’n Vol lewe op ’n jong ouderdom

Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoof van Bok Radio 98.9FM, skryf:

Justen Hosken (Foto: Facebook)

’n Vriend sê eergister vir my “die lewe is so kort” ná die nuus van die begaafde musikant Justen Hosken se skielike afsterwe na ‘n motorongeluk skokgolwe deur Kaapse musiekkringe gestuur het.

Dit het my laat regop sit en dink, dink aan die lewe, mense en hulle dinge soos telkens vantevore.

Die lewe is nie werklik so kort as jy dit reg doen nie. Justen was ’n ou wat dit reg gedoen het – ’n vol lewe op ’n jong ouderdom.

Vol vriende, baie van hulle – gaan kyk maar hoe die huldeblyke op sy Facebook-tydlyn instroom.

Vol talent – vra maar die menige musikant wat ’n verhoog met hom gedeel het.

Vol respek – gaan kyk maar wie met lof van hom praat.

So kort, ja, moontlik, maar voller as die meeste mense dubbel die ouderdom.

Waarby ons nie verby kan kom nie, is die breekbaarheid van die lewe, die kosbaarheid daarvan en hoe alles binne ’n oogwink tot niet kan wees.

Justen mag miskien nie meer met ons wees nie, maar die herinneringe is vir altyd vasgevang in oneindige YouTube-beelde en aanhangervideo’s op talle Facebook- en sosialemediaprofiele. Dit sal altyd daar wees vir nageslagte en almal om gade te slaan.

Ek is effe kwaad. Net effe. Hoe kan sy lewe sommer net so beëindig wees?

Ter nagedagtenis aan Justen het ek en my span by Bok Radio met die hulp van my nuwe restaurant, Heroes, dit goedgedink om ’n huldeblykvertoning, waarvan die verdienste aan sy vrou gegee sal word, aanmekaar te flans. Hy verdien dit.

Ek wil ’n gewig aan Justen se lewe heg, maar die skaal is onvoldoende. Die invloed daarvan is fel in rebelle, soos ek, se harte.

Die verskil tussen lewe en dood kan met slegs ’n aks verskil – hoe wyd uitmekaar daardie aks kan wees, is ’n vraag wat net die Ewige kan antwoord.

Maak kontak met jou geliefdes, ook diegene wat jou nie goedgesind is nie, want môre is dalk jou of jou naasbestaandes nie beskore nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
amaroelamedia

Life is short even in its longest days – John Mellencamp. RIV.