Lesersbrief: Noodkreet uit Fauresmith

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Annerie Pieterse van die Vrystaat skryf:

Die datum 19 November 2017 sal sonder twyfel vir die inwoners van Fauresmith ʼn dag wees wat hulle vir altyd sal onthou.

Uitdrukkings van skok en ongeloof het ʼn mens begroet. Voor my het ʼn huis, ongeveer 170 jaar oud, gestaan, een wat gesien is as een van die gedenkwaardighede op ons dorp. Die huis is nou net ʼn uitgebrande geraamte met drome en lewensverwagtinge wat in vlamme opgegaan het.

Die inwoners van hierdie pragtige huis het letterlik met die klere aan hulle lywe uit die huis gevlug. Klein kindertjies sit nou met net ʼn ou broekie aan die lyfie. ʼn Ma en pa moet letterlik van voor af begin om ʼn lewe vir hulle seuns te bou.

Hierdie tragedie kon vermy gewees het.

Daar is al van Januarie 2017, en selfs nog vroeër, nie ʼn druppel water in Fauresmith se krane nie. Die mense moes water van ʼn Jojo-tenk aandra met emmers terwyl hulle wag vir boere met waterkarre om in te jaag van die plaas af. Dankie tog vir ons gemeenskap se mense en hul vinnige optrede.

Moet iemand eers ʼn lewe verloor voordat daar werklik aandag aan ons klein, plattelandse dorpie geskenk gaan word?

Ek het voorheen ʼn brief geskryf waarin ek ook gepleit het vir hulp en bystand vir ons gemeenskap. Raai wat, die situasie is nog steeds eens so sleg. Kinders by ons skool moet ʼn emmertjie gebruik om toilet toe te gaan. Water word aan mense voorsien in ʼn wa wat voorheen vir riool gebruik is.

Bloemwater trek eenvoudig die skouers op. Inteendeel, dit is hulle wat die spreekwoordelike kraantjie toedraai. Daar word gesê ʼn mens mag nie waarde heg aan ʼn persoon se lewe nie, maar hulle doen dit: R193 miljoen. Dit is wat dit gaan kos voordat ons water kan hê om die volgende tragedie te voorkom. Daar is soveel onskuldige mense wat swaarkry onder ons korrupte leiers.

Kan iemand net help, asseblief?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Erika Potgieter ·

Dis skreiend! Het jul al Afriforum gekontak? Of die DA?

Haan ·

Dit gru my. Dit gru almal… Almal behalwe die regering en diegene wat verantwoordelik is vir die instandhouding van basiese dienste soos water.
As ek realisties moet wees, glo ek nie dat die ommekeer vanuit die parlement gaan kom nie. Ons word regeer deur mense wat fisies nie oor die vermoë beskik om “ingewikkelde” sisteme soos paaie, water, landbou, finansies ens. ens. aan die gang te hou nie.
Ons moet ophou om kundigheid vanuit daardie oorde te soek. Ons (die Afrikaner) moet opnuut sy eie heenkome bewerkstellig. Die infrastruktuur in SA gaan rasse skrede (verskoon die pun) agteruit. Dink maar aan Kroonstad, Fauresmith, Vryburg, Ermelo en basies enige ander vervalle klein plattelandse dorpie – hierdie dorpies dien as die spreekwoordelike Kanarie in die steenkoolmyn. Enige iemand wat al in Afrika op was weet, dat geen eerstewêreldse infrastruktuur die onverskrokke aanslae van donker Afrika oorleef nie. Volgens my is die enigste lewensvatbare uitweg selfbeskikking.

My hart bloei vir mense wat in hierdie sieklike dorpies moet woon. Mense soos Anneri Pieterse en my Grootouers, wat moes staan en toekyk hoe die eens pragtige dorpie wat hulle geken het, voor hul oë verbrokkel. Ons voorouers het hierdie land getem en ontwikkel, en ek is seker ons sal dit weer kan doen. Maar moenie van n klomp brekers verwag om te bou nie.

Elmaré Schulz ·

Ja onskrete lê op baie tafels al maar niks gebeur nie. Hulle bekommer hulle oorbdie stede waar die getalle is en hulle kan naam maak. Afriforum wil nie eers n tak stig nie want ons dorp het nie genoeg mense vir n tak nie. Carte Blanche was ook al by al die dorpe wat geraak word. Van die DA sal ons eers seker hoor wanneer ons weer moet stem. Die menseregte kommissie het Augustus 2014 al bevind Kopanong munisipaliteit is skuldig en het hulle 18maande gegee om hul huis in orde te kry. Van dit het niks gekom. Ons is terug na hulle nou begin hulle liewer met n nuwe proses. Dit is om van siek te word. Hierdie hele week is ons skole en eksamens ontwrig want daar is nie n druppel water in die krane. Kinders moet vroeër huis toe gaan want ons het nie drinkwater of toilette vir hulle nie. Ek is so op vir siek kinders. Vrydag het n kind weer in my klad opgegooi in n eksamen. Hulle kry as hulle gelukkig is water uit vuil tenks en tenkwaens. Ons is g@tvol op vir die gemors.

Nico ·

Ongelukkig het die oorgrote meerderheid met die referendum in 1992 , nieteenstaande talle waarskuwings, oorweldigend hiervoor gestem !!!! Diegene wat gewaarsku het is venynig verguis, onthou julle ??

wilma ·

Ek vra weer – soos ek drie maande gelede gevra het – is daar moontlik iewers in Pretoria ‘n versamelpunt/vervoer waar ons water kan afgee vir julle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.