ʼn Getuienis van God se seën en genade

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Deur Marise van Heerden

Ná baie drama by my werk oor onregverdige behandeling, onderbetaling en laat werksure, was dit in die beste belang van my en my ongebore kind om te bedank en by die huis te wees. Met ’n kind op pad is dit nogal vreesaanjaend. Maar my man het my verseker ons sal fine wees en die Liewe Heer sorg altyd!

Al wat ek oorgehad het, was om op die Here te vertrou. My kwalifikasies en ondervinding het my niks meer gehelp nie. Ek het die laaste maand wat ek gewerk het, die maand wat ek onderbetaal is, steeds die tiende van my volle salaris gegee. Later die maand, nadat ek bedank het, kry ek uiteindelik verlede jaar se vervoertoelaag. Al het ek daardie volle bedrag nodig gehad, het ek vir iemand anders wat in nood was, ’n gedeelte gegee. Ek’t geweet God seën my en stel my só in staat om ander te seën.

Intussen wou ek na die KVBA toe gaan met die saak, maar het besluit om dit nie te doen nie. Ek’t besef as ek gaan veg oor die saak en geld van hulle vereis, sou dit nie regtig vertroue op God of goddelike gedrag wees nie. As Jesus in my situasie was, sou Hy die saak in God se hande gelos het. Ek het geweet God weet wat hulle aan my gedoen en hoe hulle my behandel het en dat Hy wel my saak sal handhaaf.

God het my geseën met ’n bedrag geld van my ma-hulle en broer. Ek het my tiende daarvan gegee. Dit was ’n klein bedrag en toe ek twyfel oor my tiende, kom die volgende stories in my kop: Elia en die weduwee in die droogte (1 Konings 17:11-15) en die arm weduwee wat alles wat sy gehad het in die offergawekis gegooi het (Markus 12:41-44).

God het ons geseën toe mense, wat ons nie eens ken nie, vir ons al hul babagoed gee. Die waarde van die goed wat ons gekry het, is omtrent R12 000. Die goed wat ons gekry het, is nie oud of verniel nie; heelwat van dit is splinternuut.

Ek het lankal vergeet van die geld wat my werk my skuld. Die Here het my vrede gegee en verseker deur skrif om nie bang te wees nie. Ek kry toe ʼn e-pos van my bank. Ek moes twee keer kyk: ’n groot bedrag geld is in my rekening inbetaal – die verwysing is van my werk af. Dis ses keer die geld wat hulle my skuld. Ek was ’n ruk lank stomgeslaan. Ek besef toe dis ons Hemelse Vader wat wonderbaarlik voorsien.

Deur die twee maande het ek die volgende openbaringe en skrif gekry:

  • Ek kan nie op my eie kennis en kwalifikasies vertrou nie, dis menslike goed en eie krag. God het my gewys hoe min kwalifikasies kan beteken as dit kom by sy krag. Daar moet geen geleentheid wees waar ek kan sê ek het dit self behaal of self verdien nie. Want in myself kan ek niks doen nie. Slegs deur God se genade, krag en voorsiening. Sagaria 4:6 – Nie met mag en krag sal jy slaag nie maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.
  • Maleagi 3:10 (Amplified-vertaling): Bring all the tithes into the storehouse, that there may be food in My house, and prove Me now by it, says the Lord of hosts, if I will not open the windows of heaven for you and pour you out a blessing, that there shall not be room enough to receive it.
  • Om te gee moenie gaan oor om terug te kry nie. Dit moet ’n daad van vertroue op die Heer wees. Om dit te doen en om mag oor te gee in God se hande is klaar ’n groot seëning in jou geestelike lewe. God sal alle dinge laat uitwerk tot die beswil van dié wat Hom liefhet (vergelyk Romeine 8:28).
  • Filippense 4:19: En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Alle eer aan ons Jesus Christus en Hemelse Vader wat ons so liefhet; ons sal dit nooit kan begryp nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Babbelbek ·

Amen. Dit is so waar, ek het ook my werk verloor en vir 5 mnde nie geweet hoe ek deur elke maand gaan kom nie maar die Here voorsien in elke opsig. Nie een aand met ‘n leë maag of koud gaan slaap nie. Ons GOD is GROOT! Vertrou HOM net hy voorsien.

Ina ·

Dankie vir hierdie openbaring Marise. Ek veg al jare by die plek waar ek werk, is op medikasie om net te “survive”, en hulle lag my in my gesig uit. Jy het vandag vir my net weer moed gegee om op God te vertrou en nie moet probeer om alles op my eie te veg nie. Ek weet hierdie mense sal hulle dag kry, want jy behandel nie kinders van God soos gemors nie. My pa het altyd gesê die wiel draai, hy draai stadig, maar hy draai.

Mien ·

Dankie Marise dat jy jou storie met ons gedeel het. Alles wat mooi is vir julle.
Ons aanbid ‘n lewende God wat nog steeds wonderwerke doen.

John ·

Sy arm is nie te kort om te help nie. Hier sien ons dit weer!

Evelyn ·

Ek wil graag noem, Marise is my dogter en ek is so geseen met so wonderlike geskenk van Ons Hemelse Vader. Sy is waarlik ‘n lewende getuienis van God se seen en genade.
Van ‘n trotse Moeder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.