Noodkreet van ’n leierlose uitgeworpene

Emigreer

Ek het geen begeerte om in die buiteland te gaan woon nie, geen begeerte om langafstand-oproepe na familielede te maak of om my kinders eendag in Engels te skool nie. Foto: Ometz.ca

Anoniem van Centurion skryf:

Hoe gemaak as die strop om jou nek al stywer trek, jy die meedoënlose aanslae van die oningeligte massa op jou mense en jou kultuur hulpeloos moet aanskou – elke uur, soos klokslag? Net nog ’n dag, met net nóg ’n wolkbreuk gevul met afgryse en nyd vir jou en jou soort. Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, hoe hard jy omgee nie.

Afrikaans is opnuut die taal van die verdrukker, en ons jonges word steeds gekruisig vir die “atrocities of the past”. Om elke hoek en draai word ons herinner aan ons hand in die “verspilling van onskuldige bloed, ons onregmatige vergrype aan grond en ons geklou aan sistemiese rassisme en swart haat”. Trek stywer.

Selfs ons werkplekke – die één plek van “samekoms” waar almal na ’n gesamentlike doelwit streef, naamlik wins – het in ’n drukkoker ontaard. Swart Ekonomiese Bemagtiging, kollegas wat hulle gebrekkig op sosiale media teen die “kolonialiste” verset met geen mens wat ’n woord daaroor rep nie, en die onverkwiklike beletting om jou moedertaal, die soetste taal, te praat, is als “tekens van die tye”. Trek nog stywer.

Ek skryf nie vir eie gewin nie, maar om iemand eendag, êrens ’n blik te gee op die psige van die jong Afrikaner van vandag – die uitgeworpene, die wildehond wat agter draf. Blaf, kef, tjank. Was, is, mos. Gebroke, maar nie oorwonne nie. Ons vreet die oorblyfsels van die leë karkas as trooskos, want godddank, dis van korte duur.

Ek lees en hoor dikwels van eens groot Afrikanergeeste, -patriotte – van Johann Rupert wat sy finanisiële steun aan ’n welbekende Britse tydskrif onttrek het omdat hulle sy taal verneder het; van ’n jong Paul Kruger wat op tienjarige ouderdom aan sy eerste veldslag deelgeneem het, van Wolraad Woltemade wat te perd die see ingevaar het om desperate siele van ’n verdronke dood te red; daar is baie voorbeelde. Trouens, daar is so baie, dit klink amper te goed om waar te wees, want waar is hulle dan vandag?

Nog nooit was die Afrikanerstem so uitgedoof nie; nog nooit so verdeeld en pateties nie. Wie verteenwoordig ons? Max du Preez? Steve Hofmeyr? AfriForum? Solidariteit? Die Vryheidsfront Plus? Front Nasionaal? Ons het tientalle kultuurorganisasies; die kerk dreig om in twee te skeur en selfs fees- en musiekorganisasies sit nie eens om dieselfde vuur nie; en ons mense sit met en sonder werk, hier en oorsee. Tweespalt, “driespalt”, “vierspalt”, spat. Die oneindige fragmentasie voed die knaende disassosiasie – onder mekaar, en met volk en vaderland. Vaderland! Dis hartsverkeurend.

Ek is lief vir hierdie land en wil graag sien dat Suid-Afrika die vooruitstrewende wêreldmoondheid word wat ek weet ons kan wees. Ek het geen begeerte om in die buiteland te gaan woon nie, geen begeerte om langafstand-oproepe na familielede te maak of om my kinders eendag in Engels te skool nie. Ek is lief vir Afrikaans en al sy mense, maar ons is leierloos, gemarginaliseerd en leef in konstante vrees vir die diskoers wat die land inslaan – toenemende politieke chaos, finansiële agteruitgang en smeulende rassehaat wat by die dag dreig om oor te kook.

My grootste vrees en seer is nie om die onbekende in te vaar nie, maar die lot van dié wat gaan agterbly kort nadat ’n klomp ywerige Afrikanermoed, kundigheid, geld en beleggersvertroue die land finaal vir goed vaarwel toegeroep het. Ver duskant die blou waters sal ons onsself hervestig, wêreldklas-skole en -universiteite stig en ’n krag word om mee rekening te hou – ons het dit al immers vantevore gedoen. My eerste liefde en keuse bly Suid-Afrika, maar daar gaan ’n dag kom – en ek vrees, vinniger as verwag – wat ons hierdie land se oewers gaan verlaat; nie uit vrees nie, maar juis omdat ons vreesloos, leierloos is.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Benito Odendal

Izak jy slaan die spyker op sy kop !!!…6 groeperings wat dit hul besigheid maak om mekaar konstant te diskrediteer en verdag te maak met ure se slim praatjies , wetenskaplike uiteensettings,marknaforsings verslae,doktorale verduidelikings en navorsings stukke,pragtige en besonder hoe standaard van brief skrywing….die taalgebruik is van hoogstaande gehalte om hul superioriteit te beklemtoon… en dan nog die holrug geryde plasing van strome artikels op die sosiale media wat “Afrikaners ” oproep om saam te staan…..ALS NET ter wille van eie oorlewing …..blykbaar bestaan die woord leier nie in sommige groeperings nie en is daardie woord al vir ‘n wyle… Lees meer »

Asjas

My Van is nie Rupert nie maar ek is en bly iemand met met geld om te bestee en as jy daai geld wil he gaan jy werk daarvoor! Wanneer ek die klient is dring ek daarop aan om in Afrikaans bedien te word, dit is immers my reg. As jy nie kan of wil Afrikaans praat nie dan gaan haal jy iemand wat kan en so skep ek werk vir ander Afrikaans spekende persone (kleur maak nie saak nie). As daar nie so (kwota / demografiese aanstelling) persoon in jou organisasie is nie, vat ek my besigheid iewers anders,… Lees meer »

STHEPO

Izak Nel sies man watse strooi raak jy kwyt dit gaan nie so sleg met jou mense nie hulle braai nog kyk rygby hou oorsee vakansies ry slap kare . NEE man jy kan mos nie 20 jaar met 300 jaar vergelyk nie . regstelende aksie gaan inelkgeval doodloop .

Johan 2

Goed gestel Izak. Dit is 100% hoe ek ook daaroor voel…wens net ek weet waarheen nou.

Liezel Lüneburg

Ai, Izak, ek kry almal van alle ouderdomme jammer wat soos jy voel. Ekself weier dat omstandighede my onderkry. Ek is ook van mening dat daar min dinge op aarde is wat werklik “nuut” is – ook nie ons huidige, “benarde” situasie nie. Jan F.E. Celliers en sy tydgenote het om en by ‘n eeu gelede maar met dieselfde dinge geworstel. As ek dit nie mis het nie, was dit in ‘n tyd toe Suid-Afrika deur die Engelse regeer is. Suid-Afrika was besig om van die Britte se verskroeiede-aardebeleid te herstel en Afrikaans as taal was nog nuut. Sy gedig… Lees meer »