Lesersbrief: Erken ons herkoms

Pres. Cyril Ramaphosa (25 Julie 2021) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Geagte mnr. die president, Cyril Ramaphosa

Ek skryf vandag aan jou hierdie brief met g’n fancy woorde en frases nie. Ek skryf vir jou sommer soe los, plat en straightforward as wat ek kan. En ek dala hom sommer vir jou in Afrikaans oek, my broer. Djy verstaan mos – die onlangse local goverment elections het dit mos bevestig.

Ja, ons onthou! Jou tong het mos weer omtrent geklap in Afrikaans in dele van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap, waar die meerderheid van die Afrikaanssprekendes tuis is, nè? Daar het jy gestaan en paai as die MyANC-president, by die Afrikaanse kiesers om die kruise onder jou en jou party te trek.

Dít alles terwyl jou agbare minister vir hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, skaamteloos aan Afrikaanssprekendes dit duidelik gemaak het dat Afrikaans, “nie inheems” tot Afrika is nie?

Nou verduidelik gou vir my vir 10 punte – as djou minister seg dat my se moedertaal nie inheems is nie, waar het u, meneer die president van hierdie land, die taal aangeleer? Waarheen het u gereis om dit te leer? En hoe lank het dit u geneem om dit te bemeester? Wie was die meester wat u geskool het? Laat weet my.

In elk geval. Djou agbare minster was toe gevra oor sy siening dat Afrikaans “nie inheems” is nie. Daarop haal hy een van die ou versies aan as rede. Hy kan glo nie toelaat dat Afrikaans gebruik word vir ’n “Afrikanernasionalistiese agenda” soos in die “Apartheid-era” nie. Dis mos nou pure aandagsoekery en twakpraat, man!

Hoe kleinlik kan mens dan nog wees? Vir ’n hele minister van onderwys is sy redes tot argumente maar vrot en onkundig. Dit laat my wonder hoe hierdie man in die kabinet sit en hoër onderwys as portefeulje het, huh? Maar dis seker ook alles deel van cadre deployment, reg? Die boeties moet voor gesorg word, want die SAKP help ons om stemme te werf, amandla!

William Sezoe (Foto: Julber Coraizin)

Anyway, jou boetie was op 1 Desember in die parlement weer gevra oor hoekom Afrikaans saam met Khoi-, San- en Nama-tale nie as inheemse erken word in daai taalbeleidsraamwerk document van hom nie. Daarop antwoord die man weer iewe geïrriteerd dat die “herkoms van Afrikaans nie saak maak nie”.

Hoe absurd! Hy skreeu letterlik in die nasionale parlement van hierdie land aan miljoene Afrikaanssprekendes, waarvan die meerderheid nie eens wit is nie – dat hulle taal nie hier hoort nie. Dis om terselfdertyd aan hierdie mense te sê dat julle behoort nie hier nie en julle herkoms maak nie saak nie!

Dit vat my na die leuse van ons land, !ke e: /xarra //ke – wat in Khoe, ’n inheemse taal geskryf is, en “diverse mense verenig,” beteken.

My vraag wat ek aan u en u minister vandag los, hoe de Eskom kan ons as ’n diverse groep mense verenig as staatsamptenare soos Nzimande so katterig is? Hoe de Eskom bou mens ’n nasie as mense soos Nzimande voortbou om mense uitmekaar te dryf? Hoe de Eskom kan hierdie land voortgaan as mense soos Nzimande geen respek het vir inheemse tale en inheemse mense nie?

Hoe de Eskom?

Groete yttie Weskus, massekines

William Xkhoa Sezoe Blake

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

groenboer ·

Ja, en dan wonder die agbare minister seker ook waarom die Kaap wil afstig…

Irma ·

Ai, hoe word ‘n minister nou in Afrikaans so mooi sy fortuin vertel. Lekker man.

Esme ·

Mnr, die President, ons versoek is eenvoudig… Jy luister na jou ‘Beursie’ in die buiteland, maar nie na jou mense, wat agting het vir jou nie. Alles wat gedoen word, word gedoen om die buiteland tevrede te stel maar jy het vergeet van jou mense, jou kiesers, jou ondersteuners. Ek is van mening dat ons dit werklik nie verdien nie.
Hoekom luister jy nie na ons versoeke nie?
Ag jy ons so onbelangrik dat jy nie vir ons wi luister nie.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.