’n Brief van ’n boer se vrou

graankorrels-hand-boer-landbou

Foto: Imagesthai.com/Pexels.com.

– Die skrywer verkies om anoniem te bly, ter wille van haar en haar gesin se veiligheid

Ek het vir ’n lang tyd vreeslik met myself geworstel oor of ek hierdie brief moet skryf of nie… Of ek dalk gaan krap waar dit nie jeuk nie, of slegte terugvoer of kritiek gaan kry. Maar dis tot daarnatoe, want ek kan jou belowe ek is nie die enigste vrou in Suid-Afrika wat so voel nie. Ek weet dit, want ek het al talle dokumentêre films en video’s gesien waar ek in trane uitbars omdat ek 100% verstaan wat die vrou in die film deurgaan.

Ek is getroud met ‘n hoenderboer, ons het ’n agt maande oue seuntjie en ons bly op ’n plaas.

’n Pláás… Ons almal wou op ’n plaas grootword, of smag daarna om ons kinders op ’n plaas groot te maak. Daar waar jy vir ure as kind buite kon jol en net huis toe gaan wanneer jy honger is. Maar vandag, vandag is dit nie meer alles maanskyn-en-rose nie. Die afgelope tyd hoor ons baie sienings en menings van die mans af, maar vandag vertel ek jou uit die mond van ’n boer se vrou hoe dit is om deesdae op ’n plaas in Suid-Afrika te bly.

Eerstens: ek is nie ’n “boervrou” nie; ek weet nie wat dit verg om dag-in en dag-uit te boer nie, so ek voel ek verdien dit nie om myself ’n boervrou te noem nie. Maar ek is wel ’n trotse “boer se vrou”.

Elke vrou of mamma het vrese van haar eie, maar ek dink ons almal het een vrees in gemeen: ons vrees vir ons eie, ons mans en ons kinders se lewe. En as jy ’n boer se vrou is, weet jy wat dit is om in die oggend wakker te word met ’n hart vol dankbaarheid dat agt gewapende mans nie deur die nag jou dogtertjie kom verkrag het of jou seuntjie met kookwater kom verbrand het nie. Jy weet hoe dit voel om wakker te word en jou man se gesig te sien en te weet julle het nog ’n nag oorleef. Daarna staan julle op, haal die pistole onder jul kussings uit en haak dit, saam met die tweerigtingradio’s, aan julle gordels. Dan stap jy na die kamerdeur toe, skakel die alarm af, sluit die kamerdeur oop, sluit die veiligheidshek na jou kamerdeur toe oop en maak seker al die deure en vensters is nog gesluit en die honde lewe nog. En dan, eers dan, gaan jy kombuis toe om jou ketel aan te sit.

Net om die hele dag agter slot en grendel in jou huis deur te bring, want dit word oor en oor by jou ingeprent: “Hulle kom vir jou wanneer jy dit die minste verwag…” Dit beteken jy gaan nie buitentoe nie, en as jy buitentoe gaan, is jou kinders in die huis, jou pistool en radio aan jou sy en jy maak die tuin nat met een oog oor jou skouer (want netnou oorval hulle jou terwyl jy in die tuin besig is). Wanneer dit naby vyfuur kom, begin jy al die gordyne toetrek en die vensters toemaak, sodat hulle nie kan sien wat in die huis aangaan nie. Teen agtuur doen ons ’n radiotoets om seker te maak al die ander boere in die omgewing is veilig (vir nou).

Voor ons kamer toe gaan, sit ons verskillende ligte aan en af sodat hulle net nie kan sien waar ons is, of ons roetine kan dophou nie… Ons sit nie in die TV-kamer en TV kyk nie, ons gaan sluit ons agter al die deure en tralies in die kamer toe sodat ons ten minste ’n bietjie van ’n waarskuwing het indien hulle deur die garage of kombuis inkom.

Wanneer jou man uitgeroep word omdat daar voer, mielies of hoenders gesteel word, bid jy die ure om tot hulle veilig tuis kom terwyl jy geen vrees of bekommernis op jou gesig mag wys nie, anders word die kinders bang. Vir hulle sê jy: “Ag nee wat, daar is niks om oor bekommerd te wees nie, alles is okay, moenie bang wees nie…” Kyk, ek sal eerder heeldag vrees en vir my kind se onthalwe aan alles dink wat moontlik kan gebeur as dat daardie onskuldige lyfies moet verstaan wat regtig aangaan.

Natuurlik slaap my seuntjie by ons in die kamer, al het ek die mooiste kamer vir hom gemaak net voor hy gebore is. Hy slaap by ons, want netnou kan ek nie gou genoeg by hom uitkom nie, of hulle gebruik hom teen my en my man. Waar gaan steek ek hom weg? In watter kas druk ek my baba in sodat hulle net nie by hom moet uitkom nie? Hoe hou ek hom stil dat hulle hom nie moet hoor nie?  Hoe smeek jy dat hulle met jou kan maak net wat hulle wil, solank hulle hom net uitlos?

Ons praat nie eens oor grondonteiening nie… Kyk, ek sê dalk nou die ongewilde ding, maar ek is té lief vir my man en kind om hulle prys te gee vir grond. Wat is daardie grond vir jou werd as daar niemand meer is om saam ’n sukses te maak daarvan nie? Ek emigreer eerder  Australië toe en pas aan by ander mense se gewoontes as wat ek by my man en kind se oop graf moet gaan staan (dis nou as jy dit oorleef). Soos my swaer sê: “Ek gaan kuier eerder vir my boetie in ’n ander land as wat ek vir sy graf gaan kuier.” Maar dit is elke persoon se eie keuse, hierdie is net myne… Ek sal nie twee keer dink om eerder te verhuis om seker te maak my kind kry ’n regverdige kans op ’n toekoms nie. Dis hartseer om te dink ek moet my land, my familie en my vriende agterlaat, maar nou ja, ’n mens doen wat jy goed dink en wat jou hart vir jou sê, want anders sit jy met die “wat as…” of “as ek net vroeër…” die dag as iets wél gebeur.

Hierdie is maar net ’n paar van my vrese as ’n boer se vrou wat in vandag se Suid-Afrika op ’n plaas bly… Ek’s seker ek is nie die enigste vrou wat so voel nie, en ek weet daar is soveel vrouens wat al hierdeur en deur baie erger is. Vandag sê ek vir jou, boer-se-vrou: “Ek salueer jou.” Ek haal my hoed af vir jou en vir elke vrou wat elke dag aan goed soos hierdie moet dink net omdat jy op ‘n plaas in Suid-Afrika bly.

Ek dink aan jou. My gebed vir jou is dat jy, jou man en jou kinders vir nog ’n dag gespaar sal bly.

Liefde

’n Boer se vrou

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Dit is die beste beskrywing van hoe die lewe op n plaas is wat ek nog gelees het. Dankie vir elke dag

Realis

My hart gaan uit na hierdie vrou en duisende soos sy. Dit verg wilskrag om die woede en wrewel teenoor die NP politici en hul gebreinspoelde stemvee wat ons in hierdie posisie geplaas het, ten spyte van vele waarskuwings, te beheer. En dan wil hulle ons nog steeds wysmaak dat ons nie ‘n keuse gehad het nie. Verstommend!! Wonder hoeveel van hierdie Ja-stemmers sit nou veilig in die buiteland.

Liamari

Dit is so hartseer dat ons mense so in konstante vrees moet bly. Die dae wat mens jou nog kon uitleef in die natuur op ‘n plaas is verby. Die ergste is seker dat die regerende party NOG NOOIT ‘n standpunt teen plaasmoorde ingeneem het nie. Te bang om hul kiesers te vervreem en dalk as vriende van die wit man gesien kan word. Ek is so dankbaar dat die minister van Aus aandag op plaasmoorde kom vestig het. Alhoewel ek nie kan sien hoe SA ‘n toekoms sonder ons boere kan ingaan nie, gun ek hulle al die geluk… Lees meer »

Francois

Liewe anonieme boervrou,
dankie dat jy julle roetine en vrese gedeel het. Hopelik sal van die wat nog slaap, dalk een oog oopmaak. Respek en God se seen en beskermde hand oor jou en joune!

Ek gaan die stuk van jou oorvertaal in engels en dit aan n paar media instansies buite ons grense stuur.

Anoniem

“Boer se vrou” – dis nie net ‘n boer se vrou wat met die vrese moet saam lewe nie, maar elke vrou in SA of jy op ‘n plaas bly of nie. Ek as ‘n enkel mamma lewe elke dag met dieselfde vrese as ‘n boer se vrou saam al woon ek in ‘n dorp of stad. Dis die lewe vir elkeen man of vrou, kind of kleinkind in Suid Afrika… nerens is ons meer veilig nie… ons lewe daagliks met die wete enige oomblik kan dit jou laaste dag of oomblik wees