Lesersbrief: ’n Skrikkeljaar van verskrikking, van stilsit en stilword

Anelia Heese. (Foto: Verskaf)

Anelia Heese van Neurenberg, Duitsland skryf:

 Vandag, 17 Maart 2021 is dit een volle jaar van krisisbestuur om deur die pandemie te steier. En hier sit ons nou. Hier, waar ons bevoorreg is om ʼn dak bo ons kop te hê, selfs al is ons elke dag onder dieselfde, enkele dak omdat ons moes tuisbly. Almal moes tuisbly, maar vir dié van ons wat in die buiteland woon, was ons bloot in ons huise – nie tuis nie.

Die afgelope jaar het baie van ons laat skrik. Miskien het jy geskrik vir die verlange wat in jou kom sit het toe ons geforseer is om te bly sit waar ons is. Dalk het jy in een stadium geglo dat Suid-Afrika nie meer vir jou plek het nie, maar die pandemie het jou laat besef dat dit jou enigste tuiste is.

Toe ons moes sit en tone tel, het dit onomwonde ʼn geleentheid vir bestekopname geword. Die wolkekrabbers of die bloekoms op die horison tel nie wanneer ons van ʼn tuiskoms beroof word nie. Ons sit met ʼn knaende verlange wat slegs deur die oop horisonne onder die Afrikason geklop kan word.

Dalk is dit in ons Afrikaners se bloed: hierdie versugting na ʼn oop, ongeskonde horison wanneer ons angs ervaar. Vir ons Afrikaner-voorvaders was daar ʼn prys verbonde aan hierdie ongeskonde horisonne: opoffering, maar ook uitbuiting.

Kenners het pandemies voorspel. Ons is gewaarsku dat die uitbuiting van die natuur en die ongelykheid tussen dié wat eet en dié wat honger ly, tot ʼn groot wanbalans gaan lei. Wanneer ons die weerloses nie beskerm nie, bied die mure waartussen hulle sit, geen beskerming nie.

Ons skend die omgewing, tog kan ons ons indink ʼn beeld uit die natuur wat die einde van hierdie pandemie beskryf. Die Engelse term, “herd immunity” oftewel kudde-immuniteit verwys na die beskutting wat geskep word wanneer genoeg mense, nadat hulle in aanraking met ʼn aansteeklike virus gekom het, weer aansterk. Hierdie samehorige eenheid van immuniteit skep dan verdere beskerming vir die weerloses wat aan die virus sál omkom.

Mense kies nie noodwendig om weerloos te wees nie. Dalk was dit die noodlot, of sistemiese onreg. Om almal oor dieselfde kam te skeer, bied onvoldoende beskerming teen die aanslag van hierdie dodelike virus.

Ons kan nie die weerloses teen die noodlot beskerm nie, maar ons kan deur opoffering ongelykheid aanspreek. Die pandemie is ʼn duur les oor uitbuiting, en dit is ʼn les wat ons as Afrikaners al te goed ken. Die prys wat sommiges van ons hiervoor betaal, is om onder ʼn vreemde kudde, wat in ʼn taal blêr wat ons nie ken nie, te wag totdat genoeg mense aansterk voordat ons kan terugkeer. Huis toe.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.