ʼn Kreatiwiteitsfees

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Dis Saterdagoggend. Soos enige ander somer-Saterdagoggend, reeds vroeg warm, sodat die kraaie gaap. En tog is hierdie Saterdagoggend ook nie heeltemal soos enige ander Saterdagoggend nie, want onder ʼn groot afdak word gewerskaf en gereed gemaak. Tafels word reggeskuif. ʼn Fees van kleur word met trots aangedra en uitgestal: oorgetrekte hangers, wasgoedpennetjiesakkies, vatlappies, kershouers, teddiebere, eetgoed, drinkgoed en nog vele meer. Vandag is vlooimarkdag!

So, wat daarvan? Daar is honderde (dalk selfs duisende) vlooimarkte regoor Suid-Afrika hierdie tyd van die jaar! Wat maak hierdie een dan so anders?

Kom ons zoem ʼn bietjie in op die toneel: Bokant die afdak toring die vier verdiepings van die afgeleefde woonstelblok uit. Teen die linkermuur poog ʼn paar swartsakke en ʼn bietjie Jik om die drein, wat maar net nie wil ophou oorloop nie, weg te steek. Oral teen die mure staan verveelde tieners se lewensfilosofieë uitgegraffiti. Nee, hierdie is nie sommer enige vlooimark nie. Dis ʼn vlooimark wat met trots aangebied word deur mense uit ʼn gemeenskap wat tot nou toe gebrandmerk is: werkloos, arm, barmhartigheidsgevalle… Die gaste: lede van ʼn gemeente in Pretoria wat met groot genot hul kers-inkopies kom doen of sommer net saamkuier om ʼn koppie koffie en ʼn heerlike wrap wat by die teetuin aangebied word.

Hierdie vlooimark het ongeveer twee weke gelede plaasgevind ter viering van die mens se kreatiwiteit as beeld van die kreatiewe Skepper van alle dinge. Ja, ook arm mense het as beelddraers van God iets van Sy kreatiwiteit geërf en dit het ek tydens die aanloop van die vlooimark tot oorlopens toe beleef. Dit was vir my heerlik om te sien hoe die mense telkemale met hul handewerk kom spog,  hul glimlagte groter word, hul oë begin saamlag, hul gesprekke voor en ná Bybelstudiegeleenthede begin draai om die uitruil van idees en patrone (in teenstelling met die hospitaalgesprekke van vroeër).

Ons gaan ʼn feestyd in wat gekenmerk word deur welwillendheid en barmhartigheid. ʼn Tyd waarin duisende kospakkies deur mense met goeie bedoelings in tradisioneel arm gebiede afgelaai word. Ek wil elkeen wat hierdie feestyd kospakkies iewers wil aflaai, uitdaag: los die kospakkies, gaan kyk elkeen wat ʼn kospakkie by jou sou ontvang in die oë en vra vir hom: “Wat kan jy doen? Watter talente het God vir jou gegee?” Hou ʼn vlooimark waar jou organisasie/gemeentelede hierdie produkte van trotse mense kan koop – selfs is dit dan nodig dat jy die materiaal verskaf. Ek belowe jou: op hierdie manier gaan jy aan ‘voorheen barmhartigheidsgevalle’ veel meer gee as net ʼn vol maag in die Kerstyd. Jy gaan aan hulle ʼn nuwe gevoel van menswaardigheid gee, ʼn wete van wie hulle as beelddraers van God is (en kan wees), ʼn nuwe vonkel in hul oë wat weer die wêreld in die oë sal kan kyk. En jy sal beslis ook ʼn baie ryker mens uit die ervaring uitstap.

Lana Hitge

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Luise ·

Dankiev ir die deel hiervan. Dis waardevol. Wens ek kon dit meemaak. Mag hulle pogings van krag tot krag gaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.