Lesersbrief: ’n Brief aan my liefste, enigste Ouma

wilmans-en-ouma

Wilmans en haar ouma. Foto: Verskaf.

Nushca Wilmans van Pretoria-Oos skryf:

Dit is môre die 21ste April 2018, presies ’n jaar ná Oupa se dood.

Die tyd het so gevlieg. Tjoep! Weg! Tog is daar soveel oomblikke nog oor. Soveel om te sien en te beleef, mens kan wegdwaal in die toekoms. Ons weet nooit wat sal gebeur nie, ons bid maar vir die beste. Maar hoekom kan ons nie net dinge aanvaar nie?

Ek dink nou terug aan die middae ná skool en ekstra wiskundeklasse. Ouma het altyd vir my broodjies en tee gemaak en dan voor by tannie Marna se huis afgelaai. En dan, op pad na my ma se huis, het ons altyd vir so ’n paar minute gepraat. Dan het ek vir Ouma gesoengroet by die roeshek, en ’n laaste soentjie gewaai.

Weet Ouma dat ek nog is omdat Ouma so vir my bid? Ja, dinge was makliker toe ek nog kind was, en ek mis dit.

Ek mis die pophuis by Smiley Kids se kleuterskool. Ek mis vakansies by die see. Ek mis my eerste verjaardagpartytjie met die opblaaskasteel. Hoe die son gesak het toe ons op die grasperk speel.

Ek mis Romeo en Julietta. Ek mis die groot boom agter in die Doornpoort-erf en die gras wat so stukkies groei, die oopgesnyde asdrombraai… Ek mis hoe Ouma my met poppe bederf. Ek mis die parkie met die rondomtalie… laat my swaai, laat my draai…

Verkoop maar my gedagtes vir 10c ’n stuk,

Ek koop vir jou ’n pak swieties, vat dit saam in jou kosblik, my kind.

Verkoop my tyd, verkoop my woorde,

Dit is die waardevolste dinge wat niks kos –

’n korreltjie sand, waardeer dit, wees dankbaar,

die wêreld is ’n pêrel in jou hand, my kind.

Ek dra Ouma se woorde saam my. Dit is Ouma se gebede wat my pantser en warm hou teen die koue. Al die mooi herinneringe, en verjaarsdagkaartjies, die ou foto’s en prentjies…

Ouma is diep in my hart, Ouma is my engel.

Dankie vir alles.

Liefde,

Ouma se kind

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eileen ·

Aai, hoe verlang ek ooknie nou terug aan my liefste ouma , en my ma, wat die beste ouma ooit vir my dogters was.

Amelia ·

Ja so verlang ek ook na my ouma. En sy was my stiefouma wat my ma grootgemaak het van 3jaar af. Ek se altyd wat so wonderlik was is dat sy gekies het om ons ouma te wees. Sy kon so maklik stief gewees het. Ek het eers in die ou Standard 3 uitgevind sy is nie my biologiese ouma nie. Vir haar was in liefde geen verskil tussen ons kleinkinders.
En nou sit ek met die probleem dat ek my Pa so mis en sy dood voel. Ek het die beste, beste Pa gehad en hy was kwaai, beneuk maar n baie baie liefdevolle en regverdige Pa wat altyd vir sy kinders en kleinkinders net die beste gegee het.

Gesiggie ·

Baie mooi woorde…. ja niemand sal ooit n Ma of Ouma se plek kan vul… ek onthou nog hoe my Ouma bederf het met koekies en lekker konfyt,,, haar hande het vir niks verkeerd gestaan… en ja dan Mamma net soos Ouma die sagste en mooste Hart…. al is hul al vir jare nie meer hier… mis ek hul altwee nogsteeds elke dag….

Mads ·

Ek staan ‘n wyle terug in ‘n slaghuis agter ‘n bejaarde tannie met pers ge”perm”de haartjies, sulke klein krulletjies, en gaan hartstogtelik aan die ween van verlange na my Ouma, en omdat ek nooit weer vir iemand sal kan Ouma sê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.