’n Brief van ’n boer se vrou

graankorrels-hand-boer-landbou

Foto: Imagesthai.com/Pexels.com.

Die skrywer verkies om anoniem te bly, ter wille van haar en haar gesin se veiligheid.

Ek het vir ’n lang tyd vreeslik met myself geworstel oor of ek hierdie brief moet skryf of nie… Of ek dalk gaan krap waar dit nie jeuk nie, of slegte terugvoer of kritiek gaan kry. Maar dis tot daarnatoe, want ek kan jou belowe ek is nie die enigste vrou in Suid-Afrika wat so voel nie. Ek weet dit, want ek het al talle dokumentêre films en video’s gesien waar ek in trane uitbars omdat ek 100% verstaan wat die vrou in die film deurgaan.

Ek is getroud met ‘n hoenderboer, ons het ’n agt maande oue seuntjie en ons bly op ’n plaas.

’n Pláás… Ons almal wou op ’n plaas grootword, of smag daarna om ons kinders op ’n plaas groot te maak. Daar waar jy vir ure as kind buite kon jol en net huis toe gaan wanneer jy honger is. Maar vandag, vandag is dit nie meer alles maanskyn-en-rose nie. Die afgelope tyd hoor ons baie sienings en menings van die mans af, maar vandag vertel ek jou uit die mond van ’n boer se vrou hoe dit is om deesdae op ’n plaas in Suid-Afrika te bly.

Eerstens: ek is nie ’n “boervrou” nie; ek weet nie wat dit verg om dag-in en dag-uit te boer nie, so ek voel ek verdien dit nie om myself ’n boervrou te noem nie. Maar ek is wel ’n trotse “boer se vrou”.

Elke vrou of mamma het vrese van haar eie, maar ek dink ons almal het een vrees in gemeen: ons vrees vir ons eie, ons mans en ons kinders se lewe. En as jy ’n boer se vrou is, weet jy wat dit is om in die oggend wakker te word met ’n hart vol dankbaarheid dat agt gewapende mans nie deur die nag jou dogtertjie kom verkrag het of jou seuntjie met kookwater kom verbrand het nie. Jy weet hoe dit voel om wakker te word en jou man se gesig te sien en te weet julle het nog ’n nag oorleef. Daarna staan julle op, haal die pistole onder jul kussings uit en haak dit, saam met die tweerigtingradio’s, aan julle gordels. Dan stap jy na die kamerdeur toe, skakel die alarm af, sluit die kamerdeur oop, sluit die veiligheidshek na jou kamerdeur toe oop en maak seker al die deure en vensters is nog gesluit en die honde lewe nog. En dan, eers dan, gaan jy kombuis toe om jou ketel aan te sit.

Net om die hele dag agter slot en grendel in jou huis deur te bring, want dit word oor en oor by jou ingeprent: “Hulle kom vir jou wanneer jy dit die minste verwag…” Dit beteken jy gaan nie buitentoe nie, en as jy buitentoe gaan, is jou kinders in die huis, jou pistool en radio aan jou sy en jy maak die tuin nat met een oog oor jou skouer (want netnou oorval hulle jou terwyl jy in die tuin besig is). Wanneer dit naby vyfuur kom, begin jy al die gordyne toetrek en die vensters toemaak, sodat hulle nie kan sien wat in die huis aangaan nie. Teen agtuur doen ons ’n radiotoets om seker te maak al die ander boere in die omgewing is veilig (vir nou).

Voor ons kamer toe gaan, sit ons verskillende ligte aan en af sodat hulle net nie kan sien waar ons is, of ons roetine kan dophou nie… Ons sit nie in die TV-kamer en TV kyk nie, ons gaan sluit ons agter al die deure en tralies in die kamer toe sodat ons ten minste ’n bietjie van ’n waarskuwing het indien hulle deur die garage of kombuis inkom.

Wanneer jou man uitgeroep word omdat daar voer, mielies of hoenders gesteel word, bid jy die ure om tot hulle veilig tuis kom terwyl jy geen vrees of bekommernis op jou gesig mag wys nie, anders word die kinders bang. Vir hulle sê jy: “Ag nee wat, daar is niks om oor bekommerd te wees nie, alles is okay, moenie bang wees nie…” Kyk, ek sal eerder heeldag vrees en vir my kind se onthalwe aan alles dink wat moontlik kan gebeur as dat daardie onskuldige lyfies moet verstaan wat regtig aangaan.

Natuurlik slaap my seuntjie by ons in die kamer, al het ek die mooiste kamer vir hom gemaak net voor hy gebore is. Hy slaap by ons, want netnou kan ek nie gou genoeg by hom uitkom nie, of hulle gebruik hom teen my en my man. Waar gaan steek ek hom weg? In watter kas druk ek my baba in sodat hulle net nie by hom moet uitkom nie? Hoe hou ek hom stil dat hulle hom nie moet hoor nie?  Hoe smeek jy dat hulle met jou kan maak net wat hulle wil, solank hulle hom net uitlos?

Ons praat nie eens oor grondonteiening nie… Kyk, ek sê dalk nou die ongewilde ding, maar ek is té lief vir my man en kind om hulle prys te gee vir grond. Wat is daardie grond vir jou werd as daar niemand meer is om saam ’n sukses te maak daarvan nie? Ek emigreer eerder  Australië toe en pas aan by ander mense se gewoontes as wat ek by my man en kind se oop graf moet gaan staan (dis nou as jy dit oorleef). Soos my swaer sê: “Ek gaan kuier eerder vir my boetie in ’n ander land as wat ek vir sy graf gaan kuier.” Maar dit is elke persoon se eie keuse, hierdie is net myne… Ek sal nie twee keer dink om eerder te verhuis om seker te maak my kind kry ’n regverdige kans op ’n toekoms nie. Dis hartseer om te dink ek moet my land, my familie en my vriende agterlaat, maar nou ja, ’n mens doen wat jy goed dink en wat jou hart vir jou sê, want anders sit jy met die “wat as…” of “as ek net vroeër…” die dag as iets wél gebeur.

Hierdie is maar net ’n paar van my vrese as ’n boer se vrou wat in vandag se Suid-Afrika op ’n plaas bly… Ek’s seker ek is nie die enigste vrou wat so voel nie, en ek weet daar is soveel vrouens wat al hierdeur en deur baie erger is. Vandag sê ek vir jou, boer-se-vrou: “Ek salueer jou.” Ek haal my hoed af vir jou en vir elke vrou wat elke dag aan goed soos hierdie moet dink net omdat jy op ‘n plaas in Suid-Afrika bly.

Ek dink aan jou. My gebed vir jou is dat jy, jou man en jou kinders vir nog ’n dag gespaar sal bly.

Liefde

’n Boer se vrou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Jan ·

Dit is die beste beskrywing van hoe die lewe op n plaas is wat ek nog gelees het. Dankie vir elke dag

Karel ·

Ek is so siek en sat om te hoor van die “ja ” stemmers. Ek was 94 nog op skool maar onthou van landmyne in boere se paadjies, en bomme in Standerton en Pretoria en vele meer. As die “nee” stemmers gewen het sou ons nog afgemaai gewees het met bomme, en landmyne, en aanvalkers in die nag. Die verskil sou net wees dat die hele wêreld ons ook sou gehaat het, insluitende Australië. So Realis, asb, kyk tog vorentoe, en hou op kerm en kla oor die verlede. Jy wil ‘n oorlog veg wat jare verby is. Ek glo dit maak nie saak hoe ons gestem het nie, ons in ‘n land met politieke en rasse probleme, en dit moet ons veg.

Dankie “boer se vrou”. Ek is self ‘n boer en sit daagliks met presies dieselfde bekommernisse. Bly paraat, bly glo, en lees Psalm 91 daagliks vir jou huis. Shalom

Nóg ñ Boer-se-vrou ·

Ek stem 100% saam…
My bekommernis is ook…. as ons wel die kans kry om ons grond te kán verkoop, wie sal dit wíl koop, met die hele onsekerheid rondom “grondgrype”??? Om nie eers te praat of ons ten minste markprys daarvoor sal kry nie?
Ek en my man het ook al die Australië-opsie aangeroer… maar hoe begin ñ mens heel van voor af oor?

Realis ·

My hart gaan uit na hierdie vrou en duisende soos sy. Dit verg wilskrag om die woede en wrewel teenoor die NP politici en hul gebreinspoelde stemvee wat ons in hierdie posisie geplaas het, ten spyte van vele waarskuwings, te beheer. En dan wil hulle ons nog steeds wysmaak dat ons nie ‘n keuse gehad het nie. Verstommend!! Wonder hoeveel van hierdie Ja-stemmers sit nou veilig in die buiteland.

En? ·

En, Realis, sou die NEE-stemmers gewen het, wat reken jy sou gebeur het? Lees “Hofmeyr’ van Alan Paton, bls.418 jaartal 1946 en ek haal aan “Thus Malan gave notice to the coloured population that not even they would be immune from the impact of the new doctrine, ‘Apartheid'”. Die hoofopskrif van hierdie deel is ‘Hofmeyr must be destroyed’. Want sien J.H.Hofmeyr het gesien wat is aan die kom n.a.v. bls. 497 waar die par. eindig met ” . . . white South Africa is doomed.” Lg. woorde komende van Barlow, ‘n vooraanstaande figuur van daardie jare. Gaan haal dus jou frustrasie uit op die resultaat van die 1948-verkiesing se uitslag.

Liamari ·

Dit is so hartseer dat ons mense so in konstante vrees moet bly. Die dae wat mens jou nog kon uitleef in die natuur op ‘n plaas is verby. Die ergste is seker dat die regerende party NOG NOOIT ‘n standpunt teen plaasmoorde ingeneem het nie. Te bang om hul kiesers te vervreem en dalk as vriende van die wit man gesien kan word. Ek is so dankbaar dat die minister van Aus aandag op plaasmoorde kom vestig het. Alhoewel ek nie kan sien hoe SA ‘n toekoms sonder ons boere kan ingaan nie, gun ek hulle al die geluk en vrede want hulle is regtig “heros”. Om elke dag op te staan in hierdie dergelike omstandighede en die land van kos te voorsien, maak hulle almal my hero…

Francois ·

Liewe anonieme boervrou,
dankie dat jy julle roetine en vrese gedeel het. Hopelik sal van die wat nog slaap, dalk een oog oopmaak. Respek en God se seen en beskermde hand oor jou en joune!

Ek gaan die stuk van jou oorvertaal in engels en dit aan n paar media instansies buite ons grense stuur.

Anoniem ·

“Boer se vrou” – dis nie net ‘n boer se vrou wat met die vrese moet saam lewe nie, maar elke vrou in SA of jy op ‘n plaas bly of nie. Ek as ‘n enkel mamma lewe elke dag met dieselfde vrese as ‘n boer se vrou saam al woon ek in ‘n dorp of stad. Dis die lewe vir elkeen man of vrou, kind of kleinkind in Suid Afrika… nerens is ons meer veilig nie… ons lewe daagliks met die wete enige oomblik kan dit jou laaste dag of oomblik wees

V ·

Treffende artikel… Ek hoor van more Mnr Croukamp sê op RSG dat hy glo die boere het altyd gehoop die grondkwessie sou net verdwyn… Ek wonder of hy werklik besef dat die boere al vir jare onder beleg is? Die landbou unies is al vir jare besig om opkomende boere op te lei en te bemagtig. Mnr Croukamp hoop die boere sal nou meer pro-aktief wees en die “uitkoms grenslyne” verskuif om grondhervorming meer pro-aktief te akkomodeer. Na my mening sloer die grondkwessie omdat die regering dit as ‘n troefkaart hou om in mag te bly, of miskien ‘n donkerde mandaat: om alle witmense uit Afrika te verwyder. My vraag aan Mnr Croukamp is: Wat kan ‘n mens nog meer doen? Boere word vermoor! – Nie omdat hulle Nie wil akkomodeer en help nie… Grondonteiening sonder vergoeding – is die wettige diefstal van ‘n mens se persoonlike eiendom. Hoe regverdig ‘n mens dit?

tamboti ·

Dankie MM vir die plasing van hierdie brief, ek wil net bylas dat dit nie net op plase so gaan nie, maar ons in die dorpe ook so voel. ONS BLY IN SELFGEMAAKTE TRONKE wat ons ‘n VALSE SIN VAN VEILIGHEID gee.
En dan wil ek ook bylas dat dit sou goed wees as MM nie ELKE KEER hul polities korrekte rympie onderaan elke skrywe sit nie! Neem standpunt in vir ‘n slag!
As ek skryf MEDIA VRYHEID: gaan julle dit ook oneraan sit?

Theresa ·

Dankie, “Boer se vrou” vir jou eerlike brief. Jy is reg met elke stelling. Ons almal weet dat stedelinge en plattelanders ook in vrees leef, maar ons het bure en polisiestasies nader aan ons as die boere. Ons bid soggens, deur die dag en saans dat die Almagtige jul onder Sy vleuels sal bewaar. Van “‘n Boer se suster”.

tamboti ·

Dit is so Theresa, maar ons vrees is dieselfde. Al is die bure, SAP ens. nader – moorde, verkragtings en martelings vind ook in stedelike gebiede plaas.
Nogsteeds erken ek die risiko vir die boere is groter en die probleem moet aangespreek word.
Bv. ‘n klokreel is dalk nie moontlik in stedelike gebied nie, maar dit kan baie effektief op plaasgebiede ingestel word – dit sal almal se veiligheid, boer en werker, help verseker.

Lysa ·

Ek is ‘n boer-se-dogter en leef ook in vrees dat my ouers nie veilig is nie. Elke dag bel of whatsapp ons vroeg om seker te maak alles is nog ok. As die honde nie in die tuin is nie, draai om en ry weg, kry hulp… Vir jong boere die volgende – gaan! pak julle goed en trek! Gaan bou ‘n nuwe lewe waar julle waardeer sal word. Baie sterkte aan elke persoon wat so in vrees lewe! Ons God slaap nie!

ertjie ·

Vir hoe lank nog gaan hierdie terreur dade as misdaad vermom word?

Anoniem ·

Dan se hulle nog dit gaan soveel beter in Suid-Afrika. Dit sal goed wees indien hierdie brief in Engels vertaal kan word en aan Minister Dutton in Australie gestuur kan word, dan sal hy besef in hoeveel vrees alle Suid-Afrikaners leef.

Stem saam ·

Self ‘n boer se vrou en ek kan met alles identifiseer. Wonder elke dag of ons die volgende hoof opskrif gaan wees van nog ‘n gesin wat op die plaas vermoor is.

Casper Labuschagne ·

Veiligheid is ‘n basiese behoefte en as daar nie ‘n groot mate van veiligheid bestaan nie is jou basiese oorlewing in die gedrang. Dit is dus ‘n onaanvaarbare toestand wat nie geduld kan word nie.. Voor ons huidige westerse beskawing, was daar ‘n algemene toestand van wetteloosheid en het mense het saamgestaan vir hul eie oorlewing asook veiligheid en voorspoed vir hulle gemeenskap. Mense het hulself in dorpe gevestig en het ‘n soliede muur wat beveilig kan word rondom die dorpe gebou. As dit donker word is die hekke in die muur gesluit en was dan reg deur die nag bewaak. Die hekke was altyd beman en vreemdelinge is nie net sommer toegelaat om die statsmure binne te kom nie. Ons is vinnig weer op pad na so ‘n bestek, selfs wat plase betref sal mense moet oorweeg om in veilige woonkomplekse saam te trek eerder as om elk te probeer om op ‘n afgesonderde plaas te oorlewe.

Ons kan nie onbepaald leef in ‘n toestand waar ons individuele oorlewing bedreig word nie.

Ook ń Boer se Vrou ·

Jip, ons het ook baie honde, hoë heinings, veiligheids hekke die huis vol, pistole aan ons sye, gereelde taktiese wapen opleiding, beams, radio sisteem, paniek knoppies, 30 km van die naaste dorp, en ook super benoud as Manlief middernag moet uit gaan vir vee diewe of veldbrande, máár ek het vroeg na ons troue vir myself besluit dat ek nie gaan toelaat dat díé goed my lewens vreugde gaan weg vat nie. Sonder om naief te wees, dit is so groot voorreg ook om op n plaas te kan bly. Laat die kinders toe om plaaskinders te wees, gaan draf tussen die berge, gaan hou piekniek by die rivier, bid Ps 91 elke oggend oor jou familie, en haal die plaas lug diep in jou longe in!
Daars ook n fyn lyn tussen wakker en versigtig wees en ‘paranoia’……..

Nita ·

Liewe Boervrou, ek hoop jy kan jou man ompraat om Australie toe te verhuis. Die kriminaliteit in ons land neem krisis afmetings aan. EN, baie erger le nog voor

Sarel ·

Die brief het tot my gespreek maar dit gaan oor meer as die vrees waarin ons leef. Dit is juis die sukses van hulle aanslag op ons lewe en ons lewenswyse. Ja Boervrou en jy en elke ander vrou wat tenspyte van alles steeds by jou man staan en saam boer. Ek haal my hoed af vir jou.

Blommie ·

Ook n boer se vrou, ongelukkig deur als wat gebeur is dit heeltemal NORMAAL om paranoia te he. Dis menslik, die marteling is net teveel om te se alles sal okay wees.
Daar is TEVEEL kamstige mislukte rooftogte, mense maak oop julle OE dit gaan nie oor roof nie. Hulle is teroeriste en word betaal om sekere PLASE te teiken met die hoop die mense verkoop of watookal. As dit NIE die geval was nie. HOEKOM die intense mishandeling en waar hulle ons mans die hardste slaan is deur die vrou en kind te martel voordat hulle hom doodmaak. Dit gaan lankal nie meer oor toeval nie. ek glo nie daaraan nie. Beveilig julle self, dae van klippies SKIP op die dam is verby ons is lankal in oorlog en moet ons kinders en self beskerm!!!!!

Pop ·

Boervroue jule moet oppak en gaan as dit enigsins moontlik is. My dogter is weg met my kleinkind van 3 want hulle het net nie kans gesien om haar hier so te moet grootmaak nie. Daai kind is n ander kind. Die angs en stout en woedebuie wat sy gehad het is weg. Die lewe hier tas kinders aan en ons besef dit nie eers ten volle nie.

Anna ·

Teen my kas is die volgende opgeplak: 2Tim 1:7  “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Krag – die Heilige Gees; Liefde – Christus Jesus en selfbeheersing. Wat ookal gebeur, mag God dit gebied dat in alle omstandighede my oë op Christus sal wees.  Heb 12:2  “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”  Mag ek onthou: Sag 4:6 ” … Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”  Want: “Psa 121:1  ‘n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? 2  My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. 3  Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. 4  Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. 5  Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. 6  Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. 7  Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. 8  Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.” En hierop sê ek: “AMEN”

esta venter ·

ek haal my hoed af vir al die plaas mense. ons bid vir julle. Sterkte vir al die boere en hul families.

Nog 'n boer se vrou ·

My mamma boer-se-vrou en plein boer-se-vrou se hart deel in elke woord in jou brief. x

Sarel Strydom ·

Ek noem weer dat ek die grootste respek het vir ons Boere en hulle gesinne. Dit gaan egter oor kommentaar wat ek hier lees. Gewoonlik weerhou ek my deesdae maar moet tog die volgende uitlig nl: 1) Die leerstellings van die mense is om vrees in te boesem en daardeur vernietig jy jou opponent se GELOOf in homself en sy God, vernietig geloof en jy vernietig HOOP en daardeur skep jy VREES en MOEDELOOSHEID. Dit blyk dat hulle reeds geslaag het en ons besig is om ons God en ons Voorvaders te verloen. 2) Vir elke Afrikaner, boer of nie boer, wat hierdie land verlaat verminder die getalle wat agter bly en word die agtergeblewenis makliker tykens vir die mense. Nie almal kan die land verlaat nie. 3) Moet ons die land wat deur ons Voorvaders met Bloed gekoop is, net so prys gee. 4 ) Ons sien Wonderwerke gebeur maar kies om in eie krag voort te gaan en vra dan hoekom God nie luister nie.

Elize ·

So goed bewoord. Om so in vrees te lewe is beslis nie wat vir ons bestem is nie. Maar jou hart skeur eintlik in twee. Gee jy op waarvoor jy en jou gesin so lief is of bly jy en staan die kans om jou hele bestaan te verloor…

waco ·

realis jy is heeltemal reg. die blankes is heeltemal weerloos gelaat deur die politieke leiers. Die kerke het ook meegehelp met die verraad. Ons moet egter nou voorentoe kyk en planne maak om ons self te beskerm.

En nog 'n BOER se vrou ·

Ek is ook ‘n boee se vrou….en ek kan 100% vereenselwig. Ons het ook al die nodige beveiliging…. hoë drade, diefwering, veiligheidshekke, honde binne en buite, alarm, paniek stelsel, radio’s, koeëlvaste baadjie en is gewapen. Maar weet julle wat? Ons slaap nie rustig nie….ons bly heeltyd oor ons skouers kyk. Was al self slagoffers van plaasaanval – en dit verander jou …. persoonlik, emosioneel en op elke ander vlak! Ons is betrokke by ons plaaslike veiligheid & soms is my man meer besig met beveiliging van ons omgewing as om te boer….
Wat mense (die wat nie op plase woon &/of familie & vriende op plase het nie) nie verstaan nie is dat hierdie ‘n 24/7 angs is!!
Ek dank die Here dat hy ons veilig hou & Hy is my anker. As dit nie vir my geloof in God was nie dan weet ek nie hoe ek sal oorleef nie.
Ek bid vir elke ander boer-se-vrou wat ter wille van haar gesin & (meestal) ten koste van haarself moet “sterk” bly & probeer om alles aanmekaar te hou…. bekommerde mans moet aanmoedig, bang kinders moet vertroos & dan elke dag moet sê: “Ek is OK”

Gerda ·

Dankie vir hierdie brief. Dit is n goeie beskrywing van die vrese van op n plaas bly.
Ek self het op n plaas grootgeword, en ek bly nie meer self daar nie, maar my ouers boer nog. Ek vrees elke dag vir hulle lewens en bid elke dag vir hulle beskerming. Hulle het ook heinings en honde en hekke en alarms en radios en paniekknoppies, maar hulle moet nogsteeds deur die dag werk. Dan word dit gedoen met gewere en radios en paniekknoppies. Dis nie hoe mens moet lewe nie.
Elke keer as daar n plaasaanval in die omgewing was gaan help my broer en moet ook sy vrou en kinders by die huis los terwyl almal bid dat hy veilig sal terugkom. Die kinders is nog klein maar hulle weet ook wat aangaan. Kinders is nie veronderstel om te bekommer om aangeval te word nie. Dis nie veronderstel om nodig te wees om die kindertjies vir selfverdedigingklasse te stuur nie. Dit moet nie nodig wees om n gereedheidsplan vir die kinders te leer nie. Dit moet nie nodig wees om met n geweer in jou hand te gaan ondersoek instel wanneer die wind n deur in die huis toegewaai het nie. Maar ons weet nie wanneer is dit ons beurt nie.
Ek dink soms ek is paranoid, maar die vrees vreet my op…

Stefani ·

Boer-vrou…. my hart gaan uit na jou, jou gesin, jou bure, boere wat al in SA aangeval is, vermoor is. My en my man se voorouers en ouers is boere. Ons sien onsself as boere alhoewel ons nie die voorreg het om op ń plaas te boer nie. In dorpe en stede word ons egter ook aangeval, gekaap, verkrag, vermoor…. net omdat jy wit is. Geweld en haat is orals. Ek ken ook, na 13 jaar se bly op d plaas, baie boere en hul lewenswyses en ek wil ongelukkig die nuus vir jou breek: hulle lewe ń oorvloedige lewe, in groot smaakvol-gemeubileerde huise met die nuutste duurste rygoed. Hulle koop nóg en nóg grond. Hulle gaan hou oorsese vakansies. Hulle het almal strandhuise. Hulle leef sorgvry, sonder vrees en in weelde. Dis dié tipes skreiende kontraste wat haat veroorsaak…. en júlle die onregverdige spit laat afbyt.

De Villiers Hauptfleisch ·

Die wit man is nie meer veilig in hierdie land nie. Instansies soos Afriforum en Solidariteit moet begin om ernstig met Europese lande soos Frankryk, Duitsland, Die Britse Eilande, Kanada, en VSA te onderhandel om die Suid-Afrikaanse witman te akkomodeer. Ons is maar net 4 miljoen mense en hulle behoort ons met gemak te kan hanteer. Australië het reeds dat blyk dat Suid-Afrikaanse wit boere welkom is. Dit is nie dat ons lafaards is nie, maar toe mense destyds in Frankryk vervolg is het Suid-Afrika vir hulle `n veilige hawe geskep. Dit is nou weer Europa se beurt. In die RSA sal die wit man nooit weer veilig wees nie, daar is net te veel haat en misdadigheid in hierdie land.

Sann ·

Dit is die hartverskeurende waarheid. En as daar enige iemand is wat dink dat boere vermoor word omdat hulle nalatig is met hulle veiligheid, dan wonder ek wie van ons kan dit regtig volhou om só toegesluit, beangs te lewe 24/7/365. As jou huis veilig is wag hulle by die buitegeboue. As jou werf veilig is wag hulle by die hek. As jy kameras en elektriese hekke opsit wag hulle langs die pad…. Ons word regtig ook moeg, moeg, moeg…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.