Om ʼn kind te verloor

babahandjies

Foto: SeppH/Pixabay.com

Deur Marisa Engelbrecht

Om ʼn kind te verloor …. dis van die moeilikste goed wat ʼn mens kan oorkom. Ek hoor die hoeveelste persoon, ook sielkundiges en beraders, so sê. Ja, ek weet. Ek weet presies, want dit het met my gebeur.

Ná my seuntjie se onverwagse dood, besef mens dat dit nie net met ander mense gebeur nie. Dit gebeur met jou ook. Ek loop in die winkel en wonder hoeveel ander mammas loop ook met maskers omdat hulle ook ʼn klein mensie gehad het wat nie grootgeword het nie.

Kort ná sy dood het ek vir iemand gesê: “Hierdie is nou ons pad. Niemand kan dit vir ons stap nie. Hy lê hier voor ons. Ons sien hom. Hy’s ʼn werklikheid. Ons weet ons MOET hom stap, maar ons WIL hom nie stap nie.”

Die aarseling om hierdie pad te stap is nie een van wanhoop of vrees nie. Dis een van leeg. ʼn Groot leeg. ʼn Donker leeg. ʼn Diepe leeg. ʼn Warboel leeg en ʼn stil leeg. ʼn Leeg wat nie ʼn einde op hierdie aarde ken nie. Die mens wat later, eers heelwat later, maar ek is nie seker wanneer later nie, die eerste tree op hierdie pad gee, is nie ʼn mens wat ek ken nie. Sy tree stadig en swaar. Sy is nie, dis net haar dop.

Die dop strompel en stoei voort op hierdie donker, lang, stil, leë pad, oor ʼn tydperk van maande. Maande van nie bid nie, want daar’s te veel woede. Maande van nie sing nie in die kerk, want daar’s te veel hartseer. Maande van nie Bybel lees nie, want daar’s te veel verlange. Maande van net … wees. Die dop het eens op ʼn tyd ʼn warm hart gehad wat gevul was met liefde en wat opgevul was met kinderlaggies en vet voetjies en kort-arm-stywe-drukkies, met soentjies en ʼn stemmetjie wat liedjies sing en karre se name vra. Nou is dit net ʼn dop.

Maar iewers op hierdie donker, lang, stil, leë pad blink daar iets. Ietsie kleins. Daar ver voor. Later, wanneer die treë ligter raak en die strompel minder, is daar meer lig. Nader lig. Nee, dit is nie ʼn pad wat iemand anders vir haar kan stap nie, maar dis ʼn pad waarop ʼn oorvloed liefde soos ʼn helder verligte pad vir haar wink en hoop bied.

Hulle is vir haar gestuur. Haar man, haar ander kinders, haar vriende en familie verlig die roete. Hulle is net daar. Hulle wys haar waar haar hart sit. Hulle bid oor die woede, hulle sing oor die hartseer, hulle lees oor die verlange. Hulle help haar … oorleef.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Helena

Nie woorde nie………

Sanet van Heerden

Ek sal bitter graag met Marisa Engelbrecht wil kontak maak. Ons loop ook so seer pad.

Liezl

I’ve carried a child within my body, I knew that I’m going to be a mommy! I had dreams for our little one, I knew that he will be loved by a mommy and daddy! He didn’t see the world, instead he turned to be with our loving Father in Heaven. He didn’t choose this life, he chose a life that is beyond our understanding and human knowledge, one day we will also see what he is seeing now. He is at the best place that anyone can ever be. at the feet of our Lord Jesus. He is my… Lees meer »

Chantelle Connoway

… ek het n man en n pa verloor en groot ouers … maar n kind … laat n mens stom staan en dink … n verlies is nooit te wagte nie veral nie op daardie oomblik nie NOOIT NIE
Sterkte aan die mamma en haar gesin en familie … woorde is daar nie … Net Vader weet nou en eendag sal ons weet

Sons

Ek weet presies wat jy voel en hoe leeg mens voel, geen ander kind kan daai 1 se plek vol maak ni.. mens bly mis en mens bly wonder oor hoe hy sou lyk en wees en en en.. daar is nie andwoorde ni en mens stoot gewoonlik die weg wat die meeste omgee! Ek was geseen genoeg om my seuntjie vir 2maande te ken, versorg en lief te he.. maar ek moes ook totsiens se baie vroeg, te vroeg. Vandag is my ander kinders my hele bestaan. Ek sal elke dag wonder en verlang maar weet hy is op… Lees meer »