Net nóg ʼn gewelddadige dag by ons universiteite

DASO-studente (September 2016) Foto: @caralee017 via @DASOTuks, Twitter)

DASO-studente (September 2016) Foto: @caralee017 via @DASOTuks, Twitter)

Ons is vanoggend klas toe met die hoop dat akademiese aktiwiteite soos normaal sou aangaan. Ons gemoed het dadelik in ons skoene gesak toe ons ingewag word deur veiligheidswagte wat by die ingang van ons klasse staan. Nadat ons moes bewys dat ons studente is, is ons uiteindelik in die gebou ingelaat.

Nie eens tien minute later nie is daar vir ons gesê die gebou is in “lockdown”, ons moet weg van die vensters beweeg en na die tweede vloer gaan vir ons eie veiligheid.

Massas studente het in die ontspanningsarea op die tweede vloer gaan sit en wag om te hoor wat aangaan. Oomblikke later het ons gehoor hoe struggle-liedjies gesing word en studente wat buite staan, skarrel. So naïef soos wat ons was, het ons gedink ons is veilig in die gebou: Daar is mos “private sekuriteit” wat ons beskerm.

Toe hoor ons hoe vensters op die onderste vloer gebreek word…

Ewe skielik is daar ʼn klomp mans wat instorm in die vertrek waarheen ons almal gestuur is vir veiligheid. Studente het begin uithardloop toe daar nog meer van hierdie groep mans instorm.

Dit was soos ʼn wit miswolk wat die vertrek oorgeneem het – die gevolg van ʼn brandblusser wat deur die betogers gespuit is. Studente wat koes, onder tafels wegkruip en sommiges wat verward rondhardloop. Ons sig was beperk en ons het na ons asems gesnak terwyl ons hardloop om by die vensters te kom om suurstof te kan kry. Toe word daar van buite stokke na ons gegooi.

In die chaos het ek en my vriendin ons pad na buite gevind deur die massas mense en die gas van die brandblussers. Ons is ingewag deur die res van die betogers wat buite vergader het. Die genot op hul gesigte kon myle vêr waargeneem word.

Polisie wat net om die draai staan en heeltemal bewus is van die gebeure, sê vir ons dat ons moet kalmeer nadat ons huilend vir hulle vra waarom hulle niks doen nie. Daar word gesê dat die universiteit private eiendom is en hulle nie gemagtig is om op te tree sonder die toestemming van die rektor nie. Die mense wat “opgelei is” om die veiligheid van die publiek te beskerm en die reg af te dwing, staan hande afgekap.

Die intensiteit van hierdie “FeesMustFall-beweging” word erger by die dag en daar word nie beheer geneem van die situasie nie.

Artikel 17 van die Grondwet lui soos volg: Elkeen het die reg om VREEDSAAM en ONGEWAPEN te vergader, te betoog, ʼn betooglinie te vorm en petisies voor te lê.

Nadat ek self die slagoffer van die GEWELDDADIGE betogings was, verstaan ek nie waarom die polisie nie mag optree indien die Grondwet, wat die hoogste gesag in die land is, oortree word nie.

Ek het gesien hoe ʼn onskuldige meisie met ʼn stok geslaan word, dromme omgegooi word, private eiendom beskadig word en dreigemente geuiter word. Word dit geklassifiseer as vreedsaam?

Die beweging word by die dag uitgebrei na “take back our land en hunger strike” soos wat op die plakkate gelees kan word. Dit gaan lankal nie meer oor die studiegeld wat landwyd afgeskaf moet word nie. Boonop is daar mense wat deelneem aan protesaksies wat nie eens studente is nie.

Nadat ek saam met baie ander onskuldige studente ʼn slagoffer was, voel ek dis tyd dat die meerderheid moet saamstaan en ook ons stem laat hoor. Daar moet gesê word dat dit onrealisties is dat studiegeld heeltemal en oornag geskrap kan word.

Verder moet hierdie situasie dringend onder beheer gebring word om ʼn nasionale ramp te voorkom en die skuldiges moet gestraf word vir hul onwettige dade.

Anomieme student

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lewies ·

Een van die inbellers van 702 het gevra vir ‘n “state of emergency” by Universiteite of by sommige Universiteite. Is daar iemand wat weet watter verskil dit gaan maak wat die optrede van die SAPD teenoor die studente gaan wees. Die publiek moet nou toenemend druk op die regering uitoefen om in te gryp. Dis ons belasting wat in gedrang is. Probeer ‘n bietjie sambokke as skuldiges uitgewys en skuldig bevind word. Pyn is die enigste wat hulle tot hulle sinne sal bring ??

Bernie Lightfoot ·

Polisie mag nie ingryp tot dit amper oorlog is of mense erg seerkry nie. Basta man! As betogers ander se eiendom vernietig en lewens ingevaar stel moet hul onmiddellik vasgevat word! Hul het nou handuitgeruk! As hul hulself soos vandale gedra, moet hul die gevolge dra!! Looi hulle man! Die hele storie is ‘n gekspul. Hierdie klomp verdien NIKS want hul vernietig als! Hul is uit die skool uit en moet verantwoordelik gehou word vir hul aksies!! Jy het reg tot skool nie vetdere opleiding nie…WERK self daarvoor en sien hoe pas hul dt dan op…

John ·

?… en die rektor vra nie optrede van die polisie nie. So gaan dit skynbaar orals. Probeer die universiteite nou vir hulself ‘n saak uitmaak as verweer wanneer studente eise instel; dat hulle rerig probeer het maar dat dit buite hul beheer was. Mens hoop skole is voorbereid op sulke moeilikheidmakers tydens die matriek-eksamens.

Veritas ·

Skole gaan ‘n ander storie wees. Ouers gaan nie sulke dinge duld waar hul jong kinders betrokke is nie. Veral by meeste laerskole, glo ek, sal ouers laer trek om hul kinders.

Netso ·

Dieselfde taktiek is gebruik jare gelede om die apartheids regering tot n val te bring – en dit was effektief, dis net jammer hulle het nooit daaraan gedink dat hulle eie taktiek teen hulle gaan draai nie. Saam met dit was daar baie oorsese kunstenaars wat liedjies gekryf het om die saak vd ANC te bevorder woorde soos “how can we sleep….. burning” kom by my op- ek wonder waar is die kunstenaars vandag, sal hulle liedjies skryf oor die universiteite wat brand. Ek dink ook aan n liedjie soos “Give me hope Johanna” (waarop so baie vd Afrikaners lekker kan dans (ironies ne)), mag ons n liedjie kry wat se “Give me Jacob”. Boeke is geskryf en films gemaak dink onder andere aan “Cry the Beloved Country” – dit moet verander na “Our Beloved Country is crying/dying”.
Dit is jammer dat daar net n handjie vol mense is wat iets probeer doen – Dankie Afri forum en Solidariteit.
Waar is die liedjies, boeke, films en sosiale media.
Hierdie gaan nie net oor gratis onderrig nie maar is gemik op alles wat die beskawing daar gestel het om himself en ander te bevorder.
Aan elke student en jong mens wil ek se hou moed en moenie moed opgee nie, staan sterk daar is n Vader in die hemel wat dit sien en sal optree maar ons tyd is nie Sy tyd nie.

hans ·

Hoekom word die moeilikheidmakers nie met n kleurstof gespuit,wat moeilik afgewas wors,nie. Die moeillikheidmakers kan dan maklik identifiseer word en kriminele klagtes teen hul ingedien word.

Basson ·

Mag nie op private eiendom optree as (omtrent skedule 1) misdade gepleeg word nie???

LOL – @ SAPS, tyd dat ons ons eie polisiemag (wat die wet) stig, want julle is totaal impotent, ent soos julle leiers tot op die hoogste vlak!

(Die terroriste moet van HOOGVERRAAD aangekla word)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.