ons die toekoms nie vir julle kan gee nie, maar dat ons almal saam daarvoor moet baklei, bietjie meer verdraagsaam. Julle gaan so trots wees op wat julle eendag gaan kry omdat julle daarvoor moes baklei. Mens waardeer dit meer. Nogmaals dankie!

Charles ·

Dankie kind, God seen jou siel.

Ons sal uithou, aanhou en oorwin!

Luca ·

Baie wyse jong mens. Ons as blankes is nie sonder rede hier aan die Suide van Afrika geplaas nie. Ons moet weer die deursettingsvermoe van die ou Voortrekkers aanleer en Meer Vertrou op ons Hemelse Vader

pinkie ·

Liewe jonger generasie. Ek en my gesin gaan nêrens nie. Ek is hier gebore en hier sal ek doodgaan. My seun word hier groot en hier sal hy doodgaan. Ons sal veg vir ons regte as mense.

Sandra Hermann ·

Marisha…..ek is van jou “ouer garde” familie en ongelooflik trots op jou!!

Andre ·

Baie eenvoudige antwoord. “Want ons weet van beter”

Dit is `n ouer se plig om hulle kinders te beskerm, en dit is wat ons doen. As julle gaan veg hier gaan julle dood gemaak word.

pinkie ·

Vertrou op die Hemelse Vader Andre. Nie almal is so gelukkig om net oorsee te kan verhuis nie. So al wat ons het, is ons Geloof.

Ouer ·

Liewe dogter
Dit wat jy sê ons ouergeslag doen is die waarheid. Ons maak julle moedeloos maar ons is realisties in ons vrese vir wat met julle kan gebeur. Ons neem julle orals rond, want dis onveilig om self soontoe te stap of op jou fiets te gaan. Laai jou binne die skool terrein af want jy loop gevaar as in die straat afgelaai word. Ons sluit ons deure in die nag want daar is soveel misdaad en ons doen als in ons vermoe om jou te beskerm. Dus word jy groot sonder om werklik aan al die gevare en haat en swaarkry in ons land blootgestel te word- dus het jy n wanbegrip van wat werklik aangaan. Ons twyfel geensins in jou vermoe om self te veg vir iets nie, maar ons wil graag hê julle moet n vol en vry lewe kan lewe sonder om met jou lewe daarvoor te boet. Ons is ook ongelooflik trots op julle dat julle bereid is om die omstandighede te werk en funksioneer. As die ouergeslag so aangaan is dit omrede ons vir julle wil inprent dat dit wat hier in SA gebeur nie normaal is nie.

Heinrich ·

Dankie vir jou pragtige brief Marisha, dit laat my my skouers weer optrek! Trots op jou; doen so voort!

KanekVra? ·

Mooi brief ja. Ongelukkig is daar ‘n realiteit wat alle generasies van blankes moet besef. Ons is die minderheid. En die meerdeherheid sal jou nooit laat vergeet van die verlede nie. En solank ons nie kan vergewe word vir die verlede nie, sal ons altyd gekruisig word oor daardie verlede, of jy nou jonk of oud is. Veg? Wat bedoel jy daarmee.? As dit beteken om wapens op te neem, gaan dit nie mooi eindig nie. Oorlog is bitter ernstig, en sonder hulp van buite, staan die blanke nie ‘n kans nie. Ek bly hier want ek kan nie padgee nie. As ander kon padgee en hulle is gelukkig, los hulle. Ek neem nie my familie kwalik wat beter weivelde gesoek en dit gekry het nie, hulle verdien ‘n toekoms, sonder om die heeltyd aan hulle verlede en velkleur herinner te word.

madelein ·

Wat ons nie erens in die geskiedenis voorheen ook die minderheid nie? Het ons nie soort van gewen toe nie, of sit ek die pot mis?

Casper Labuschagne ·

Liewe Marisha, Inderdaad het die jong geslag ‘n durf en daad wat ek net bewonder. Ek sien jong boere wat snags plaas patrollie ry en bedags boer, waar hulle nou orals met brandkarre rondry vir die volgende veldbrand wat gaan uitbreek. Jong boere wat miljoene rande insit om te ploeg, plant en bemes al kan hul grond dalk kort voor oestyd nog weggeneem word. Ek sien die jong vroue wat gesinne begin in uiters gevaarlike omstandighede waar dit ‘n werklike risiko is om by die huis uit te gaan om dagtake te verrig. Ek sien min wat kla, maar in my hart ween ek, dit is nie die land waarin ek grootgeword het nie, verdien die nuwe geslag nie tog beter as dit nie?

Ek sien kinders wat voor my oë grootgeword het en universiteit toe gaan net om eendag terug te keer as kampvegters vir ‘n linkse ideologie, dieselfde ideologie waarteen ek in ‘n oorlog geveg het. En daardie jong mense draai om en vra vir my of ek dan nie skaam is oor my voorvaders wat by Bloedrivier geveg het nie?

Wysheid word verkry deur lank genoeg te leef. Elke ouer geslag het die vrees dat die jonger geslag in ‘n onbekende ander wêreld moet grootword. Elke ouer geslag het die begeerte om die jong geslag te beskerm teen dieselfde foute as wat die ouer geslag self gemaak het. Tog is vandag se jong geslag bloot môre se ouer geslag wat dieselfde vrese sal hê.

Ook jonk ·

Ek is ook jonk en het baie planne om die land en ons nasie op te bou tot selfs groter as ons voormalige glorie, moet nie ons jonges onderskat nie. Veranderinge is oppad.

Jax ·

Pragtig! Dankie vir jou brief stampvol inspirasie en jou positiewe aanslag op die lewe. Hier is beslis baie “ouer gardes “ wat n les of twee by jou kan leer!
God seën jou: jou hede en jou toekoms!

Ouer Garde ·

My studentekinders is net so positief oor die land en ek sal my attitute vir myself hou en nie meer negatiewe dinge voor die kinders se nie. Gaan moeilik wees – maar vir my kinders sal ek dit doen.

Anonieme Lafaard ·

Met Afrikaners soos sy is daar hoop vir die toekoms!

Gert ·

Ek is deesdae maar swartgallig oor die toekoms; dis egter gemeet aan my ou standaarde. Die kinders en soveel meer die kleinkinders, het onder ander omstandighede grootgeword en het dus ander standaarde. Oor die langduur gesien is alles maar besig om te verAfrika en gaan alles maar stadigaan slegter en raak die teerpaaie al meer slaggate , die water raak al minder en dit wat oor is raak al vuiler, die elektrisiteit raak al duurder, soos met die petrol en vinnige oplossings is daar nie te voorsien nie. Die geskoolde wittes trek al meer landuit en die wat oorbly het al minder kinders. die ou mense raak al meer en leef al langer op pensioene wat al kleiner word en op krimpende opbregstes teen hoër inflasie. Landuit kan ons nie meer nie, leierloos sit ons die toekoms en bekyk. Wonderwerke is natuurlik steeds mootlik maar laat ons nou nie daarop sit en wag nie. Ons sal die tyd hier in hierdie land maar moet deursien en uitsit en die kinders sal maar moet besluite neem en dit uitvoer en die kleinkinders sal maar hul eie lewens beplan en bedink. Ons sal elkeen maar sy nes skrop en doen met wat ons het, gewoond raak aan die minder en die moeiliker en oorleef so goed ons kan op wat ons het. Beter gaan dit nie gou gaan nie maar die standaarde sal verander en die mense sal aanpas. Hy is mos die mees aanpasbare skepsel op aarde. Oumens

Reine waarheid ·

Dankie “ouer” en “ook jonk” durf en daad!!!
Manne wat 18j was en bosoorlog beleef en
oorleef het en vandag besef wat is ontnugtering en werklikheid als gebeur met DOEL… Ons sal
BID vir WYSHEID en KENNIS en Ware GELOOF in GOD Sal SEËVIER ALTYD.

Henry ·

Beste Marisha
Jy sal maar moet aanvaar dat daar heelwat van ons ouer garde is, wat jarre gelede – nog voor jou geboorte – hul jong lewens op die spel geplaas het, in die (valse?) hoop om ‘n veiliger toekoms vir onsself en alle redelike siele te verseker. In die proses het te veel van ons vriende en kamerade ongelukkig ook ‘n baie hoë tol betaal – op ‘n verskeidenheid maniere…

Uiteindelik blyk dit nou (2018), dat die ooms van doerrie jare se “raad en leiding’ toe ook nie so lekker was nie. Ons jonges se bloed, sweet en trane was doerrie jare toe nooit genoeg om te verhoed dat ons vandag onsself in die situasie bevind waarbinne jy, ek en die res van die bevolking probeer om ons daaglikse take temidde van 57 moorde per dag te verrig nie. Nie dat die moord en doodslag die enigste haakplekkie is nie…

Alzo.
Aanvaar maar dat talle van ons oueres nie meer so vreeeeeslik opgewonde raak wanneer politici en ander bekkiges ons probeer oortuig dat perdekuttels inderdaad vye is nie.

Sterkte vorentoe en mag jou beste drome werklikheid word.

:-)

Koos ·

Onthou en glo hierdie met jou hele hart –

Psalm 91:7 ~ Die Bybel vir Almal –
“Wanneer 1 000 mense langs jou sterf, of 10 000,
dan sal daar niks wat sleg is, met jou gebeur nie. ”

Staan vreesloos vas en ky hoe God die stryd wen!

Li ·

Ag, as dit darem so maklik was. Wag tot jy jou eie kinders teen jou bors druk. Dan verander alles. Dan leef jou hoop in hulle, jou eie hart loop saam met hulle, elke tree. En jou vrese ook. Dan wens jy snags as jy wakker lê , jy kan vir hulle ‘n kommervrye, veilige land gekies het om sorgvry te lewe. Ons besef nie hoe erg ons stres nie, totdat jou elfjarige meisiekind op anti-depressante gesit word omdat sy bekommerd is oor ons toekoms in die land. As mens jonk is, pak jy alles aan en jy storm ‘n oormag. Maar as jy ouer geword het en niks in die mooi land jou meer verbaas nie, dan pop jy ook maar jou happy pille en maak planne om ten minste jou kinders landuit te kry sodat jy op jou oudag nie nog oor hulle veligheid ook wakker te lê nie.

Koos ·

Li, as mens nie God en Sy Woord ken en glo nie en ook nie jou kinders daarvolgens onderrig en ‘n voorbeeld vir hulle stel nie, dan bevind jy en jou elfjarige in die situasie waar julle tans is.

Wat ‘n jammerte en tog ook ‘n seën dat daar nog reg opgevoede jong mense in ons land is.

Toekoms elders ·

Daar is baie ander lande met nog mooier natuurskoon. Nog lekkerder kosse en nog lekkerder kuiers….
Vir elke persoon is SY LAND die beste en mooiste.
Liewe jonger geslag, moenie julle blindstaar teen SA skoonheid nie – gaan verken die wêreld en maak dan n besluit…

Henry ·

Toekoms elders
Jy’s sooo binne innie mirril vannie kol in!!!

Patriot ·

Ek het altyd gesè: Ons vir jou Suid Afrika. Deesdae raak ek maar moedeloos. Mag jou moed jou nie verlaat nie !

Conrad ·

Jonger geslag. Graad 10. Dan graad 12. Dalk universiteit toe en kry graad. Pa en ma se geld. Kry graad. Soek werk. Geen werk. Soek nog. Geen. Niks. Hou aan en aan en aan. Studeer verder. Nutteloos. Uiteindelik! Kry werk. Verkoop karre. Word soos onbevoegde hanteer. Is beter gekwalifiseer as bestuurder. Wees dankbaar jy het ‘n werk boetie! Ek is ‘n man. Pa sê niks van studiegeld terugbetaal nie. Hy sukkel self. Word verplig om te bedank. Herstrukturering. Pa het niks. Pa het R70. Kry in laai nog R10. R80 en dis sesde van die maand. Lewe die maand op R80. Maak verskonings as mense sê hulle wil kom kuier. Sê ons is besig maar ons is nie. Ek besluit die land versorg nie sy kinders nie. Ek doen aansoek in China. Familie sê-vra “Kommunistiese China?!” Asseblief tog. Vandag dra ek gesin. Betaal alles terug aan pa. En hulle kan lewe. Lewe. Ek ook. Veilig. Gelukkig. Jy sê jy sal veg. Veg? Hoe gaan jy veg wanneer pa se geld klaar is? Wanneer hy nie meer ‘n werk kan kry nie? Die tannies en ooms wat hierbo so ‘oe’ en ‘a’ het almal pensioene. Ek hoop jou pa verloor nie sy werk nie. Want dan sal jy aan my woorde dink.

Nicole ·

Ek dink Marisha se siening is ongelooflik pragtig en sy het n hart vol van hoop. Mense soos sy maak n verskil in die lewe, die verskil wat ons almal nodig het , maar niemand waag om dit te vat nie. Jy is n ware Suid-Afrikaner !

IK ·

Liewe meisiekind Marisha,
Alle vorige kommentaar is in die kol hetsy pos. of neg. Dankie jou skrywe en optimisme. My kleinseun is volgende jaar in MA-triek. Ek is nie van plan om hom enigsins te beïnvloed. Ek het ‘n seun wat verlede jaar Amerikaanse burgerskap gekry het. Elke een behoort vir homself te besluit wat om te doen met sy/haar toekoms. Die tyd sal leer wat vorentoe gaan gebeur maar jou optimisme mag nie geknou word en jy moet dit ook nie toelaat. Tog is dit so dat voorlaaier en Bybel in Voortrekkertyd moes saam loop. ‘n 130+jaar gelede staan opgeteken in die Versamelde Gedigte van F.W.Reitz (1888) die vlgde:
VADERLANSLIEFDE>
Leef onder almal wat daar woel,
Eén wat gên vonk van liefde voel?
Is daar ‘n mens met gees so dood,
Met hart so koud as sware lood?
Ver vaderland
Gên liefdeband!
Die man is koud,die man is dood!

Hij is gên eije land eens wêrt;
Sijn hart is nes ‘n bees of pêrt,
Wat hou vab kos en stal en voer,
En altijd na die voersak loer.
Hom en sijn land
Verbind gên band,
As geld en goed waar hij na loer.

Mar wie sijn land opreg bemin,
Die staat, of hij verloor of win;
Hij blijf ‘n ware Patriot,
Deur dik en dun, deur smaad en spot.
Sijn lewe geef,
So lank hij leef,
Ver Vaderland elk Patriot.

IK ·

Hij is sijn land en volk tot eer:
en mog elkeen van hom tog leer
Sijn land te min en hoog te ag;
want al wort hij nou oek belag,
Hij doet sijn plig,
in elk opsig,
en eenmal wort sijn naam geag.

En op sijn graf word dit geskrijf:
“Hier leg een man nou koud en stijf,
Hij kog sijn land en moedertaal,
Met eije bloed het hij betaal
Dis duur genoeg,
Hij stierf te vroeg,
Ag kon hij tog mar langer leef.”

Mar van verraaiers word geseg;
“Ver Vaderland is hij te sleg,
Delg uit sijn naam van dese aard,
Want dis hij tog so eerlijk waard,
Hij leef te lank,
Die met ondank,
Sijn vaderland so lank bewoon.

Digter is net bekend as ‘W’.

Voorgaande dui daarop dat daar steeds ‘n worstelstryd bestaan oor ons plekkie in Afrika.

Geluk Marisha ·

Marisha is awesome en sy het die reg tot haar opinie. Ongelukkig is daar lessies wat NET die lewe jou kan leer, en dit SAL hy jou leer, of jy wil of nie, positief of negatief, die LEWE is daar om jou lesse te leer, en ons “OUES” het die lesse al geleer. My seun van 25 is ook salig onbewus van die ongeregtighede en gevaar in SA, het ‘n goeie kwalifikasie verwerf voordat die universiteite begin afbreek en afbrand is, het tans ‘n goeie werk maar VIR HOE LANK, eers die dag as hy daardie retrenchment briefie kry soos wat ek al TWEEKEER gekry het, sal realiteit toeslaan . gelukkig kan hy dan nog waai, ons kan nie meer nie ons is te oud.

Philip ·

Hi Marisha,

Baie dankie vir jou boodskap, en vergeet asb van al die mense wat vir jou se ja maar die realiteit dit en die realiteid dat, daar is een realiteid en dit is dat dit wat jy glo en dit wat jy spreuk sal gebeur, plaas jou hoop in God en nie in mense of n land nie. Ons as Afrikaners moet n besluit neem om optehou om in al die slegte en negatiewe goed vas te kyk en heel dag te kla, en die keuse maak om elke oggend op te staan en dankbaar te wees vir die positiewe goed en ons houdings te verander, as elk een by hom self besluit om positief te raak en bo sy omstandighede uit te styg, en ons begin ander aansteek en weer saam staan en ons oe op God te hou is daar nog n wonderlike toekoms vir ons in die land, die God waarin ek glo word nie deur rigerings of rasse beinvloed nie, maar Hy wag vir ons om terug te keer na Hom en ons oe op Hom te plaas voor Hy ons gaan help, en by my God is niks onmoontlik nie.

Vossie ·

Eendag was daar 2 manne wat wolwe in die sneeu gejag het. Hulle het maar sleg geskiet en net een vir die dag gekry.(Hulle het die velle verkoop)In die middel van die nag word die een wakker en sien hulle was omring deur wolwe. Hy maak sy maat wakker wat ook na die vuur moes kyk en sê daar is nou probleme want hy het net 3 patrone en die maat se geweer lê daar erens, waarop die maat antwoord dit is niks, kyk al die velle!!
Dit is goed om na die velle te kyk, maar jy gaan nog steeds hulle eers moet skiet om by daardie punt te kom.
Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n Liberalis en ‘n Realis, die een kyk na velle, die ander na die werklikheid.
Bly positief, Bly kleef aan God ons Redder maar wees realisties en luister na goeie raad en dan neem ‘n besluit. Alles kan nie net reg gebid word nie. God se kinders moes ook oorlog gaan maak het en die vraag is, is jy bereid om te veg want dit is oppad soos voorspel deur Siener van Rensburg jare voor Suid Africa ‘n Republiek geword het.

Ballon ·

Ek hoop vir almal wat agterbly in SA dat dinge gaan beter raak. Ek is realisties en vat maar eerder die pad. So hartseer soos ek is sien ek uit om bietjie fiets te ry en vryheid te ervaar en snag heerlik te slaap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.