Om ʼn motorwag te beloon vir sy/haar dienste

motorsleutels

Argieffoto.

Deur Lana Hitge

Hulle is oral te sien by winkelsentrums – die mense wat jou met ʼn wilde fluit keer wanneer jy per ongeluk voor ʼn aankomende motor by ʼn parkeerplek begin uitry (en jou waarskynlik ʼn hele paar rand se duikklopkoste in die proses spaar).

Dit het al ’n paar keer gebeur dat ek verdwaal in ’n parkeerarea rondsoek na my motor, net om die motorwag met groot handgebare agter my te sien aanhardloop om my te wys waar ek geparkeer het. En hoeveel keer het ek nie al met groot verligting gesien hoe die oranje baadjie agter my verskyn wanneer ek met my klein sedanmotortjie tussen twee SUV-bielies uit ʼn parkeerplek probeer wurm nie. Om nie eens te praat van die kere wat ek haastig (en baie dankbaar) my winkelwaentjie aan hulle kan oorgee om terug te neem na waar dit hoort nie.

En tog moes ek al soveel male skaam vir hierdie persoon wat in son, wind en weer in die parkeerplekke diens doen, om verskoning vra omdat ek in die era van bankkaarte en kaartmasjene net eenvoudig nie kontant by my het om te betaal vir sy/haar dienste nie. Ek is absoluut oortuig daarvan dat motorwagte se inkomste per dag ʼn aansienlike knou kry as gevolg van die byna kontantlose samelewing waarin ons leef. As ʼn mens mooi nadink oor wat hierdie mense werklik alles doen, kan ʼn mens nie anders nie as om te moet erken dat ʼn motorwag wat sy/haar werk ernstig neem, ʼn uiters waardevolle bydrae lewer om ons winkelbesoeke (en dan spesifiek parkering) heelwat makliker te maak nie.

Ek het al baie gewonder of groot kettingwinkels dit nie wil oorweeg om ʼn soort koepon ter waarde van sowat R5 by die kassiere beskikbaar te stel wat ek dan sommer saam met my inkopies kan betaal en later by die motor aan die motorwag kan gee nie? Ek besef dit kan vir die winkels ’n administratiewe nagmerrie word as hulle die koepons weer later moet ruil vir kontant, maar dit kan dalk ’n opsie wees dat die winkels wel toelaat dat die motorwagte met hierdie koepons betaal vir hulle eie inkopies by hierdie winkels.

Dit sal vir my wonderlik wees as winkels Jan Publiek op hierdie manier kan help om hierdie mense wat regtig hard werk om siel en liggaam aan mekaar te hou, meer gereeld te beloon vir hulle dienste. Aan die einde van die dag is die arbeider tog geregtig op sy loon.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Elmien ·

Mr Price het trollies met geldslotte – jy moet ‘n vyf-Rand insit om die trollie te kan kry. Ek gee dan sommer die trollie vir die karwag en hy/sy kan dan die vyf Rand kry wat ek sou kry wanneer ek die trollie teruggee. Dit werk goed by ons mall want die trollies is op die sypaadjie. Die vouchers is ook ‘n goeie voorstel…

Essie ·

Van die karwagte verdien soms ekstra geldjie – ek is al twee keer in reënerige weer met ‘n sambreel ingewag terwyl karwag saam met my loop.

Willie ·

Dis vir my meer van n irritasie as enige iets anders. Stop nou by 4 tot 5 plekke op n Saterdag = R25. By die Checkers naby ons, is daar hordes van die karwagte. Nogsteeds steel hulle baie motors daar. Ek weet want ek is deel van die GPF. Van hulle is arrogant, dink mens kannie bestuur nie, en eis n geldjie. Nee wat ek dink eerder dis die Sentrum se plig om jou as klieent se motor veilig te moet hou… Jy en Ek spandeer geld daar.. Betaal die wagte belasting soos ons???

Chris ·

Nee Willie hulle betaal nie belasting soos ons nie want, hulle staan heeldag in die son, wind en weer en verdien dan tussen R75 en R120 per dag. Dus as hulle baie gelukkig is en van maandag tot maandag (30 dae n week( werk verdien hulle sowag R3600 per maand. Daarvan moet hulle nog aan hulle koordineerder ook ongeveer R25 per dag betaal dus R750 per maand af van die R3600. Gaan stop by 4 of 5 plekke in n parkeer garage en dan gaan jy sien jy gaan verseker nie met minder as die R25 per per saterdag wegkom nie. Hulle steel steeds karre jy is reg maar die inbraak by karre is waaragtig baie minder, seker maklik 90% minder as wat dit was. Tenspyte daarvan dat die meeste mense hulle nie wil betaal nie. Dus voel ek die wat nie wil betaal nie ry op die wat wel betaal se rug want hulle vind ook baat by die wat wat tog maar daar staan.

Flow ·

Nou toe nou. Daardie verdomde karwagte is net n pyn. Ek het suid afrika 8 jaar terug verlaat en het nog nooit hier in Aus of Nz n ongeluk gemaak nie…dit ten spyte vam die feit dat daar geen karwagte is nie. As daar een ding is waarvoor ek dankbaar is in my nuwe land is dit dat daar nie mense is wat jou afpers en maak of hulle n diens lewer nie. Weet jy hoeveel geld maak hulle van mense soos jy wat goedsmoeds maar net betaal. Skrik wakker. Jy is net n mealticket vir daai blikskottels. Hulle doen dit net met soveel entoesiasme want hulle is te sleg on n regte werk te doen.

kIEPIE ·

Ek is jammer vir jou! As jy in die lewe die sleg soek sal jy dit kry … of jy nou in jou nuwe land is of nie! Los ons okies wat gebly het om hier te bou jou negatiewe insetseltjies is nie welkom nie!

SkarrelKind ·

tinah en kIEPIE – tipiese Afrikaner aanmerkings. Skaam julle. Wie is julle om iemand te kritiseer wat vir hom/sy gesin ‘n beter lewe in ‘n ander land gaan uitkerf? Om alles te los, alles wat mens ken en op te pak? Ek dink Flow is dapper en julle aanmerkings tipies van Afrikaners wat verdeeldheid bevorder. Kry maar vir julle in hierdie land waar julle as Afrikaners geen sê en geen toekoms het nie.

Griki ·

Ek dra altyd kontant met my saam om vir karwagte te betaal. En Flow, jou kommentaar is verstommend eendimensioneel, arrogant en harteloos. Het jy al ooit in wind en weer gestaan en karre oppas net om ‘n ietsie te verdien om jou maag vol te kry (dalk nog iemand anders ook versorg) en ‘n dak oor jou kop te hê? Hulle werk ten minste vir hulle geld en lê nie ledig rond of bedel vir aalmoese of steel nie. Ja, jy sal miskien van hulle kry wat nie eerlik is nie, maar jy kan nie alle mense oor dieselfde kam skeer nie.

Alf Piercey ·

Flow
Jy moet seker lekker lag oor die spul patete wat jy agter gelaat het. Almal val jou aan en neem geen kennis van wat jy se nie. Maar jy is 100% reg, en wys jou net hulle speel die persoon en nie die bal nie. Pateties en belaglik. Skep vir julle n mooi toekoms daar in Nz !

Chris ·

As ‘n motorwag sy geld werd is sal ek hom betaal, maar ek het nog nie een raakgeloop wat sy geld werd is. As jou motor gekrap word dan trek hy net sy skouers op sou jy hom daaroor uitvra. As jou motor gesteel is wil hy ook nie verantwoordelikheid aanvaar. Wat verwag ek van ‘n motorwag? Eerstens, dat hy met my moet kom onderhandel. Tweedens moet hy ‘n notaboek en pen byderhand hê asook ‘n selfoon. (almal het deesdae selfone). Wanneer jy uitkom en jou motor is gestamp moet hy vir jou die beskrywing van die voertuig en registrasienommer kan gee en indien jou motor gesteel word moet hy vir jou ‘n video kan gee van die booswigte. Dan begin praat ons besigheid en verdien hy geld. Nie soos hul nou met hul wynasems jou probeer indoktroneer en vloek as jy nie geld wil gee. Jammer, maar ek gee niks, want wanneer ek kom stilhou sien jy hom nie, maar wanneer jy wil ry is hy voor in die koor om sy geld (wat hy nie verdien het) te kom kollekteer. Jammer vir hom wat heeldag in die son staan, maar ek het hom nie gedwing om dit te doen. Hy staan uit eie keuse daar.

Elaine ·

Ek stem 100% saam met die koepon stelsel! Dis ‘n fantasiese idee en ek dink die voorstel moet aan die winkels en winkelsentrums voorgelê word. Ek staan self dikwels met ‘n rooi gesig omdat ek nie kontant op my het nie.

neelsie ·

Miskien moet sommige mense hulle luiheid los en winkel toe stap , dan sal ander hulle nie so pla nie.
As R5 jou so pla spaar dan sommer brandstof ook!!

Heleen ·

Dit kan my so irriteer dat mense wat Suid Afrika verlaat het, nog kommentaar wil lewer oor wat hier gebeur. “Regte werk” is skaars. Hierdie mense doen in my oê goeie werk. Dit net hoeveel karre sou gesteel gewees het sonder hulle. Niks dwing jou om vir hulle iets te gee nie.

Anoniem ·

Heleen sorry om te se..maar my dogter se kar is gesteel reg voor n karwag en hul het net mooi niks gedoen!!!!!!!!!!!!!!!!!!

JJ ·

Ek voel soos bietjie van n draadsitter in die situasie…Ek verstaan dat baie mense “karwagte” net n werk probeer doen om n lewe te maak, maar daar is ook dié wat bitter irriterend is, in die pad staan, só dat hy/sy net nog meer in die pad kom as enigiets. Dan hou dit ook verband met gesteelde voertuie… Die R100 wat hy/sy by die persoon kry wie jou kar kom steel beteken meer as die R2 wat jy vir hom/haar gee om jou voertuig op te pas.

Heleen ·

Ek wens dat mense wat nie meer in Suid Afrika wou woon nie, nie nog ‘n (negatiewe) eier oor alles wil lê nie. “Regte werk” is baie skaars. Hierdie mense doen meestal goeie werk. Ek wonder hoeveel meer karre sou gesteel word sonder hulle.

T ·

Gaan doen jul die werk vir R5.00 . Ten minste doen hulle iets om geld te maak. Steel en moor nie. Hulle staan in son, reen en hael om geld te verdien vir hulle gesin. Die wat so snedige aanmerking oor karwagte het ai ai. Ek het nog net positiewe behandeling gekry.

JB ·

Ek het geen probleem met kar wagte wat werk nie, ek gee graag n bonussie en koop tot n broodjie of iets vir hulle. Die irritasie kom in wanneer jy n parkering soek, een op jou eie kry, geen kar wag in sig is, en wanneer jy terug kom is daar sommer drie en almal hang rond vir n fooitjie. Hy was nie daar op jou aankoms maar wanneer hulle jou uit dis sentrum sien kom, kyk hulle watter rigting jy loop en hardloop skielik daarheen. Verander jy rigting, verander hulle ook. R2 is ook eff minderwaardig vir hulle deesdae. Vroeer sou em my beursie leeggemask het van 50,20,10 en 5c’e, wat n aansienlike bedrag kon loop, maar deesdae word niks waardeer.

SkarrelKind ·

JB, ek stem volkome saam met jou. ‘n Mens word van vêr af bestorm uit die bloute uit en toe ‘n mens gestop het, was daar geen een in sig nie. Daarvoor staan ek beslis nie.

Aan die ander kant was die karwag betrokke toe my suster se bakkie in Jeffrey’s gesteel is. Hierdie karwagsaak het twee kante …

Vlooi ·

Ek dink die koepon idee is ‘n wonderlike idee! ek voel ook soms skaam as ek nie eens R1 het om te gee nie, daarom as ek winkels toe gaan, koop ek vir hulle of iets om te eet, of te drink. ‘n Pastei by WW kos al byna R20 en ‘n koeldrank R10:00. Ja, hierdie mense is vir my ‘n aanwins, help ook om my pakkies in my kattebak te laai en is gewoonlik vriendelik en behulpsaam. En as ek ‘verskoning’ vra omdat ek nie geld by my het nie, se hulle gewoonlik: ‘no problem ma’am, next time”! dis hulle werk ja, en verdien bitter min geld. Daardie R5 wat ons gee, maak werklik ‘n verskil.

HdK ·

Hier by ons mall is dierbare karwagte. Omgee mense wat jou ook in die reën inwag met ‘n groot sambreel om jou droog by jou motor te kry.
MAAR die mall bestuur verwag dat elke karwag R30 betaal vir sy skofbeurt, of hy nou ‘n uur werk en of hy heeldag moet werk. Die karwag moet die mall betaal vir die voorreg om daar te kan werk. Blykbaar gebruik die mall dan weer daardie geld om die persone wat die trollies bymekaar maak en baie arrogant is, asook om die skoonmakers te betaal.
Hoe verregaande kan dit wees? Het hulle dan geen empatie nie? Die karwagte doen juis daardie ondankbare werk om heeldag in die son te staan, sodat hulle nie hoef te bedel nie en ‘n diens lewer vir ‘n geldjie.

Irritasies ·

Ek bly in Suid-Afrika en vind die kar wagte ‘n ergerlike irritasie en dit is gewoonlik die mense wat so vinnig is om hulle te betaal wat wegkyk by die ingang wanneer daar vir die gestremdes en hulpbehoewendes geld ingesamel het.Ek betaal my versekering en kan bestuur nodig glad nie die irritasies nie

frikkedel ·

Irritasies … verkies jy hulle almal moet by jou robot staan en bedel … jy is een van daai wat nie regtig wil help nie maar sal altyd kerm! Ek gee nie geld vir gestremdes nie – ek gaan spandeer liewers n dag saam met hulle want baie van daai geld bereik nooit jou gestremdes nie maar koop n nuwe bmw vir die ou wat se hy gaan help! So ja … ek gee liewers iemand n geldjie want hy probeer as om aldag die irritasies van die lewe te sien!

ek ·

Rond staan in enige seisoen is ongelukkig nie werk nie en ook niks beter as bedel nie. Ek glo vas n mens werk vir wat jy wil he en daar is werk daar buite, maar mense is net te kies keurig. Dit is ook makliker om te bedel of ” karre op te pas” as wat jy iemand se kar sal was of tuin skoon maak. Want dit is mos iemand anders se werk. Die R2 sal my nie arm maak nie, maar jy help lui mense net meer lui wees. Niemand pas jou kar op as jy in die winkel in gaan nie. Jou kar sal nogsteeds gesteel word, jy sal nogsteed geroof word al is die kar wag daar.

Christel ·

Ek plaas myself in hul skoene en ons karwagte ken ons al so goed. Indien ons nie daardie dag ‘n kleingeldjie het nie, weet hulle ons maak die volgende dag weer reg. Hulle laat my veilig voel en ons gesels dikwels met hulle. Hulle gee dieselfde diens vir jou al is dit vir R2 of R5 of R10. Indien jy in ‘n betaal parkeer area parkeer is die fooi dikwels meer. Ek het al self hier by Kersfees vir die wat ons altyd help ‘n kerspakkie gegee, dit het my nie veel gekos nie, maar die glimlagte was ‘n bonus. Ten minste bedel hulle nie by robotte en straathoeke nie. Hulle lewer ‘n diens aan almal of jy hulle nou ‘n fooitjie gee of nie. Soos ons ouer raak onthou ons ook nie altyd waar ons parkeer nie en hulle ken al die motors en wys jou waar jy staan, nou nie dat ek oud is nie, maar ons gesels partykeer so dat ons nie regtig oplet waar ons parkeer nie!

Prit ·

Ek het n bestuurslisensie en bestuur langer as wat meeste wagte kan loop. Ek vra hulle nie om my te help nie maar hulledring daarop aan om my te verpes. Ja ek het die 300 oop perkerings gesien dankie, ek is nie blind nie. Voetsek agter my kar uit, jy is in my pad. Nee jy kannie na my kar kyk nie, hy doen nie toerkies nie. Met al die siele wat rond hang is dit maklik om n kar te steel want niemand let op nie. R5 per kar, 25 karre n dag, 30 dae n maand =R3750 n maand. Shu dis lekker geld vir niks doen nie.

Jan ·

Daar is nie karwagte nie , net trollies stoters. My Ma se kar voor sy oe gesteel , maar hy het niks gesien nie. Hulle kry niks by my nie.

janneman ·

Jan, ek wou nou net dieselfde opsit as jy….tante wat langs my gestop het se Honda so gesteel, karwag wat al paar jaar daar werk, almal was hom goedgesind, hy het soms groot fooie gekry, en hy het niks gesien nie, al mag hy net n ry van 12 karre opgepas het. Nie een van sy medewerkers het ook enige iets snaaks gesien nie, maar die voertuig se bestuurderskant se venster is uitgeslaan om dit te steel…..sonder om rassities te wees, waar die blanke outjies werk, weet ek nie van voertuie wat gesteel was nie….so dis waar ek deesdae parkeer, en hulle gee ek met graagte n fooi, al gaan hy dit op alkohol uitmors……ek het n karwag broer, en dis hoe hy sy bedelaarsbestaan maak, want dis sy keuse.

SarieArie ·

Een ding – dis hulle werk wat hulle gekies het om te doen. Dit is hulle werk wat hulle nie voor gekwalifiseer moet wees nie. Hulle het besluit om ‘n diens te lewer. Die werk wat hulle doen is net anders. Vergelyk dit met ‘n dokter bv. Hoeveel pasiënte sien ‘n dokter ‘n dag? Ongeveer 15 pasiënte teen R350 (min) vir ±20 dae = R105 000 – definitiewe inkomste. Vir die karwag, soos vorige somme R3 750. Groot verskil. Die diens van die karwag het baie meer risikos – want of jy nou ‘n vriendelike of ‘n norse karwag is – jy kry nie altyd betaling nie. Sommiges moet betaal om karre te kan oppas. So ek betaal maar die bietjie, want dit is sy “werk”. Dit is sy bron van inkomste waarmee hy vanaand vir hom ‘n broodjie kan koop en nie ‘n pizza of hamburger by die naaste wegneem ete plek nie. Spandeer bietjie tyd en praat met hulle – en vind meer uit, voor jy veroordeel.

Judy Geldenhuys ·

Ag nee regtig. Watse do redenasie is dit nie. Dit is my keuse om na ‘n dokter te gaan. Dit is verseker nie my keuse om ‘n karwag te betaal nie. Daar is niks fout met my hande nie. Ek kan my eie waentjie stoot, ek kan my eie pakkies in die kar laai en ek betaal parkering. Hoekom moet ek hul ook betaal?

Mariette Hammann ·

Net ‘n ander sy van die saak. Ek het al werk aangebied vir ‘n vrou wat as karwag werk, maar sy het gesê: “Nee dankie, ek het mos ‘n werk.” Vir interessantheid het ek haar gevra hoeveel sy per maand maak en sy het gesê so R200 per dag. Dit bring dan die bedrag op omtrent R6000 per maand!!! Ek kan dus verstaan dat sy nie ander werk wil doen nie. Ongelukkig het die meeste van ons baie ander verpligtinge EN BETAAL BELASTING. Ek voel dus geensins meer verplig om die karwagte, wat ek NIE aangestel het NIE, te betaal nie.

Rina ·

Weet julle dat daardie karwag vir n maatskappy werk wat deur die sentrum gekontrakteer is vir die parkeringveiligheid? Die karwag verdien net n klein salaris en moet al die geld wat ge-in word aan die maatskappy oorhandig.

Willie ·

Alles bly n keuse in die lewe. Dis hulle keuse om dit te doen, en dis my keuse om geirriteer te word of nie. As hulle jou groet, en jy groet terug, is daar n verwagting. Nee ek hou nie van hulle… ek betaal versekering, car track, en belasting. Ek koop by die sentrum. Die sentrum moet eindelik die klieente se karre veilig hou.. Ek sal nooit op iemand neer kyk nie… maar hulle is vir my irritatasie….

Sarie ·

Hulle is nie die enigste mense wat nie belasting betaal nie – taxi bestuurders betaal ook nie. Mense wat bak vir tuisnywerhede betaal ook seker nie. Mense wat dienste lewer op ‘n vryskut basis betaal ook nie. Maar die mense lewer nie ‘n diens om “ryk” te word nie – hulle lewer ‘n diens om te oorleef. Ek betaal hulle eerder tien keer want hulle “werk” en staan nie by ‘n robot en bedel met ‘n plakkaat – “werkloos, geskei, 3 kinders om te voer” , en wat nog als, cherrie op die koek – “God seën jou”. is hulle opreg met daardie uitspreek van God see genade? Die karwag werk en verdien sy geld net soos ek my werk doen.

Willie ·

Tye is moeilik vir almal, so as mens by 5 plekke stop, word daar verwag jy moet by al die plekke kar wagte betaal… So is nou deel van n mens se begroting? Nee wat hou verby, los my kar uit…

Eileen ·

Oor die algemeen gee ek gladnie geldnie, veral by ‘n parkade waar ek reeds geld moet betaal om te parkeer. Wat my geweldig afsit is wanneer daar op betaling aangedring word. Ek was eenkeer vantevore by die Spar in Mootstraat, Daspoort. Toe ek oorkant die straat gestop het, was daar geen teken van ‘n wag gewees nie. Toe ek na my motor terugkeur het daar ‘n man van nêrens gekom en my vertel hy het na my motor gekyk, en ek moet hom betaal! Dan is daar ook die uitsondering waar ek ook na my motor gesoek het, en die wag na my toe gekom het, en my gewys het waar my motor staan, dit was ‘n bewys dat hy opletend is.

willie ·

Eileen, ook daar met my gebeur. Ek het gese nee, en toe vervies die wag hom vir my. Daar by Lewis se kant gestop…

Eileen ·

Presies waar ek ook gestop het – en hy was arrogant, daarop aangedring dat ek hom die geld skuld!

piet ·

Siek en sat vir hulle. As hy net daar staan en kar oppas sal ek hom ietsie gee maar eerstens moet hy jou groet en as jy hom terug groet is daar n kontrak tussen julle wat jy nie wil he nie. As jy nie kan bestuur nie (soos die skrywer van die berig ) stel vir jou n drywer aan. Ek kan bestuur en wil en sal nie op hulle “kom maar” “kom maar” gebare reageer nie. Meeste mense betaal hulle omdat hulle bang is hulle krap jou voertuig as jy hulle nie betaal nie … dis mafia gedrag. Hierdie is nie n werk nie dit is bedel .

m ·

Ek het geen probleem met karwagte nie. Ek dink nie iemand word ‘n karwag omdat hy dit wil word nie, maar omstandighede dwing hulle om dit te doen om darem ook iets te kan verdien. Werk is bitter skaars in hierdie land. Hierdie arme mense trotseer reen, koue , hitte en kan nie lekker wees nie. Ek sorg altyd dat ek ‘n fooitjie gee van niks minder as R10-00 nie.

Blom ·

Ek wonder altyd WAT hulle gaan doen as iemand my kar probeer steel. ….hom ook uit die parkering “guide”???
N paar weke gelede het n karwag vir my gewys dis veilig om uit n parkering te beweeg…..net dat n indier die volgende oomblik in my vas ry!
Deesdae het al die malls parkering waar jy moet BETAAL om te parkeer, maar steeds is dar n karwag ook! Ek is baie jammer maar in daai geval gee ek nie geld nie.
By pick n pay of checkers waar daar slegs wagte is sal ek nog n geldjie gee (as ek kleingeld het ).
Ek verstaan hierdie mense moet ook leef en kos op die tafel sit, maar as ek by elke plek waar ek stop R5 moet uitdeel, gaan EK een van die dae deeltyds n karwag word net om ook my rekeninge te betaal.

anoniem ·

My seun se splinternuwe motor van 2 weke oud het iemand gestamp en die karwag vertel hom hoe het die ander person sy motorgestamp. Nodeloos om te vra. Hy het nie eers die registrasie nommer neer geskryf nie.
Baie skade gewees.

Theresa ·

Tweeledig. Meeste selfaangestelde persone wat glad nie kan bestuur nie en geen benul het van hoe verkeer moet vloei nie. Het al baie ongelukke veroorsaak. Dan het 4 van die kamstige wagte by ‘n sentrum gesien hoe 2 mans meer as eenmaal verby my kind se motor loop. Toe ons daar kom, was die slotstelsel gebreek. ‘n Stuk staal in die aansluiter afgebreek. Uit die 4 kon net 1 in gebroke Engels sê dat hul die mans sien verby loop het. Telkom se bakkie het ook onlangs daar deurgeloop.
Op heel ‘n ander plek in die stad, is daar dié wat hoflik my bejaarde ouers help om mooi te sien met die uittrek by ‘n parkering . Hul dring nooit aan op vergoeding nie, maar kry hul fooi vir verstandige hulp. Anders as die wat nie oplet na jou kar nie, maar hardloop, fluit en arms swaai as jy gaan ry – vir die geld.
Net terloops. Ek het eendag ‘n persoon gevra wat hy die Desember gaan doen. (in my gedagtes – foeitog – seker maar skamele ete en niks verder nie) . Sy antwoord: Ek gaan bietjie see toe. Kaap toe. Lanklaas vakansie gehou. Op my vraag of hy al sy fondse agtermekaar het, het hy gesê hy verdien darem so tussen R3 6000 en R6 000 per maand – so hy kon spaar. Ek het verstom na my motor gestap en gedink ek het my heeltemal misgis met die karwagte se inkomste…

Henry ·

Ek moet bieg. Karwagte is vir my ook ‘n reuse irritasie. Ek het simpatie met hulle omstandighede en waardeer dat hulle iets probeer doen maar ek is een van daardie bestuurders wat self wil kyk as ek parkeer of uittrek uit ‘n parkeerarea en die motorwag is een ekstra persoon wat nou voor moet kyk saam met ander voertuie.

Willie E ·

My vrou doen elke vrydag middag haar week se inkopies by ‘n supermark hier by ons. ek was al ‘n paar keer saam met haar. As Simon(karwag) die rooi mercedes doer ver sien aankom waai hy al en wys waar sy moet stop. Wanneer sy uitkomen hy sien haar stap hy nader en neem die trollie oor. Hy is by haar as sy oopsluit en hy laai die pakkies in die kattebak. Dan vat hy die trollie weg,maar voor hy die trollie wegstoot staan hy en kyk tot sy in voertuig is en deure gesluit en aangeskakel het. Meeste van die tyd is ek nie saam met haar nie,maar hierdie ritueel speel homself ELKE vrydag middag af. Ek weet my vrou gee hom nooit minder as R20.00 nie ,meeste van die tyd R30 to R50.00. Ek voel baie meer gerus om te weet Simon is daar waar my vrou parkeer en ook as sy terugkom. Ek dink selfs hy verdien eerder R100.00. Ek glo ook as iets met haar sou gebeur daar dat Simon sy bes sal doen om haar te beskerm. Glo my vry, ONS LEWE SAL BAIE ARMER WEES SONDER SIMON DIE PUIK KARWAG.
Groete
Willie
Vanderbijlpark

Gesiggie ·

Karwagte is 99% vir my ook ‘n irritasie veral as mens by meer as een plek op ‘n saterdag moet stop.. Ek is n n enkel dame… Wat ook maar hard werk vir my geld. Hul raak arrogant en weet nie eers watter kar joune is nie. Maar dan het ek ook ‘n maaaaar aan my storie.. die karwagte by Pick a pay Strubenvale Springs is tops… sodra ek uit die winkel stap kom haal hul my sakkies/trollie en loop dadelik na my kar toe, hul weet watter kar myne is en ek los my kar met ‘n geruste hart in hulle hande…. Dankie vir julle.. Julle is werklik tops…

ig ·

Willie as jy skrik,skrik net wakker .As hy nie die eerste een is wat gaan weghardloop in n krisis nie sal hy die krisis veroorsaak.

Willie E ·

Ja ja,ek bejeen jou kommentaar met die minagting wat dit verdien.

Renèe ·

Bona fide karwagte, netjies en sober, wat boonop my trollie terugneem : Ja, definitief. ‘n Karwag het paar maande gelede benoud aan my ruit geklop en ek het my amper gewip… Net om baie skaam te staan en kyk hoe hy en ‘n kollega my papwiel flink omruil. Maar die dronk ellendeling met die geskeurde bib wat agter my voertuig se sensors staan en “kom maar- kom maar” terwyl die sensors skree en ek die self die aankomende die voertuig sien… Vir hom ry ek plat!

Leon ·

Ek stem saam Renee. As hulle werklik help, gee ek nie om nie. Hier in Johannesburg is nie een te sien as dit reen nie. En niemand bied hulp aan nie – hulle wag op ‘n afstand vir jou om te ry en maak dan ‘n paar wilde handgebare. Nee wat. Ek toets hulle deesdae – as ek een sien aankom (wat nooit te siene was toe ek parkeer het nie), vra ek bloot “watter kar is myne?” As hy reg is en help met die trollie, kry hy iets. Meestal lag hulle net verlee en weet nie watter kar joune is nie… so wat is die punt?

Grap ·

Vir al die barmhartige samaritane wat die iriterende karwagte borg wil ek net sê julle moet die arme karwagte na julle huise neem voed, blyplek en geld gee dan is die meerderheid mense wat die karwagte as irritasies se probleme weg en julle kan dan goed voel ‘n wen wen vir almal

Karwag se kind ·

Sies, ek skaam my vir die negatiewe kommentaar. Die persoon wat nou so oulik was om uit te werk dat n karwag R3750 per maand verdien, sal jy jou gesin kan versorg met daardie bedrag as net jy dit ontvang het? Nee! My mammie het vir baie lank karwag gedoen, sodat ek kon skool gaan, sodat ek ordentlik kon aantrek, sodat ek elke dag n kospakkie kan hê. Vandag is sy 54, en is ek al vir n paar jaar in die bevoorregte posissie om vir haar te sorg. As ek na haar vel kyk Wat so verniet het van die son en wind, kry ek bitter seer in my hart dat mense dink dat dit n maklike werk is. Wat weet julle van n karwag se lewe? Het jy al gestop en n geselsie aangeknoop? Elkeen doen Wat hy moet doen om in sy onmiddelike behoeftes te voorsien. Dankie mamma vir ma se onbaatsugtige omgee toe ek niemand en niks anders gehad het nie. En dankie vir die publiek Wat ook omgee en gee, al is dit R1. Jy help n brood of n vleis koop met jou “donasie”. Geseende aand vir elkeen!

Susan ·

Ek voel dat karwagte my moet help om my kruideniers uit die trollie in die bagasiebak te laai. Sommige is meer as gewillig en dan gee ek ‘n ordentlike fooitjie. Ek het al eenkeer vir ‘n karwag gevra om my asb te help terwyl hy toegekyk het hoe ek sukkel om alles in my motor te laai. (Ek is bejaard) Ek vra hom toe of hy my nie asb wil help nie. Sy antwoord was dat as hy almal moet help, gaan hy ‘n rugprobleem kry. Van daar af betaal ek net as iemand bereid is om my te help. Selfs al het ek net 2 pakkies. Vir die “kyk” van die kar, het ek versekering. Maar ek stem saam, dit is harde werk om heeldag op jou voete te staan in die wind en weer. As daar niemand is as ek uitklim uit my motor nie, betaal ek nie vir die wat kom bakhand staan nie.

Nelspruiter ·

Ek het ok n kar wag. Stop altyd waar hy my wys.
Hy is vriendelik met my en my kids.
Help altyd met die pakkies.
Het nie altyd ietsie vir hom nie. Dan se hy dont warrie madam. Volgende dag maak ek seker ek maak reg met hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.