ʼn Brief aan my toekomstige getroude self, mamma- en skoonma-self

Anoniem skryf: 

(Argieffoto: Pixabay)

Ek is 30 jaar oud. Ongetroud, maar gelukkig en verlief. Ek het ʼn wonderlike kêrel, ʼn nie-amptelike skoonma en vriende met kinders. Met ander woorde ek het nie ʼn man nie, ek het nie kinders nie en ook nie iemand wat ek “ma” noem anders as my eie ma nie. Dis nogal ʼn vreemde stadium.

Die samelewing wil konstant weet hoekom ek nog nie getroud is nie. As ou tannies dit vra, is dit altyd met ʼn tipe ondertoon wat insinueer dat daar iets fout is met jou. Dertig?! Geen eksman of kind? Vreemd. En dan gaan die meeste mense so vêr om nog te vra: “Nou wanneer trou jy?” Ai. Ek voel hieroor net soos mense wat vir pasgetroudes vra: “Nou wanneer kom die eerste kleintjie?” Niks met jou te doen nie.

Maar ek is nou van die punt af en dis nie eintlik waaroor hierdie brief gaan nie. Alhoewel ek hoop my toekomstige self – ʼn getroude vrou en mamma – onthou dat ʼn mens nie sulke vrae vra nie.

Wat ek eintlik wil hê ek in die toekoms moet onthou, is alles wat ek tans waarneem terwyl ek nog nie ʼn vrou, mamma en skoonma is nie. Dit is so soort van ʼn waarnemingstadium en ek hoop dat ek die opinies wat ek nou het eendag sal onthou en toepas. Ek weet daar is diegene wat my sal kruisig omdat ek nog nie in een van daardie rolle is nie, en sodoende nie regtig ʼn opinie mag hê nie. Goed en wel. Maar hierdie is wie ek graag sal wil wees.

Toekomstige getroude ek:

Ek hoop jy onthou al die klein goedjies wat jy vir jou man gedoen het toe hy nog jou kêrel was. Dat jy sal aanhou om hom eerste in jou lewe te stel en hom elke dag so geliefd te laat voel soos nou. Ek hoop jy onthou hoe opgewonde jy was om sy vrou te word, dat jy nie kon wag om vir hom te kon kosmaak nie en dat jy met trots sy van dra. Dat jy hom sal eer as die hoof van julle huwelik en julle huis. Ek hoop jy onthou hoe belangrik dit vir jou was om vir hom die beste meisie te wees en dat jy steeds elke dag daarna sal streef om so ook die beste vrou te wees. Ek hoop jy hou steeds sy hand vas, bring steeds elke oggend vir hom koffie in die bed en dat jy altyd sal onthou om sy sonbril skoon te maak voor jy dit vir hom aangee. Onthou die respek wat jy nou vir hom koester en dat daar nooit ʼn verskoning mag wees om op hom te skree nie, want jy het dit nie gedoen voor julle getroud was nie. Ek hoop jy bly altyd dankbaar vir hierdie man wat God vir jou gegee het en dat jy vir altyd en in alle omstandighede getrou sal wees en lief sal bly.

Toekomstige mamma-ek:

Ek hoop dat jy altyd sal onthou hoe graag jy ʼn mamma wou wees en dat jy dankbaar vir die voorreg sal bly. Ek hoop jy onthou dat kinders pakslae moet kry en dat jy nooit jou kinders voor ander mense mag tugtig nie, want ʼn mens verneder nooit jou kind so nie. Dat kinders ʼn eet- en slaaptyd moet hê. Ek hoop jy onthou hoe sterk jy gevoel het oor kinders wat in hulle eie bed moet slaap en dat gaskoeldrank slegs vir naweke is. Dat die beste voorbeeld wat hulle kan hê dié van ʼn gelukkige mamma en pappa is. Ek hoop jy onthou dat, ten spyte van die groot geskenk wat kinders is, jou man steeds eerste moet kom, want die Bybel sê so. Ek hoop jy dissiplineer hulle soos jy altyd gesê het jy sal. Dat jy hulle leer om te deel, om met ʼn oop hart te gee, om met die maatjie wat alleen sit te gaan speel en dat dit nooit ooit oukei is om op iemand neer te kyk of iemand af te kraak nie. Ek hoop jy onthou om op jou knieë te bly vir jou kinders, want die wêreld is ʼn vieslike plek. Ek hoop jy onthou dat jy vir daardie klein mensie se siening oor baie dinge verantwoordelik is en dat jy hulle van Jesus sal leer.

 

Toekomstige skoonma-ek:

Ek hoop jy onthou dat jy moet laat gaan. Dat iemand in jou kind se lewe gaan kom; nie om jou rol oor te neem nie, maar om ʼn leemte te vul wat nooit vir jou beskore was nie. Ek hoop jy onthou om ʼn skoonkind soos jou eie te behandel en soos jou eie lief te hê. Dat jy jou kind se verhouding en huwelik sal respekteer en nooit sal inmeng nie, want as jou kind gelukkig is, kan jy vir niks meer vra nie. Ek hoop jy onthou hoe seer woorde kan maak en dat jou opinie slegs nodig is wanneer jy daarvoor gevra word. Ek hoop jy onthou dat jy nie jou kind verloor nie, maar egter een bykry die dag wat hy/sy in die huwelik tree. Ek hoop jy onthou dat dit moeilik is om in te skakel by mense wat nie jou mense is nie en dat jy jou hart sal oopmaak met verstaanbaarheid vir jou skoonkind.

Ek weet baie hiervan is maklik om te sê, want ek is nog niemand se vrou, mamma of skoonma nie, maar ek hoop ek sal dit altyd onthou …

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Ons ken makaar nie, Tog ek ondersteun jou !!

Johan

Dit is sommer duidelik jy gaan ‘n sukses van al hierdie fases maak! Sterkte.

WILLEM

Dis voorwaar baie goeie voornemens – sterkte.
Onthou : Mense verander maar God nooit. So bly op jou kniee!!

Annamarie

Hierdie vrae oor, “wanneer trou jy” “jy is al 30” !!!!! Dit het niks met ander uit te waai nie. Ongelukkig is dit soms familie wat so behep raak met jou, huweliks status. Dis “bekotsenswaardig” om altyd die vraag te hoor en kalm te bly. Ontmoet jy wel die regte persoon, en jy trou binne n jaar, dan tel die ou spul weer die maande, en almal het dan ook net 9 vingers !!! Pateties verby !!!!