ʼn Toonstamp-revolusie

Charné Kruger. Foto: Verskaf.

Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:

Ek het weer een van daai dae beleef: Daai dae wat jy solank as moontlik neem om op te staan in die oggend, want jy wil solank as moontlik die realiteit vermy.

Dis een van daai dae wat jy rêrig, rêrig sielsmoeg is. Moeg is vir sukkel, moeg is vir swaarkry, moeg vir wonder, moeg vir hoop, moeg vir die lewe en moeg vir planne beraam.

Omdat ek ‘n depressielyer is, leef ek die afgelope paar jaar al so op die randjie van ‘n diep, donker gat. Party dae val ek in en dan verg dit ongelooflik baie wilskrag om daar uit te kom.

Die droogte maak dit nie maklik om op die wal van daardie gat te bly nie. Dit is maar ‘n swartgallige besigheid.

Nou vandag was weer so, ten spyte van die feit dat dit eintlik een van daardie dae was wat ek as boervrou na smag.

My man en kinders is dorp toe, om die werksmense te gaan haal, dus was dit net ek en my viervoetkinders op die plaas.

Dit was veronderstel om een van daardie dae te wees waar ek take doen waar kinderhandjies nie nodig is nie, wanneer ek dalk my naaimasjien bietjie kon afstof, die heerlike chaos wat twee kleuters veroorsaak, kon regmaak. Dit was ʼn dag waarop ek dalk ‘n nuwe resep kon skryf en toets, en orde kon skep in hierdie holderstebolder tyd waarin ons leef.

Maar toe is dit eerder een van daai dae wat ek doelloos deur die huis drentel. My kop baklei met my lyf omdat ek nie rigting kry nie, maar ek het eenvoudig nie die krag om enige take aan te pak nie, want ek is doodeenvoudig net te moeg. Dán verg dit ongelooflik baie baklei om nie terug te klim in die bed en net my oë en kop en siel vir die wêreld te sluit nie.

En so met die drentel en sleepvoet loop, stamp ek mos my kleintoontjie teen ‘n bankie.

Bliksem. En daar breek die damwal…

Foto: Jenny Caywood/Unsplash

Ek sak net daar op die grond neer en huil soos ‘n klein kindjie, ek snik só dat my viervoetkinders huiwerig nader staan om te troos. Dit is net snot en trane dat ek naderhand my hemp moet gebruik om die stortvloed te keer. Ek huil oor nog ‘n kleuter wat kanker moet beveg, ek huil oor nog ‘n boer wat nie meer kans gesien het vir die struggle nie, ek huil oor ‘n nasie wat op sy knieë is. Ek huil oor die hanslammers wat op kraal staan, en oor die noordewind wat ons elke dag tevergeefs deurmekaar waai. Ek huil oor al die gewonder oor wat die toekoms vir ons inhou, oor die ganse wat asvaal is omdat hulle al ‘n maand op hul eiers sit en sonder moedverloor, en oor engele wat oor ons pad kom en alles in hul vermoë doen om ons las ligter te maak.

Nadat ek leeg getap is van die moegheid, nadat ek ‘n paar trooslekke gekry het en nadat my hemp sopnat is, lig ek my kop en die wêreld lyk ewe skielik beter. En ek praat sommer daar plat op die vloer met my Skepper.

“Dankie, Here, vir die skoonwas, maar kan ek volgende keer nie maar eerder my vinger raaksny nie, want blikemmer, ‘n toonstamp is darem nie speletjies nie.”

Ek verrys letterlik van die vloer met my rug en skouer wat effe minder hang, en met ‘n stap wat meer doelgerig is. Ek gaan soek sommer dadelik ‘n stoflap en begin verwoed skoonmaak en regpak. Ek kry die wasmasjien aan die gang en so met die gewoel sê ek weer – baie teensinnig – dankie vir die toonstamp-revolusie.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stefan ·

Pragtig geskryf. Toe jy by die toonstamp kom kon ek voel hoe pyn my kleintoontjie.
Sterkte vir jull boere!!

Stephan de S ·

Kostelik en lewensgetrou. Daar word beweer dat as n mens n koppie trane sou drink, jy as gevolg daarvan kan sterf agv vd gifstowwe daarin. Wat die reaksie op die toonstamp betref : ek kan die prentjie so duidelik sien…….hoe ouer n mens word, lyk vir my, hoe meer sensitief raak jou voete en bene. Mag die tranevloed opgevolg word deur n rëenvloed!

Outoppie ·

Pragtig gestel. Dit is hoe dit met ons almal moet gaan. Opkyk na bo en vra vir Hom om ons te dra in hierdie moeilike tye.

Erwee ·

Pragtig eerlik geskryf!! Dalk is hierdie skryfstuk die begin van ‘n nuwe seisoen in jou lewe, Charne!! As ek na die 3 kommentare bo myne kyk, is dit duidelik dat jy die lesers, insluitende myself vasgevang het met dit wat jy neergepen het. Dalk kan jy dit meer dikwels doen en selfs later in boek-vorm uitgee. Dis harde realiteit wat jy deel waarmee mense kan identifiseer. Jy kan jouself mooi uitdruk in woorde. Doen so voort!!! Voorspoed.

Baardbek ·

Geagte me Kruger, (Charné)
by die lees van u skrywe hierbo, het dit gevoel asof u hier langes my sit, en ons oor die omstandighede hier gesels.
U meld dat u gade en kinders die “werksmense” gaan haal het. ……Hier is nie “werksmense” nie; dit is net ons twee ou “suurstofdiewe”. Nee, vergewe my die onbedoelde disrespek; Ons is nie twee nie, ons is drie! Ons Skepper, en dan ons twee oues, ….en dan natuurlik ons kinders, die vier-potige sort.
Is dit nodig om u te vertel van die onbeskryflike sielswroeging om te sien hoe die “kinners” swaarkry? Is dit nodig om te vertel hoe dit voel, en woel! in jou gemoed wanneer jy, (ons twee), ‘n wilde dier wat by die skamele voerplekkie geval het, en te swak is om op te staan, prober optel? Die oomblik wanneer jy jou greep verslap, sak die kind weer inmekaar van swakheid……. dis DROOG; daar is NIKS om te vreet nie…. en jy is onmagtig om te gee of te help….
NIEMAND wie nie self boer , en dit aan eie lyf ervaar kan dit ooit ten volle vertsaan nie…..
Ons bid saam met u!!

Simpatie ·

Soms vra dit net ‘n toonstamp om oor alles te huil en die siel skoon te spoel. Dan sien mens weer kans vir die lewe.
Ek weet van……

Jerry ·

Die gehuilery het my nou lekker laat lag. Die toon-rewolusie klink na die regte medisyne vir al die swartgallige kommentators op MM. Hulle moet dit dalk ernstig oorweeg om eers toon te gaan stamp, voordat hulle kommentaar lewer!

Tannie ·

Presies hoe dit is. Ek lees graag jou volgende plasings, want dit voel asof jy vir my part ook skryf.

Wees gegroet, my sielsuster.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.