ʼn Student, A de Jonge, het ʼn brief aan Maroela Media geskryf waar sy ʼn paar vrae aan volwassenes stel oor die lewe en die keuses wat ʼn mens moet maak. Lees gerus haar brief hier.
Ida Gräbe van Koedoeskop het hierdie antwoord gestuur:
Liewe A de Jonge
Die vrae wat jy stel oor die leë kultuur wat jy rondom jou sien en die projeksie van jou ambisies het my ver laat terugdink. Ek en my man is reeds lankal afgetree en het feitlik al die boksies wat jy noem gaandeweg afgemerk. Wat egter nie beteken dat ons blindelings die stroom gevolg het nie.
Ons is albei gebore studente, wat waarskynlik die rede is vir ons jeugideaal om eers meer van ons vak en die lewe te leer voordat ons trou en met ‘n gesin begin. Hy het Duitsland toe vertrek om ’n doktorsgraad in Duitsland te gaan behaal, vier maande nadat ek hom ontmoet het. Ek is later Parys toe om by die SA Ambassade te werk en my Frans te probeer “poleer”. In die proses het ons drie jaar lank gekorrespondeer (dit was lank voor e-pos en SMS’e) en is ‘n jaar later getroud. Is dit dalk weens die deeglike leer ken van mekaar dat ons huwelik nou al 46 jaar lank hou?
Natuurlik is daar dinge wat ek, met die nawete wat tyd bring, anders sou wou doen. Ek sou dalk in ’n ander woonbuurt erf gekoop het, nie so gou uit my werk bedank het of ‘n kontensieuse onderwerp vir my MA gekies het nie. Maar oor een ding is ek nie spyt nie. Ek en my man het vandat ons ontmoet het, saamgestem dat die huwelik ‘n driehoek is. Ons Vennoot in besluite en optrede was die Here wat ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Ons is bevoorreg om albei te weet dat ons ouers en grootouers en selfs van hulle voorouers die Here geëer het. Ons glo ons is erfgename van die belofte wat God in sy Woord maak om geslagte lank goed te wees vir die mense wat in Hom glo.
Die een keuse wat ek dus nooit sal berou nie, is dat Jesus die Leidsman van my lewe is. In gehoorsaamheid aan sy voorbeeld het die huishulpe wat naadwerkklasse in ons huis geneem het (in die sewentigs, let wel), die swart sendelinge wat ons ondersteun, die Bybelstudiegroeplede, die medediakens en ouderlinge, die kore wat my man afgerig het en mense uit ander kultuur- en taalgroepe wat vriende geword het, ons huis besoek. Die buurvrou wat oor haar kinders se prestasies of die prys van haar huis se gordyne spog, het my nooit gepla nie. Ek het dit geniet om haar te vertel dat my gordyne by die supermark gekoop is. Ons gesinsvakansies vol grappies en manewales en die stories lees vir vier afwagtende gesiggies saans was ons skatkis. Vandag is die vier egpare en ons elf kleinkinders vir ons ’n vreugde en vervulling. Tog weet ons ons kan nie deur hulle leef nie en bly daarom nog steeds besig met ons stokperdjies, omgeegroep en betrokkenheid by die sending.
My antwoord in ’n neutedop aan jou is dus: Jy hoef nooit ’n slagoffer van ’n oppervlakkige kultuur te word nie! Jy kan op grond van die waardes wat jy deel, keuses maak wat tot volheid en betekenis lei. Hierdie keuses kan ook belangrike reperkussies vir jou nageslag hê. Weet dat daar vir elkeen vir wie die Lig deurgebreek het, ’n nuutgemaakte lewe wag met ’n ewigheidsdimensie. Dit beloof avontuur, opwinding en vervulling.
Ida Gräbe
Lees gerus nog briewe wat lesers aan A de Jonge geskryf het hier.