Lesersbrief: ‘Newspeak’ as anti-Westerse propaganda

gerhard-bothma

Gerhard Bothma. Foto: Verskaf.

Gerhard Bothma van Bellville in Kaapstad skryf:

In die roman Nineteen Eighty-Four, deur George Orwell, skep die regerende party van Oseanië, (ʼn fiktiewe totalitêre staat) Newspeak, ʼn eie taal ten einde die doelstellings van Engelse Sosialisme te bevorder. Later is die term Newspeak selfs opgeneem in, onder meer, die Merriam-Webster- en Oxford-woordeboeke, waar dit gedefinieer word as dubbelsinnige, eufemistiese taal wat hoofsaaklik gebruik word in politieke propaganda.

Newspeak is wanneer politici en burokrate een ding sê, maar presies die teenoorgestelde daarmee bedoel sodat hul ware politieke of ideologiese doelstellings verskuil bly of oorkom as redelik, goed bedoel en logies.

Tans word al die groot diskoerse in Suid-Afrika gekenmerk deur Newspeak. Tot vervelens toe hoor en lees ons van nasiebou, versoening, diversiteit, multikulturalisme, transformasie, dekolonisasie en deesdae natuurlik ook grondhervorming. Wat beteken al hierdie woorde regtig? En wat word daardeur verdoesel?

’n Woord soos nasiebou word gelaai met positiewe betekenis, op so ’n manier dat geen nugter, gebalanseerde mens teen nasiebou sal wil wees nie. Gaan kyk mens egter na organisasies en instellings op haas elke gebied van die samelewing wat in hul visie en missie stel dat hulle nasiebou bevorder, dan vind jy dat hierdie organisasies dikwels hard daaraan werk om Afrikaans as openbare taal uit die weg te ruim, regstellende aksie ondersteun, etniese verskille trivialiseer, skeefgetrekte en eensydige diskoerse oor die verlede bevorder, kritiese Afrikaanse stemme stilswyg, ensovoorts. Nasiebou beteken dus, in tipiese Newspeak-styl, nasiesloping.

Behalwe vir die hoofstroommedia, word Newspeak-terme soos versoening en diversiteit seker die meeste op universiteitskampusse gehoor. Skynbaar beteken dit die bevordering van wedersydse respek en begrip. En tog vind daar ’n toenemend aggressiewe stellingname plaas teen die Weste in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, op haas elke kampus. Word een groep dalk meer aangemoedig om respek en begrip te toon (en aanspreeklikheid te aanvaar) as ander groepe?

Grondhervorming word gelaai met die idealistiese doelstelling om grondloses te bemagtig, maar in werklikheid kom dit neer op grondroof. En so kan ons aangaan.

Bykans al bogenoemde terme (en nog vele meer) wat gelaai word met positiewe betekenisse, is uiteindelik bloot eufemismes waarin ’n sterk anti-Westerse narratief mooi verpak word.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

Gevolgtrekking wat gemaak kan word uit hierdie artikel: Daar is nog BAIE, BAIE hoop vir ons!

Baie dankie Gerhard!

ns: een (wonderlike) manier om ons taal uit te bou en sy funksies te bevorder nieteenstaande aggressiewe en vyandige Afro-Marxisme is Wikipedia- help om by te dra asb!

Arak ·

Dankie Gerhard,
ek stem 100% saam. Hierdie “Newspeak” moet uitgewys word vir die valsheid wat dit werklik is. Tog jammer dat soveel van ons eie mense steeds vas gevang is in die illusie van die woordeskat wat “Newspeak” vir hulle optower.

Charles ·

Wanneer word Orwell se (profeties en skrikwekkend akkurate) meesterstuk “1984” in Afrikaans vertaal, of is dit reeds gedoen?

Gert ·

Ek het daardie boek so 40 jaar gelede gelees, maar hierdie laaste jaar dink ek al hoe meer aan dit, want dis verstommend hoe huidige gebeure ooreenstem met daardie boek. Ek wens almal wil dit lees, dit sal hulle ‘n baie beter insig gee in die hedendaagse situasie.

Hendrik ·

Een voorbeeld van Newspeak is Cyril se woorde: “Grondhervorming sal binne die wet en georganiseerd plaasvind”. Wat dit verskuil is dat die ANC en sy trawante die wet sal verander sodat hulle kan vat wat hulle wil en dat daar ‘n doelbewuste plan met ‘n onteieningskedule is. Moenie deur hulle mooi woordjies geflous word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.