Lesersbrief: ʼn Hartseer stilte in die klaskamer

Ammiël Smith skryf: 

Ammiël Smith.

“Môre meneer, môre juffrou.”

Dis die woorde waarmee elke onderwyser se dag gewoonlik begin, maar die prentjie lyk effens anders die afgelope kwartaal. Daar is ‘n hartseer stilte in die klaskamer en op die speelgrond.

Ek het ‘n boodskap van ‘n ma af ontvang wat sê haar seuntjie wil weet wanneer kan hy teruggaan skool toe. My hart breek, want ek besef vir soveel kinders is skool die plek waar hulle aanvaar word en onvoorwaardelike liefde ontvang.

Ekself voel af in die afsonderingstydperk. Ek mis die kinders se stories, die sport, die eetgoedjies en, vreemd genoeg, die skoolwerk.

Op skrif gaan skool voort. Ons het WhatsApp-groepe, digitale lesplanne, video’s en stemboodskappe, maar hoe wys mens oor die foon vir ‘n kind jy is lief vir hom of haar?

Ons kan altyd weer skoolwerk inhaal, maar wat van die juffrou wat haar laaste jaar in die onderwys is? Die een wat meer as 40 jaar opgeoffer het en nou gaan sy dalk nie hierdie hoofstuk van haar lewe kan afsluit nie?

Wat van die kind wat pouse ‘n broodjie kom haal het? Die matriekmeisie wat al haar sakgeld gespaar het vir haar matriekafskeidrok?

Ek lees ‘n storie van ‘n jong man wat in die toekoms vir ‘n bejaarde vra hoe was 2020. Die bejaarde vertel hom toe van hierdie aaklige virus wat baie besighede laat toemaak het en wat veroorsaak het dat mense nie kon werk toe gaan nie.

Die jongman antwoord: “Ek onthou nou, my ma en pa was heeltyd by die huis en ons het so lekker gespeel en ons was so gelukkig.”

Hierdie virus is vir almal ongerieflik en die storie is nie dieselfde vir almal nie, maar hou moed, want op die ou end is die lewe self seker die beste onderwyser.

  • Ammiël Smith is ‘n onderwyser by die Laerskool Vryburg waar hy vir gr. 4 tot gr.7-leerders klas gee. 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Helizna ·

My kind is een van die wat hard en swaar spaar vir ‘n matriekafskeidrok. Hierdie grendelstaat is ‘n nagmerrie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.