Nog nie op moedverloor se vlakte nie

leierskap-inspirasie

Argieffoto.

Anoniem van Centurion skryf:

Henri Boshoff, kenner van die verdiskonteringsom, skryf in teenreaksie op my brief – “Noodkreet van ’n leierlose uitgeworpene” – dat ek moed verloor het in ons pragtige taal, ons kultuur en ons mense. Allermins.

My brief was – soos die titel lui – ’n pleidooi vir Jan Alleman om op te staan en saam te span.

Konteks ontbreek dikwels en is te gereeld die dryfveer agter die spreekwoordelike Babelse verwarring wat lei tot nóg meer verdeeldheid en onenigheid. “Noodkreet van ’n leierlose uitgeworpene” gaan oor meer as net nostalgie, hartseer en moed verloor – ook oor trots en hoop.

Afrikaans is groot, Afrikaans is groter en ons beskik oor die vermoë om selfs groter goed te doen. Ek hou van wat Norman Halder sê: “Die Afrikanerdom – ons kyk al te graag ons vermoëns mis en misplaas dit doelbewus.” Ons is mense en dus veranderlikes; nêrens kry jy ’n mooier voorbeeld hiervan as Afrikaans, die grense wat dit kan verskuif en die brûe wat dit kan bou nie. Die enigste verskil tussen kan en doen is wil.

Henri se skrywe is slim-elegant en weerspieël ’n diep liefde vir en kennis van ons geskiedenis – goeie goed is skaars.

Henri voer aan dat ons eerder te veel leiers het om van te kies en dat verdeeldheid nog altyd deel was van die Afrikanergenoom. Daarom stem hy nie met my siening saam dat ons tans ’n leierskapkrisis beleef nie. 

Eendrag maak mag

Henri sê dat dit “krities vir enige gesprek is om verskillende sieninge te moet hê”, en ek stem heelhartig met hom saam. Tog, hoewel ’n voorstaander van nugtere debat, glo ek dat te veel van ’n goeie ding (lees geredekawel) ook nie gesond is nie. Was dit nie juis die Potchefstromers, die Soutpansbergers en die Lydenburgers – elk met hul eie sieninge en strewe na onafhanklikheid – wat die destydse Transvaal van vinniger groei en vooruitgang weerhou het nie? Is dit nie al amper nege jaar sedert die ANC se 2007-Polokwane-konferensie, waartydens daar op radikale beleidsverandering rakende ons gesondheidsorgbediening besluit is, en nog weinig daarvan gekom het nie? Verder, hoe lank nog voordat die veelbesproke Nasionale Ontwikkelingsprogram van stapel gestuur word?

Ja, Henri, soms is daardie spanning waarna jy verwys “normaal en nodig”, maar hoe lank en tot watter mate moet dit geduld word? Dis als goed en wel om jou “verkenners in verskillende rigtings te stuur”, maar daar lê baie myle tussen doen en sê. Hoeveel geselskappe is voor die voet uitgemoor omdat hulle op hul eie verkenningstogte – en dus weerloos – was? Hoeveel Suid-Afrikaners sit waarskynlik vandag en krepeer van ellende as gevolg van apatie? En hoeveel verlies aan vertroue het ons regering se pro-Chinese en -Russiese retoriek, asook teenstrydige uitsprake ons dalk tot dusver in die sak gebring? Die geleentheidskoste van te veel teenstrydende verkenning is verbroude kanse. As jy jou osse in verskillende rigtings inspan, ploeg jy agteruit; en van saamgestelde rente hoef ek jou ook nie te vertel nie. Een en een kan ook elf wees en nie noodwendig net twee nie.

Dit gaan nie oor die aantal leiers wat ons het nie, maar eerder oor die bereidwilligheid van voorafgenoemde om êrens langs die self-uitgevaardigde skeidingslyne, in die loopgrawe, saam standpunt in te neem, in plaas daarvan om mekaar herhaaldelik met goedkoop eetgerei in die rug te steek en te ondermyn. Ek herhaal dat gesonde debat onder mekaar goed is, maar hoe lyk dit as die mense wat jou verteenwoordig gedurig aan mekaar se kele is? Ek sê weer – die oneindige fragmentasie voed die knaende disassosiasie – onder mekaar en met volk en vaderland.

Was dit nie Paul Kruger wat menigmaal binnegevegte en amper-burgeroorloë ontlont het nie? Henri, jy sê self: “Die trekke van Potgieter, Cilliers en Kruger weg van Britse bewind af was allermins ’n bewys van die eenheid van Afrikaners.” Het ons nie juis ons bestaan te danke aan daardie samehorigheid nie? “Noodkreet van ’n leierlose uitgeworpene” gaan oor meer as net nostalgie, hartseer en moed verloor – ook oor trots en hoop – dat die laertrekmense van ouds weer laers sal leer trek – gebreekte speke en al. Net omdat ons ’n geskiedenis van vassit het, beteken dit nie ons lot vorentoe moet deur dieselfde kortsigtigheid voorgeskryf en bepaal word nie. Een van ’n leier se vernaamste eienskappe is juis sy of haar vermoë om mense bymekaar te bring.

In sy jongste boek, David and Goliath: Underdogs, misfits and the art of battling giants, wys Malcolm Gladwell daarop dat die oorsprong van ’n reus se skynbare krag ook dikwels sy swakpunt, en uiteindelike ondergang is. Vir die Afrikaner is dit ongetwyfeld sy trots – en nie die goeie weergawe daarvan nie. Spreuke 16:18 sê: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” En voordat iemand my weer daarvan beskuldig dat ek kleivoete het, sluit ek liefs af met die woorde van Jopie Fourie net voor sy vuurpelotondood: “O, ek hoop tog hulle sal my nie in my gesig skiet nie. Hier is ’n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls te ontvang.”

Jy kan Henri se teenargument op my eerste brief lees deur op die skakel te klik.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.