Lesersbrief: Om anders te dink…

Eckhardt Bosch skryf: 

Roger Scruton is op 12 Januarie in die ouderdom van 75 oorlede. Foto: (John Stillwell/PA via AP, File)

Ons leef in ‘n tyd wat oorheers word deur sekere ideologieë. Ideologie is die lens/perspektief waardeur ons die lewe verstaan.

‘n Alombekende ideologie is dié van sosialisme. Die handel oor die versorging van die gemeenskap deur die “verdeling” van rykdom. Hiervoor is ‘n sterk beheerstelsel, naamlik die staat, nodig om kontrole uit te oefen.

Dit klink goed, maar is dit? Indien “verdeling” eintlik ‘n verskuilde woord vir “steel” is, verander die begrip van sosialisme heeltemal. Met ander woorde, ek steel van jou, sodat die ander ook mag kry.

Is sosialisme dan werklik so moreel reg?

Om anders te dink en die sogenaamde goeie ideologie soos bo te bevraagteken, vra dapperheid. Dit was die geval met Sir Roger Scruton wat sy lewe lank anders gedink en geskryf het. Deur sy skryfwerk het hy gedagtes probeer vind wat agter die sogenaamde waarheid skuil.  As bekende behoudende – of konserwatiewe – filosoof was dit sy lewenstaak om die sogenaamde waarheid te bevraagteken.

Alhoewel hy geweldig kritiek ontvang het, was dit vanweë sy andersdenkendheid, en nie as gevolg van verkeerde denke nie. Die kern van sy filosofie het gehandel oor die bewaring van die goeie, naamlik kultuur en erfenis. Ons kan sê dat hy die bewaring van die goeie geag het as vooruitgang.

Trellick Tower

Ons hoor gereeld van die belangrikheid van ontwikkeling. Dit is veral ‘n werklikheid op die gebied van argitektuur. Ter wille van ontwikkeling word eksentrieke/eksotiese ontwerpe vir geboue dikwels geag as vooruitgang. Die fenomeen kan gesien word in meeste moderne stede. ‘n Ekstreme voorbeeld hiervan is die Trellick Tower in Londen. Is dit mooi? Nee. Daar is ook ander, soortgelyke ontwerpe wêreldwyd wat boksagtig voorkom – en dan verklaar word as “mooi”.

Tans word stede soos Londen ontsier met ‘n moderne staal- en glasontwerpe onder dieselfde vaandel. Met die eerste kykslag lyk Londen mooi, maar nie as jy dit vergelyk met Edinburgh (Skotland) of Dresden (Duitsland) nie. Ek is seker dat enige persoon wat dié stede besoek, sal saamstem dat die klassieke ontwerpe van Edinburgh en Dresden meer “siel” het.

Edinburgh, Skotland

Volgens die denke van Scruton was die vooruitgang in die argitektuur, vir die onthalwe van modernisme, nie vooruitgang nie. Dieselfde geld vir moderne kuns wat eintlik ‘n verlies is van kreatiwiteit.

Hy het ook oor ander onderwerpe geskryf, naamlik die politiek. Dit is waar sy denke Suid-Afrikaners kan help. Sy werk gee alternatiewe woorde en gedagtes teenoor die oorheersende retoriek van die dag. In ‘n tyd waar die ideologie van sosialisme en linkse retoriek die sogenaamde hoë morele grond het, kan sy werk ‘n vars oggendbriesie wees.

Alhoewel Scruton onlangs ná ‘n kort siekbed oorlede is, sal sy behoudende gedagtes voortleef. Gedagtes wat die bewaring en opbou van die goeie voorhou. Doen gerus die moeite om van sy boeke te lees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Lees dan gou want die nuwe woke neig na alles-dieselfde-ge-duco met natural-angst-verf… verskoon tog die natuurlike geurtjie. Mens sou wou glo dat kennis individualiteit aanwakker. Maar nee, almal moet dieselfde lyk, hè en doen. G’n wonder nie dat selfvernietiging nou hoog aangeprys word… selfs op doktersvoorskrif of deur ‘n vrome regter toegestaan word nie. En uiteindelik moet almal die grootse dier aanbid.

Charles ·

Verskriklik dankie vir die skrywe!
Sagaria 11:2 (Afr ’83)
“Huil, sipres, want ‘n seder het geval, die grootste bome is verwoes! Huil, groot bome in Basan, want die ondeurdringbare bos het geval!”

Ons sal jou NOOIT vergeet nie!

Ns: vir enigiemand wat belangstel – kyk gerus die wonderbaarlike mens se dokumentêre program ” Why beauty matters? ” op Youtube. Jy sal nooit weer dieselfde voel oor vandag se chronies sieklike, bejammerenswaardige “samelewing” nie!

Charles ·

Ek dink Mnr Scruton se denke is eerder besig om die teen-kultuur (in Engels “counter-culture”) te word en dus ietwat nader aan die hoofstroom.

Ja swaer ·

So wil elkeen koning kraai op sy eie mishopie en more kom die son in elke geval weer op … Ek moet egter saamstem dat baie van wat in moderne kuns gebeur (veral visuele kunste) die laaste 30 jaar, myns insiens eintlik ‘n eiesoortige kultuur waaragter ‘n totale gebrek aan kreatiwiteit en talent weggesteek word. Soos met alles in die lewe is daar baie kunstenaars vandag met baie talent maar die mandjie het ook maar baie vrot appels

Feite ·

SA sit met n regerende party wat n “all or nothing” ideologiese strategie volg. Dit wat die teen-rewolusioneres gebou en bewaar het en wat vir hulle mooi is (veiligheid, onderwys/taal, godsdiens, kultuur, plase, bewaringsareas, besighede/maatskappye, pensioenfondse), word deur die rewolusionere regerende party as onregmatige bevoordeling en dus teen-rewolusioner geag en moet ten alle koste verswelg/afgebreek en vernietig word, indien dit nie gevat kan word nie. Ideologies bestaan daar dus by die regerende party nie iets, soos om te deel met teen-rewolusioneres nie. Die einddoel is totale mag en beheer “all or nothing”, al beteken dit dan juis spesifiek om iets wat mooi is vir die teen-rewolusioneres, eerder te vernietig. Solank as wat die teen-rewolusioneres iets het wat mooi is en wat hulle bevoordeel, vir solank sal hulle en hulle “mooi” deur die SA regerende party geteiken word!

Helgard Muller ·

Scruton se konserwatiewe verwysingsraamwerk bevat heelwat wat relevant is vir Suid Afrikaanse politiek. Vat byvoorbeeld die idee van “mooi” verder tot op die politieke terrein. Scruton het baie keer geargumenteer dat ‘n konserwatiewe politiese uitkyk behels om te bewaar dit wat mooi is. Dat dit behels ‘n liefde vir jou gemeenskap en die tradisies, ervarings en praktyke wat dit betekenis gee (wat is “mooi”). Dat ‘n gesonde organiese samelewing van onder na bo gebou word. Dat ons eers moet lief he die vatbare (familie, bure, jou gemeenskap) voor ons kan lief he die abstrakte (politieke ideologie). Kyk maar na Suid Afrika en vra of daar enige gemeenskaplike liefde is vir gemeenskappe en wat ons beskou as mooi om te bewaar?

Dit is wat liberalisme natuurlik ook heeltemal mis in Suid Afrika – dat ons nie individuele waardes gaan bevorder of so ‘n Grondwet gaan beskerm tot ons as Suid Afrikaners genoeg in gemeen vind om te bewaar, deel en betekenis in te vind nie vanaf eerstens ons eie gemeenskappe (Burke’s se klein peletons) tot ‘n groter gemeenskap van Suid Afrikaners. Weereens Burke – om jou land lief te he, moet jou land eers mooi wees – weereens wat meer saak maak as abstrakte intellektuele idees is gedeelde ervaring en gevoel dat jy behoort / tuis is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.