Lesersbrief: Nuwe jaar, nuwe begin

Mense gaan stap oor Spaanse vlaktes om iets binne-in hul Afrikaanse self te heel. Foto: Facebook

Sureta Strydom von Holtzhausen skryf:

Wat is hierdie ding van oor begin of nuut begin wat ons aan datums koppel en waarna ons voortdurend hunker? Hoekom poog ons heeltyd om onsself oor te maak?

Waar kom hierdie onvrede vandaan?

Ons neem dit oral waar: Mense kry lewensafrigters om die onvrede met hul besighede in sukses te probeer omskep, die dieet-industrie teiken jou genadeloos met revolusionêre planne om jou lyf te verander onder die verkoopbare vaandel van: wees gesond!

Mense gaan stap oor Spaanse vlaktes om iets binne-in hul Afrikaanse self te heel.

Esther Perel, ’n Belgiese huwelikskenner, skryf: “There is no greater other than a different version of yourself.”

Ons nuwe dieet begin op ’n Maandag, want ’n Maandag is die eerste dag van ’n nuwe week. Ons maak skoon in die lente of gaan op boot camp want die lente is die nuwe, lewegewende seisoen na die winter. Ons spring‑clean.

Met die aanvang van elke vakansie belowe jy jouself om batterye te laai – lees jou Bybel meer, stap in die maanlig, lees vir jou kinders voor, skryf iets, bak iets, skep iets. Aan die einde van die vakansie het jy net op ’n ander plek gaan doen waartoe jy geneig is.

En met die terugkom begin jy gou die nuwe boek lees wat net so teruggekom het (Spertyd en die nuwe Paulo Coelho staan al sewe maande op die vensterbank langs my leesstoel, bladsy 7, dink ek), jy begin weer met die simpel dieet, jy wy jouself weer toe aan die voorneme tot stiltetyd, tot kwaliteittyd, tot dié voorneme, tot daardie voorneme, tot nog ’n voorneme.

Ek weet en jy weet die oggend na Oujaarsaand gaan jy in dieselfde pajamas opstaan, in dieselfde yskas jou gewone keuses maak, jou voorneem om dan maar op 2 Januarie jou keuses te verbeter, en die Voorspoed! wat jou vriende jou toegewens het, is net nog ’n foto op jou tydlyn wat jy moet uitvee om jou foon se stoorruimte te spaar.

Dalk hou die oefen of die eetplan of die toewyding tot Februarie, selfs Maart. Kom April, is jy net weer die weergawe van jouself wat jy nog altyd is en was en neem jy jou voor om na Paasfees weer beter te doen – meer naweekbreke te neem, meer by vriende uit te kom, meer of minder te dit en te dat.

Verlede jaar hierdie tyd: Wie was jy? Is jy anders as op 31 Desember 2017?

Jy is. Maar nie omdat ek of iemand anders jou voorspoed toegewens het nie, of oor die suksesvolle uitvoer van jou nuwejaarsvoornemens nie.

Jy is ’n klein bietjie anders bloot omdat jy leef! Omdat jy sedert verlede jaar se Oujaar nog een keer verjaar het. Omdat jy leer. Omdat jy val. Omdat jy (moet) opstaan. Omdat jy liefhet. Omdat jy mense en dinge en dele van jouself verloor het. Omdat jy mense en dinge en dele van jouself leer ken het.

Ek wens jou nie voorspoed toe nie. Voorspoed se definisie is wyd. Soms vind mense voorspoed juis aan die ander kant van teëspoed. Ek wil jou nie daardie tipe teëspoed en groei ontneem nie.

En daarom wens ek vir jou dapperheid.

Om dapper genoeg te wees om te onthou dat teëspoed volharding skep en volharding geloof skep en geloof hoop bring en die hoop nooit beskaam nie.

Ek wens vir jou dus Romeine 5.

Ek wens vir jou genoeg: Genoeg vrede met presies wie jy nou is en genoeg onvrede om elke liewe Maandag jouself te wil vernuwe. Want dit wat ons gereeld genoeg doen, word naderhand deel van ons.

Ek wens vir jou ’n jaar wat jou meer gaan maak van jouself – presies soos wat ons jou nodig het.

Dapperheid, Romeine 5 en Genoeg vir jou vir 2019.

Sureta Strydom von Holtzhausen is ’n regsdosent bedags, ’n skrywer snags en voltyds die ma van drie liewe kinders. Haar kompas is die groot liefdes in haar lewe: haar man, Helgaard, ook ’n regsgeleerde, haar blog, Tweespoor, haar ouers, haar sussie, die wildtuin, Hartbeespoort se dinge, en maanlig. Haar ligtoring is ons hemelse Pa wat haar telkens van die rotse wegkeer. Sy skryf omdat skryf haar manier is van lag en liefhê en huil en leef.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.