ʼn Ope brief aan Dirk Hermann: “Ek is ook Jan van Afrika”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het onlangs ‘n ope brief aan pres. Jacob Zuma geskryf na aanleiding van sy uitlatings oor Jan van Riebeeck. In die brief wat deur Netwerk24 gepubliseer is, het Hermann onder meer geskryf: “Ek is daartoe verbind om ’n toekoms hier in Suid-Afrika te bou waarin my kinders en hul kinders vry, veilig en voorspoedig sal leef. Anders as Jan Van Riebeeck gaan ek op Afrika-bodem sterf. Ek is Afrika.” Lees gerus die volledige brief hier.

Rohan Germishuys van Swellendam het in reaksie hierop ‘n ope brief aan Hermann geskryf:

Geagte Dirk

Ek is ook Jan van Afrika. Ek is nie ʼn rassis nie en ek is aan jou kant. Ons wil dieselfde dinge bereik en het gemeenskaplike doelwitte. ʼn Beter lewe vir almal, ʼn beter Suid-Afrika. ʼn Land vir ons kinders, ʼn demokratiese land wat regverdig handel. ʼn Unieke land wat ʼn suksesvolle reënboognasie uitbeeld. En ons stem saam oor baie dinge. Baie dankie vir al die dinge wat julle doen, soms regkry en soms nie regkry nie.

Ek verskil egter soms van die manier hoe julle sommige dinge doen en sien. Ek wonder soms of julle die swart gemeenskappe verstaan. Hulle kultuur, hulle taal en hoe hulle lewens werk. Werklik werk. Hoe hierdie land se swart mense dink en leef. En ek voel ons moet dit verstaan voor ons kan vorentoe beweeg. Ek en jy verstaan die wit Afrikaner se dinge. Hoe ons dink en leef. Dis Westers. Saamgekom met die skip uit Europa. Saam met Jan van Riebeeck. Maar die skip het gestop in Afrika, Dirk. Hier is dinge nie Oosters nie. Ook nie Westers nie. Ons is in die middel. Julle wil dinge op ʼn Westerse manier doen. Dit werk nie hier nie, Dirk.

Die wêreld daar buite, wes en oos, gee nie vir ons om nie, Dirk. Hulle 3 miljoen protesteerders en optoggangers gee om vir 11 van Charlie se mense. Mense wat ook maar ʼn bespotting maak van my en jou geloof saam met baie ander gelowe en dinge. Hulle gee nie om vir die honderde plaasmoorde en duisende Nigeriërs in Baga, Afrika, nie. Ook nie vir die mense en kerke in Niger nie. Hulle gee nie om oor Afrika nie. Gee ook nie om oor ons aan die Suidpunt nie. Ons gaan na onsself moet omsien. Ons 5 miljoen sal moet begin bewys dat ons omgee oor enige moord teen ons volk. Soos toe ons oupas baklei het soos jy in jou brief noem. Om hof toe te hardloop met elke tweede ongrondwetlike fout wat ons nie mee saamstem nie is goed, maar niemand daarbuite gee om nie, Dirk. Niemand gee om oor ons grondwet nie. Nie eers die hof nie. Dis te Westers. Te korrek. Te beskaafd vir hierdie middelste gedeelte van die wêreld. Hier praat die mense ʼn ander taal. Apartheid het gekeer dat hierdie Westerse en Afrika-tale gemeng het tot in 1994. Maar nou is ons ook deel van hierdie taal.

Dis ʼn taal wat gevorm is onder diktatorskap in ʼn kraal. In ʼn stat. In die noorde en ooste van Suid-Afrika aangekom het, maar geteel is in Midde-Afrika. Jy mag nie die koning teenstaan nie. En jy maak soos die hoofman sê. En wat hy sê, is wet. En sy woord is mag. Sy doen en late is altyd reg. Jy is verkeerd as jy praat oor Nkandla. Dis ʼn taal van geweld, Dirk. Nie beskaafd nie. En dit is nou nog so, Dirk. Al het ons gehoop dit het of kan verander. Mense wat Westerse neigings getoon het in hulle groepe is doodgemaak om so ʼn teenstrydige kultuurvorming te voorkom. Maar tog in hulle oë is dit korrek om so op te tree. Dit is hoe hulle hul kultuur beskerm. Dis ʼn ander taal as ons taal. En ons sal moet aanpas by daardie taal anders sal ons uitsterf. Die Ooste of die Weste gaan ons nie daarteen beskerm nie.

Dis goed om te veg vir die renosters. Ons moedertaal. Vir gesondheid. Vir dienslewering. Teen plaasmoorde. Teen fracking. Rassekwotas, haatspraak. En, en, en. Maar in watse taal vind die geveg plaas. In ʼn hof? Voor ʼn kommissie? In debat? In die media? Dis nie ʼn Afrikataal nie, Dirk. Afrika beskou daardie soort taal as Westers. En dit is. Dis hoekom hulle insinueer dat ons moet teruggaan waar ons vandaan kom. Ons hoort nie hier nie. Zuma lees ook nie jou ope briewe op sosiale media nie. As jy iets vir hom wil skryf, doen dit in Engels of in sy eie taal. Hy gee nie om vir ons taal of wat ons dink nie.

Dan is daar die grafieke en statistiek wat julle opgestel het oor plaasmoorde en aanvalle, Dirk. Dis goeie inligting, maar dis weer nie in ʼn taal wat ons regering verstaan nie. Ek weet ook nie of dit korrek geanaliseer is nie. Ek wil hier dalk saamstem met Bheki Cele. Dit toon ʼn baie lae korrelasie koëffisiënt met rasse-aanvalle soos wat julle wil voorgee. Dit is eerder ʼn bewys van absolute patetiese verval van ons land. Plaaswerkers word ook aangeval en moorde het nie teen dieselfde tempo gegroei as wat aanvalle gegroei het nie. As hulle wou, kon hulle baie meer boere vermoor het. Hulle leiers toon ten minste die guts om duidelike instruksie te gee om die plase te vat so dit toon eerder dat hulle die boere wil verdryf en die plase soek. Ook dat mense werkloos is, honger is en steel vir geld om vir hulle families te sorg. Dit bewys vir ons dat boere op afgesonderde plase maklike teikens is en uitgesoek word om iets by te buit en sal vermoor word vir kos op ʼn township-tafel as dit moet.

In die dorpe en bewoonde gebiede raak dit al hoe moeiliker om te steel. Mense beveilig hulself. Hier is alarms en goeie tegnologie wat ons beskerm. Op plase is reaksietyd baie stadiger. Daar is swart aanvallers wat rassisties is, ja, maar net so is daar ook witmense wat rassisties is.

Ons regering faal nie net in die beskerming van ons boere nie, maar faal in alle opsigte. As hulle kos op daai tafel verskaf het met die regte houding sou daai moord heel waarskynlik nie plaasgevind het nie. Die boere faal ook wel om hulleself te beskerm. Dis ʼn soort taal wat AfriForum kan aanneem. Stel ʼn plan op, sorg dat die plan uitgevoer word en sorg dat ons jou – as Dirk – saam sien patrollie doen op verlate grondpaaie in die Karoo. Hulle sal die plase vat en daarvoor moet daar ʼn teenoptrede wees. Ons sit almal en wag dat daar ʼn aksieplan bekend gemaak word sou so iets van ʼn aard gebeur. Maar dit is sekerlik onwettig om so ʼn plan op te stel. Te polities korrek om iets te doen en verkies julle om eerder te swyg en eerder net te sê julle verwerp sulke stellings en optrede en dit is nie demokraties nie. Ons weet almal dis ondemokraties en onregverdig, Dirk, julle hoef nie persverklarings daaroor uit te reik nie. Doen iets daaraan. Reik ʼn aankondiging uit as julle ʼn duidelike plan het en as daar ʼn aksie is. Watse stappe gaan geneem word as so iets gebeur? Gaan ons wag vir die hof en polisie? Kommunikeer ʼn plan aan ons gewone mense.

Los die persverklarings, menseregtekommissies, internasionale howe en los die VN. Ek wil vra dat julle hierdie politiese korrektheid laat vaar. Dis ʼn Europese taal wat hier totaal irrelevant is. Praat reguit. Praat met optogte. Brand ʼn tyre. Gooi ʼn ruit uit. Trek die mense bymekaar. Witmense en swartmense, almal wat wil saampraat. Praat in hulle taal. Maar praat ook die regte en duidelike boodskap. Dit klink onbeskaafd, maar dis ʼn Afrikataal. Dis werklikheid. Dis ʼn taal wat ons nie aan gewoond is nie, maar ons sal moet aanvaar en ook aanvaar dis Jan se skuld dat hy ons hier gelos het. Europeërs praat soms maar ook hierdie taal. Dit is al bewys in Londen en Parys.

Die mense wat werklik hier ʼn lewe geleef het voor 1652 is weg en verdryf. Ons is nou hier en deel van Afrika. En al wie daaroor mag kwaad wees is die Khoi en San. Hulle moes vlug. Ons het gekies om hier te wees.

Ek besef dat mense kan sê dat ek nou almal oor dieselfde kam skeer en veralgemeen. Dit is seker so, maar daardie mense moet ook die werklikheid begin aanvaar en aanvaar dat as hy nie dieselfde voel nie, is hy of sy besig om homself of haarself te belieg want dit is die werklikheid en waarheid waarin ons vandag onsself bevind. Daar is ʼn baie klein persentasie wat hulself kan uitsluit by bostaande. En laat hy homself dan uitsluit as hy wil. Dit is sy reg. Maar as die skoen jou pas, trek hom aan.

Op julle Facebook-blad is daar soms goeie kommentaar, gereeld slegte kommentaar, mense maak rassistiese opmerkings en mense raak persoonlik. Oor hierdie brief sal daar ook sulke opmerkings wees. Maar sulke opmerkings sal net weer en weer ʼn bewys wees van onkunde en onsekerheid oor ons volk se verdeelde situasie. Ek veg vir my kinders se toekoms en jy vir joune.

Ons almal wil weet wanneer dit gaan stop? Almal vra tot hoe ver nog? Hoekom en waarom? Mense sal ook wil weet wat het ek al self gedoen om die situasie te verbeter. Nog niks nie, Dirk. Want ek weet nie wat om te doen nie. Ek is leierloos. Moedeloos.

Ons kort ʼn leier, Dirk. Een wat nie Jan is nie. Ook nie ek nie, miskien ook nie jy nie. Maar een wat Andries is. Oom Andries het hulle taal gepraat. En ons sal hom gou moet vind, baie gou.

LEES NOU Dirk Hermann se reaksie op Rohan Germishuys se brief.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
JanVanAfrika_II

Rohan, jy laat mens dinge in `n heel ander perspektief sien, jy gooi die oogklappe af.
Of dit goed of sleg is, is ek na hierdie brief te deurmekaar om met eerlikheid te sê, maar jy maak sin.

Hanno Visagie

Ons het ons Here Jesus Christus, en vir Pieter Mulder en sy VF-kollegas en vir Flip Buys en sy Solidariteit-Afriforum-kollegas, om maar net enkeles te noem. En soos Op.16:15 meld: “Salig is hy wat waak…” Lees asb http://bibleguidance.co.za/Afrartikels/Waaksaam.htm

Anoniem

Rohan vat vyf. Jou brief kan nie beter gestel word nie. Stem saam hulle verstaan net die
Afrika manier. Hoop Dirk lewer kommentaar.

Danie

Rohan, ek stem bitter min met jou saam. Jy het duidelik nie op ‘n plaas groot geword nie! Meeste van ons families wat op plase woon vir geslagte lank, praat ook die afrika tale. Dis lank voor 94 se sirkus al so. Ek het selfs op laerskool al Noord Sotho as vak gehad – dit was standaard. In die hoërskool waar ek was (in die wes Transvaal) het ons Tswana as vak gehad. Dit is juis meer en meer uitgefaseer na 94. Mens wonder nogal hoekom…Ons het al die jare BAIE goed oor die weg gekom met ons plaaswerkers. Iemand… Lees meer »

Henk

Eish, goeie kommentaar. Soms dink ek net dat daar te veel self aangestelde organisasies is wat “namens” die boer/ witman/ noem hom wat jy wil praat. Intussen is hulle daar vir die skyn. Daar omdat dit ‘n manier was wat iemand vir homself ‘n inkomste en ‘n R5 miljoen huis kon verseker. Daar omdat hulle “opgestel” is om weereens die witman/ boer/ … te mislei soos wat soveel politici al in die verlede gedoen het. Dalk het dit tyd geword dat ons op ons kniee voor God die Almagtige gaan en in opregtheid tot Hom bid en begin lewe soos… Lees meer »