Lesersbrief: NGV die hoeksteen van privaat gesondheidsorg se ondergang

natasha-venter

Natasha Venter. Foto: Verskaf.

Natasha Venter skryf:

 Healthcare is the cornerstone of the socialist state. It is the crown jewel of the welfare state – Monica Crowley

Suid-Afrika kan allermins as ’n welvaartstaat beskryf word (dit is lande soos Frankryk, België en Finland). Die regerende ANC se aanhang van alle idees wat ’n sweempie kommunisme bevat, stuur die land egter op die pad na sosialisme. Verhoogde staatsinmenging op alle gebiede, die aantal mense wat regeringstoelae ontvang, sowel as die astronomiese aantal staatsamptenare is die bloudruk van ’n sosialistiese staat. Al wat kort, is die hoeksteen en dít is presies wat gesondheidsminister Aaron Motsoaledi met sy Nasionale Gesondheidsversekering­skema (NGV) wil verskaf. In vanjaar se begrotingsrede het Tito Mboweni, minister van finansies, aangekondig dat R717 miljard vir gesondheidsdienste, onder meer die inwerkingstelling van die NGV, toegeken word.

Volgens Motsoaledi is die NGV ’n finansieringstelsel wat sal verseker dat alle burgers en wettige langtermyninwoners voorsien word van omvattende noodsaaklike gesondheidsorg, ongeag hul werkstatus en vermoë om ’n direkte geldelike bydrae tot die NGV-fonds te maak. Dit is die ANC se oogmerk dat die NGV die grootste staatsinstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis word – daarom (met inagname van die huidige staatsinstellings se prestasierekords) die grootste geleentheid vir korrupsie en wanbesteding nóg. Die redenasie om die NGV te regverdig, is dat gesondheidsorg ’n grondwetlik gewaarborgde mensereg is. Daar is egter een groot kraak wat dwarsdeur hierdie redenasie loop: Mense het in teorie reeds toegang tot gesondheidsorg in die vorm van staatsgesondheidsinstellings.

Motsoaledi beweer verder dat die regering sy bes gedoen het om sedert 1994 toe te sien dat iedereen in die land gelyke toegang tot noodsaaklike gesondheidsdienste het, maar dat dít as gevolg van ’n ongebalanseerde gesondheidsorg-­finansieringstelsel uitdagend is. Hierdie redenasie is gegrond daarop dat die staatsgesondheidsdiens dienste aan sowat 70% van die bevolking moet bied, terwyl die middel- en hoëinkomstegroepe van privaat gesondheidsdienste by wyse van mediese fondse gebruik maak. Volgens die Internasionale Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) (2018) het die demografiese verteenwoordiging van mediesefondslede sedert 1997 dramaties verander – 48% is swart mense, terwyl slegs 34% wit mense is, 11% uit bruin mense bestaan en 7% Indiërs is. Ten spyte hiervan streef die ANC-regering steeds na die verwoesting van mediese fondse en die uiteindelike ondergang van privaat gesondheidsorg in Suid-Afrika.

Die hartseer werklikheid is dat 85% van staatshospitale en -klinieke nie aan basiese mediese standaarde voldoen nie. Daarom het die staatsgesondheidsdiens tot R56 miljard (’n kwart van verlede jaar se begroting vir gesondheidsdienste [IRV, 2018]) aan die uitbetaling van nalatigheidseise bestee. AfriForum het verlede jaar ook strafregtelike klagtes oor onreëlmatige besteding van meer as R10 miljard in al nege provinsies ingedien.

Mboweni se finansiering vir die instelling van die NGV, tesame met die regering se besluit om nie die mediesekredietkoers vanjaar te verhoog nie, dui daarop dat die ANC van plan is om sy sosialistiese hoeksteen te lê, want hierdie wetsontwerp is niks anders nie as die gesentraliseerde diktatorskap van burgery se gesondheid.

AfriForum, aan die ander kant, staan vir ware toegang tot gesondheidsdienste – wat hoofsaaklik deur die privaat sektor gelewer kan word – en eis ook dat die staat sy plig om staatsgesondheidsinstellings behoorlik te bestuur, nakom.

Bron:

Jeffrey, A. 2018. What’s wrong with the golden promise of NHI? Institute of Race Relations. [28 Februarie 2018].

  • Natasha Venter is veldtogbeampte vir navorsing en inhoud by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hans ·

Baie interessante artikel. Is al baie jare lid van n mediese fonds ,net jammer dat sommige van die personeel nie altyd so kundig is om mens korrek te adviseer nie en mens etlike “lang” oproepe moet maak korrekte advies te kry. Verduur liewers dit as om by staat se fasiliteite aan te klop om hulp.

Stripes ·

As jy wil sien watse gemors so ‘n nationale gesondheids diens is, gaan kyk na die Englse.

Gert ·

Blykbaar is daar reeds ‘n instruksie aan mediese fondse dat hulle nie iemand mag weier wat nie die maandelikse bydraes kan bekostig nie. Dis maar weer ‘n herhaling van wat gebeur het met krag, water, onderwys, universiteite, ens. ens. Dit gaan ook presies dieselfde resultate gee.
Hulle sê die toppunt van verstandelike gestremdheid is om dieselfde ding oor en oor te doen en telkens ‘n ander resultaat te verwag.

Dirk ·

Ek is 100% seker meeste mense wat teen dit is, is in die 80s in ‘n staatshospitaal gebore. Nou is hulle almal skielik teen die beleid. Skynheilig se PA!

Judge Dredd ·

Praat jy nou van daai staatshospitale wat lank lank gelede behoorlik gefunksioneer het?

En dink jy dat die ANC regering wat al die staatsbeheerde instansie die grond in bestuur het, nou ewe skielik ‘n sukses van ‘n baie groter staatssisteem gaan maak?

Naiewe mense moet eerder nie kommentaar lewer – Die regering speel letterlik met mense se lewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.