Lesersbrief: ʼn Brief aan jou, die ander mamma

gerda-smit

Gerda Smit. Foto: Verskaf.

Gerda Smit skryf:

Ek skryf vir jou, Aardsmoeder wat nog nooit gevloek het nie, jý wat gister by die Voortrekkers in verbystering ʼn dankgebed opstuur en sê: “Sjoe, hy’s besig, nè?” waarná jy na jou asem snak by die gedagte dat my blonde-blouoog-willer-as-die-wildtuin-en-soms-so-kwesbaar-sag-seunskind dalk aan jou kon behoort.

Jy’s uitasem ná daai lang sin? Ek leef in uitasem-mode!

Blonde Nimf, Saterdag by Kimiad, toe ek my blonde-blouoog-willer-as-die-wildtuin-en-soms-so-kwesbaar-sag-seunskind en sy beste tjom in die verbyloop van die klimraam afskeur, want soms word ek genade gegun en kan ek dit in die verbyloop doen. Jy sukkel om jou kakebeen in lit te hou en groet my met ʼn skril, verbouereerde stemmetjie: “Sterkte, mamma!” Sterkte my voet …

Ek kyk baie na jou en dink hoe salig, simplisties die lewe moet wees as jou kroos jou so volg. Ek wag elke keer in afwagting om te hoor of julle in sang gaan uitbars: “The hills are alive!”

So ’n stukkie van my siel verval in weemoed as ek na julle kyk, maar ek lewer nie kommentaar nie; dalk wens jy vir bietjie minder perfeksie in jou lewe … jy weet, ons elkeen veg ʼn geveg waarvan die ander nie weet nie.

Sien: My blonde-blouoog-willer-as-die-wildtuin-en-soms-so-kwesbaar-sag-seunskind maak die lewe voller as wat my wens is …

Ons gaan nie net winkel toe nie, ons neem die hele winkel oor! Ek kan lag en sê dis die kind se Amerikaanse paspoort, want Hemele hoor my, ek’s ʼn stil, teruggetrokke mens wat net my brood wil koop, vir die kassier glimlag en klaar wees!

Ons het gedink ons is gesin is nou volledig ná kind nommer twee, maar God het ander planne gehad. So droom ek een nag ek roep my kinders: Emma, Gerhardt, Dawid! En die volgende dag vind ek uit ek is swanger! My kind is ʼn Godgegewe geskenk nét soos hy daar is.

Ek was ver swanger toe ek ʼn ma met haar drie kinders teëkom. Soos myne is elkeen besig met hul eie Broadway-produksie! Ek vra: “How do you do it?” Sonder ʼn terugblik of oogknip hoor ek: “It’s bloody difficult!” Soos daardie dag, as jy so ’n opmerking vir my maak, oorval ʼn totale stomgeslane gevoel my en ek wonder: Hoe dink die vrou help haar opmerking?

My hart breek elke keer as jy sê: “Sjoe, hy is besig, nè?” My bestelling was nie ʼn blonde-blouoog-willer-as-die-wildtuin-en-soms-so-kwesbaar-sag-seunskind nie … dalk sou ek stil, intellektuele hipster, weet hoe om op die ouderdom van drie sy naam vorentoe en agtertoe te skryf, kies … maar net soos jy het ek nie daai lysie gekry nie – dis ʼn gelukspakkie!

En kyk hoe gelukkig is ons! So, volgende keer as jy ons sien, glimlag en sê in jou binnekant: “But for the grace of God, there goes!”

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ekke ·

Ek het ook drie kinders, wat om verskillende redes moeilik grootmaak. Die derde enetjie was ook ‘n “pasella”. Sommige dae is my kragte min en voel die taak te groot, maar ek glo vas God het in Sy groot alwysheid ons spesifiek vir mekaar uitgesoek. Ek doen my bes met liefde.

Skoenmaker ·

Ek is so keelvol vir mense wat bemoeisiek is en voorgee asof hulle sulke perfekte lewens lei. JA ‘n ongedissiplineerde kind is vrek irriterend, hulle moet steeds dissipline in hulle lewens he en steeds ander mense respekteer. So vreemd dat dieselfde mense wat hulle kinders so streng grootgemaak het hulle kleinkinders soos HOOLIGANS laat aangaan en ‘n hele plek op horings neem. Wat erger is is mense wat altyd van beter weet, wat altyd jou kind wil kom ontleed en veroordeel. My suster het eenkeer vir my gese my seun gaan glad nie goed wees met wiskunde en wetenskap nie want hy kan nie puzzles bou nie. (My kind was te besig om puzzles te bou, hy wou nie so lank stilsit nie) TOE SKOP hy almal se alies .. tot haar kind met 7 onderskeidings oortref hy met NOG twee bo-op dit en hy is vandag ‘n Ingenieur .. WAT SE JY NOU SUS? Dan soek hulle maar net weer ander fout met jou kind. Plaas elkeen NET op sy eie kind/ers konsentreer, dan sal die wereld ‘n baie beter plek wees.

Sann ·

Baie liefde en seën vir hierdie ma. Mense vergeet veels te gou dat hulle self ‘n kind was.. En niemand van ons is engeltjies nie!

OUMA ·

Liewe Mamma. Hoe lekker lag ek nou. Jy is n wonderlike Mamma hoor. Die ander vrou het nie n lewe nie!! My kinders was genadiglik redelik rustig maar boeta ek het altyd gese wag maar julle gaan ook eendag kinders he!!! En vandag lag ek eers vir hulle as hulle so kla dat hulle kinders so woelig is…. dan herhinner ek hulle aan hulle eie kinder dae!!! Geniet daardie kinders van jou, neem die winkel op horings, want dis lekker. Soms verstout ek my en dan gaan ek saam met vreemde kinders mal in n winkel. Net om te sien hoe die mamma ontspan en op die ou einde lekker lag. En die Lekkerste is om die ander mense se gesigte te sien – stomme goed het seker nie n lewe gehad nie!! Hulle is kinders – los hulle.

Amelia ·

Ek het op n jong ouderdom swanger geraak… pappa is uit ons lewens toe my seun 2jr oud is… ek het gedink, hoe gaan ek hierdie klein lyfie groot maak??? dankie tog vir my ouers!!!
ek het iemand ontmoed toe my seun 10 jaar oud was en toe sommer ook getrou met hom…
7 jaar later is my jongste gebore… almal het altyd gese “moet nie jou kinders tever uit mekaar kry nie”….. my kids is het n 17 jaar ouderdom verskil….
ek kan nie kla oor die ouderdom verskil nie… my oudste geniet sy klein boetie vreeslik baie…
ek is uit my skoene uit “gebless”met my 2 seuns… as ek my sin kan kry sal ek bitter graag nog 2 (seuns verkieslik) wil he….
DAAR IS NIE N GROTER LIEFDE EN N GROTER VREUGDE AS DAARDIE KLEIN HARTKLOP WAT ONDER JOU HART GROEI NIE!!!

Adele ·

Geniet jou willer as wildtuin seunskind! As dit iemand pla kan hulle maar net op ‘n ander plekkie gaan sit en dan weer die rustigheid beleef wat hulle geniet. Jou seuna is gesond en vol energie (asb moenie dit eendag stil maak met medikasie nie). Wees dankbaar want die lewe is kort. Eerder in besige klein mensie as een wat nie kan beweeg nie…. Gee die man sommer ‘n lekker stuiwe druk van die tannie af!

Adele ·

As jy nie ander mense in konsiderasie neem nie, is jy selfsugtig. Jy mag maar mal en versot op jou woelwater wees, maar ongelukkig kan jy dit nie van ander verwag nie. Dus, as jou kind ander mense se eetlus/rustige saamkuier-gesinsuurtjie versteur, stel ek voor jy hou hom self besig of jy kry iemand om hom besig te hou of jy gaan soek ander plekke op waar kinders van dieselfde ouderdom uithang.
Ek het seker maar my ADD/ADHD seun heeltemal te min tou gegee,, dst hy hom in openbare plekke soos ‘n wooligan gedra en dit vir mede-kliente onsmaaklik gemaak het.

NIEN ·

Hahahahaha! Lekker lag ek vir julle mammas! Ek self het vroeg ook 3 Hooligans gehad, almal kamstig dametjies…gmf….en toe ‘n laatlam na 18 jaar! Hallelujah vir die ander 3, ek was komkommerkoel, het 3 babysitters gehad as Pa en ek wou gaan fliek en/of dobbel en JA, ek het dit sooo geniet om in die aand na die mooi skoon gesiggies te kyk, en te wonder – Oi! Wie was jy vandag en waar’s my kind? Geniet kinders EN kleinkinders! Party mammas is nie so geseend nie!!!

Ook net mamma ·

Ek het ook drie seuns (8, 5 en 2 1/2) en glo my ek word ook gereeld uitgekyk omdat hulle nie so stil en bedees soos die ander is nie. Maar my hele lewe draai om hulle. Ek hou van die absolute uitbundigheid as ons die winkelsentrum se parkeerterrein loop en daar word uitgelig omrede hulle ‘n ‘monster truck’ gesien het met die grootste wiele of dat hulle mekaar wil stoot in die trollie want vinkel en koljander die een is soos die ander. Daar gaan nie eintlik ‘n besoek verby waar iemand nie ‘n opmerking maak oor hoe besig en woelig hulle is nie, maar dan kyk ek na hulle en sê dankie vir die liewe Vader want hulle sal eerder kleilat gooi, of sweep klap of modderkoekies bak as om agter ‘n tablet weg te kruip. So mamma ek weet hoe dit voel en glo my as ek sê ek dink elke dag daaraan en ek sê ook vir die mense dat ek weet ek gesonde, goed gebalanseer, Godgegewe seuns het waarop ek elke dag net meer en meer trots is. So geniet jou kinders en vergeet van al die ander twak.

Adele ·

Meeste kinders is woelig. Maar as jou woelwaters ander mense steur in so mate dat hul nie hul ete kan geniet nie en jy nog steeds dink dis ok, is jy selfsugtig. En gaan jou wonderlike woelwatertjies vir jou nog laaang trane laat huil as hul eendag onder jou goedkeurende vlerk uitkom en hul eie vlerkies begin toets. Die wereld daar buite is rof en nie almal gaan hul steurende gedrag/selfsugtige maniere aanvaarbaar/amusant vind nie. Verder het ek nuus vir jou, as jy sefsugtige gedrag goedpraat, is dit net wat hulle ook gaan leer.

2ling ·

My tweeling seuns (nou 18) was en is steeds willer as enige wildtuin en ek se elke dag dankie vir die voorreg om na hulle te mag omsien! Daar is geen groter plesier nie, moenie jou steur nie, mense was altyd so lief om te se “Oeeeee double trouble” dan lag ek so uit my maag uit, en se iets soos “Nee vrou! Die twee is drie jaar uitmekaar uit” net om die confusculated uitdrukking op hulle gesigte te sien!

BigMamma ·

Ek is ‘n mamma van 3 ooraktiewe bulletjies. Ek is ‘n gereelde besoeker aan ons Ongevalle eenheid want net soos besige, willer as die wildtuin seuns is, gebeur ongelukke vinnig en more, of oor more, hoor jy hulle spog met nog ‘n sny of die kop of gebreekte arm/been. Wanneer mense vir my sê daar is ‘n spesiale plekkie in die hemel vir my om met 3 sulke besige woelwaters te sit, dan glimlag ek net, want hulle het nie ‘n idee hoe jonk my 3 my hou nie. Ek sê elke dag dankie vir Liewe Jesus dat hy hulle vir my gegee het, en sal dit nie enige ander manier wou gehad het nie. Ja, hulle maak my baie dae baie vies, en soms wonder ek waar hulle vandaan kom, maar hulle is myne en dis al wat belangrik is!

Nog-'n-Mamma ·

Ek “high-five” jou sommer! Ek het nou wel twee dogters, maar hulle is net so besig. My kinders het steeds respek en maniere, maar terwyl hul kind is, laat ons hulle toe om kind te wees. Hulle speel buite soos in ons kinder dae, min gepla oor tegnologie. Hulle skree en lag en praat almal se ore van hulle koppe af. Daar word ook maar op myne neergesidn, deur mense wat dink hulle is uiters perfek, maar ek bejammer daardie mense, want vroeg ryp, is vroeg vrot. My huis is ‘n “happy” huis. As dit mense pla, moet hulle hulself maar uit die voete maak.

Soms wens ek . . . ·

Soms wens ek dat ek so ‘n woelige rakker het wat alles omkeer wanneer ek in ‘n lang tou moet staan en my beurt afwag om gehelp te word. Daar sal dan die moontlikheid wees om dadelik gehelp te word net om van die woelwater ontslae te raak. ‘n Mamma kan selfs so ‘n kind uithuur vir haastige mense wat allergies is vir toustaan sonder sitplek.
Wees bekommerd wanneer ‘n kind op ‘n hoop sit en belanstelling verloor in sy omgewing. Daar is so-iets soos om mooi stout te wees.

Denise ·

N lewendige kind is n gesonde kind solank daar net tonne liefde is en Job se geduld en n Moeder weet wanneer hulle T erg raak !!!!! Kind wees is n ondekkings reis!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.