’n Stukkie hoop

carolina-botha

Carolina Botha. Foto: Verskaf.

Carolina Botha van Potchefstroom skryf:

Miskien het die tyd gekom om stewiger aan die Skenker van hoop vas te hou as aan hoop op sigself. Hy is immers die oorsprong van hoop.

‘n Brug val en kinders sterf. ’n Driejarige dogtertjie val en haar fiets se hefboom steek ʼn gat in haar hart. ‘n Geliefde rugbyheld se pragtige dogter sterf in ’n motorongeluk en twee jong kinders se mamma is vir altyd weg.

Daar is egter eindelose verhale waarvan ons nie in die koerante lees nie. Mense wat daagliks iewers ’n stryd verloor. Siekte wat die oorhand kry. ‘n Huwelik waar seermaak meer as liefdemaak die norm geword het. Of nóg ’n puttoilet wat ’n kind insluk. Hartseer verhale wat die einde van iemand se storie, en gevolglik iemand se hoop, beteken.

En tog raak ons gelukkig nie heeltemal oorweldig deur hierdie seer stories wat getuig van ’n stukkende wêreld nie. Tog bly ons smag, bly ons soek na die mooi agter hierdie stories. Bly ons hunker na die stukkie getuienis in elke verhaal.

Maar, ten spyte van my eindelose soeke daarna, in elke storie wat ek hoor en elke insident wat ek beleef, maak hoop my bang. Want hoop skep afwagting. Versterk verwagtinge. Skilder helder prente van ’n mooi en idilliese môre. En as dit waarvoor ons hoop nie gou genoeg na ons menslike wysheid realiseer nie, kan hoop jou grootste vyand word – en word jy so maklik ontnugter deur individue of selfs deur die hele mensdom.

Skreeu die realiteite van ons stukkende wêreld te hard in jou ore? Want wag maak ’n mens baie moeg. Dus moet jy op die een of ander manier groter word as daai ding waarop jy wag. Hoe dan gemaak as selfs iets so positief soos hoop, dreig om ons in ʼn donker diepte te laat wegraak?

Iewers moet ons vasklou aan die oorsprong van hoop. Want dan skryf ons hom met ʼn hoofletter. Dan praat ons van Ewige Hoop.

hoop-neon-kruis-stad

Foto: Diana Vargas/Unsplash.com

Nie meer vasgevang in my klein, aardse behoeftes nie, maar met ʼn oog op die Ewigheid. ‘n Verstaan dat dinge hier nie altyd gaan uitwerk soos ek dit graag wil hê en waarvoor ek hoop nie.

Dan dring dit tot my deur dat hoop soms ʼn ander baadjie aantrek, ander note sing. Daardie Hoop word verpersoonlik in mense, soos in juffrou Dirks se getuienis oor daardie tragiese dag by Hoërskool Driehoek wat steeds trane na ons oë bring. Sy vertel hoe sy vir daardie hartseeroggend ʼn les oor die waarde van vriendskap voorberei het waarmee sy die saalbyeenkoms sou open. Maar daardie oggend het Iets vir haar gesê om eerder oor waagmoed te praat. En sy lees uit Josua: wees sterk, wees braaf. Die Here jou God is by jou waar jy ook al mag gaan. En ʼn paar minute later val die brug. En honderde kinders word geruk uit die illusie wat hoop dikwels bring – hulle het geen ander keuse as om waagmoed te hê en vas te gryp aan Hoop nie.

Almal in Suid-Afrika word herinner aan die klein wonderwerkies wat daagliks om ons gebeur. Ons staan opnuut verwonderd voor die alledaagse mooi van menseharte wat nog opreg omgee. Dit is dán wanneer ons ʼn stukkie van die hemel op aarde sien. Wanneer hoop vergestalt word in die hande en voete van gewone mense wat as Koningskinders optree.

“Bring die hoop weer terug,” sing Jo Black.

Ek het hoop, want ek het Hoop. En dan word Hoop en Genade die teelaarde en rigtingwysers van my bestaan.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rikku ·

Hi Caroline, dankie vir hierdie mooi boodskap van jou.
Ek wil ook sommer weer begin glo in “Hoop”
Ons het tog nog so baie om voor dankbaar te wees.

E ·

Dit is pragtig Carolina. Ons almal beleef hartseer en terugslae, maar ons Vader hou ons deur alles vas. Die mosterdsaaitjie is nie te groot nie.

ELIZABETH ·

Dankie Carolina ek het die woorde wat jy geskryf het so geniet en opnuut besef hoe afhanklik ons van God is. n Stukkie Hoop met n biethie liefde daarby maak n verskil. Net n glimlag n drukkie aan ander maak die donker weer lig!!!

Jozi ·

Uitstekende brief.
My stukkie advies vandag aan almal daar buite – die dag as jy by die punt kom van totale oorgawe (I surrender all), dan kan jy laat gaan.
Dan pak jy al jou probleme, baggasie en vrees oor wat mag kom in ‘n mandjie, gaan sit dit neer by God se voete en los dit daar.
Ons wil so graag alles self doen, in beheer wees, maar die realiteit is – God is in beheer.
Jou lewe kan in n sekonde verander en dan is niks ooit weer dieselfde nie, maar hou vas aan God se hand, moenie ophou om te hoop nie.
Glo in God se tyd.
Shalom.

Dup ·

Miskien het die tyd gekom om meer realisties te raak, ‘n ding te sien hoe hy is en minder te glo in feëverhale en wonderwerke.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.