Om te praat en om te bid

steenkool-braaivleisvuur-vuur-01

Foto: Markus Spiske/Pexels.com

Van Aardt Cloete skryf:

Ek noem jou sommer Piet omdat dit vir my voel ek ken jou al lank, maar ook omdat ek nie rêrig weet aan wie ek dié woorde wil rig nie. Maar ek dink Piet is die tipe ou wat op ʼn jagnaweek, nadat almal reeds gaan slaap het, nog steeds by die vuur saam met jou sal sit en na jou stories luister.

Dié week het my gedagtes op ver plekke gaan draai…

Piet, jy weet ek is ʼn ou wat nogal positief is, maar die afgelope week was anders. Maar laat ons begin by wat positief was. Eerstens het die week goed begin met ʼn oorwinning oor die Sharks. Jip, die Cheetahs speel weer final, Pappie, en dis lekker! Hulle het vir Franco ʼn goeie afskeidsgeskenk gegee.

Maar net toe ek lekker positief is oor die ruggas, slaan sy my. Sy slaan my tot in my diepste. Kyk, ek weet ek is ʼn ou wat maklik huil, maar man, hoe gebeur iets wat jou ruk tot die uiterste realiteit en waar jy snak na jou asem en besef dit kon jóú kind gewees het?

Ek het nie antwoorde nie, my maat. Hulle sê altyd dit kan met enige iemand gebeur, maar vir die eerste keer het ek rêrig, maar rêrig myself in daardie ouers se skoene geplaas en gewonder oor hoe dit moet voel om nie te weet waar jou kind is nie.

Elke dag lees ons van moord, geweld en verkragting, om maar net ʼn paar te noem. Ja, ek weet nou en dan is Siya ook daar tussenin, maar wie de dinges gee om oor wie die Wêreldbeker wen as jy nie weet waar jou kind is nie?

My maat, dié slag kry ek geen antwoorde nie. Net soos ek vandag nog steeds nie antwoorde het oor hoekom Allan Donald in die 1999 Wêreldbeker-krieket nie net gehardloop het nie.

Ek kyk in my 12 maande oue laitie se gesiggie en dis tóé dat ek rêrig ʼn knop in my keel kry. Piet, net daar besef ek: nou moet ons bid. Ons moenie net bid nie, ons moet hárd bid. Dit laat dink my aan die keer toe die Israeliete om daai stad geloop het en op die ramhorings geblaas het – ek dink die mure het toe inmekaargeval. Ek’s nie seker nie, ek ken nie my Bybel so goed nie.

My maat, en ek bid, dis al wat ek kan doen. Duisende vrae maal deur my kop, maar ek het nie antwoorde nie – baie soos my standerd 9 chemie-eksamen: nie ʼn antwoord in sig nie.

Ek keer myself om negatief te raak – ek is mos nie ʼn negatiewe ou nie. Maar ek het ʼn kind, en hoe veilig is hy? Ek weet nie. Moet ek my goed vat en loop soos baie pelle van my? Hulle is keelvol, het hulle gesê, en is vort. Nou barbeque hulle vir die vale… Nee, nie tuis nie, maar in parkies, want hul kinders is veilig.

Ja Piet, alle lande het maar hul dinge, jong. As ek my seëninge tel, besef ek dis baie. My grootste seëninge is my vrou en my laitie. Ek bly in ʼn lekker stad, die mooie Jakarandastad. Ek werk lekker en verdien oraait om in ʼn lekker huis te bly, en weet jy wat, ek braai elke naweek! Nee, ek laaik nie die local vleis nie, ek order van die plaas af. Daai tjops is iets spesiaals – ek wonder of die tjops en steak dieselfde proe daar oor die water? Maar al wat ek weet, hulle het nie brandewyn daar nie, of nie so baie oppie rakke daar soos hier by my nie. My familie is dan ook hier, my maat, hoe los ek hulle dan nou alleen? Ek kan nie. So wat maak ek dan nou? Ek weet en besef ek is hier vir die long run.

Ek was daai volgende dag vroeg wakker met Amy nog vars in my gedagtes. Ek trek aan en ry myn toe. Ek scroll op Facebook en daar is dit: hulle het haar gekry! Kan jy glo, Piet, ongedeerd! Nie eens ʼn skrapie nie. Ek wou net daar en dan op my knieë val en dankie sê, maar besef toe dis beter om liewers my oë op die pad te hou. En weer eens besef ek die krag van gebed. Ongelooflik. My dag het dadelik beter geword en so ook Amy se ouers s’n.

Ek is weer bly en sommer meer positief.

Vir eers hou ek op dink. Ek is happy. Vir ʼn rukkie. Die N4 na Rustenburg toe is lank en ek dink weer. Wat volgende? My maat, as gebed so mooi gewerk het, sal ek dit beslis meer doen. Maar ek is mos nie die enigste Christen in die land wat hier wil bly nie? Ek is mos nie die enigste ou wat vrede vir ons land wil hê nie? Ek is mos nie die enigste ou wat elke ander ou sy plekkie in die son gun nie?

En toe besef ek net weer, ek is in ʼn wenspan, my God is sterker as enige kaper, groter as enige politieke leier en groter as ek en jy.

Dit help nie om te staan en toekyk hoe die dinge gebeur nie. Ons kan almal iets doen. En al kon ek in Amy-Leigh se geval niks fisiek doen nie, het ek nog steeds die post gedeel om mense bewus te maak.

So, ja, Piet, daar is altyd iets om te doen, want as ons almal iets kleins doen om die wonderlike land van ons beter te maak, moet ons mos êrens ʼn verskil maak? Stap vir stap sal ons hierdeur kom. En wie weet waar die Curriebeker volgende jaar sal staan? Ek hoop en bid dat hy weer op Cheetah-park sal wees.

Cheers, Piet, tot volgende keer

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Susan ·

Bravo!! Lag met n traan. Mag jou geskriffie al die Piete en Sannies inspireer en bemoedig!

Trien ·

Uitstekend gestel, wens daar was meer mense wat so redeneer!!

Amelia Steenkamp ·

Dankie…..Ekt lekker gelees,saam gevoel Van Aardt Cloete

ChrisE ·

John, ek weet nie hoe jou verhouding met ons Hemelse Vader is nie, maar ek dink regtig jy mag maar ontspan. Ek dink Hy het juis ‘n sin vir humor, hy het ons geskape. Hy sien hoe ons wroeg en sukkel. Hy sien hoe ons aanjaag. Ek dink hy lag kopskuddend en dink, waarom vra hulle nie My hulp of ingryping nie. Ek dink Hy is deesdae meer hartseer ontnugterd en miskien kwaad oor wat ons aan Hom, en aan mekaar doen. Afguns, nydigheid, haat en woede wat ons op mekaar los laat. Dit staan in die Bybel, verbly jou in die Here. Leef eerder voluit in vreugde, liefde en harmonie met mekaar. Hou tog net op met smart en smeek gebede. Dank Hom vir die onverdiende seëninge genade en barmhartigheid wat Hy mildelik oor ons uit Sy groot hand stort. Sterkte. Miskien word daar in die Hemel rugby gespeel. Hoe sal ek nou weet.

Cherokee ·

Sal jou maar Gert noem. Dankie vir ‘n lekkerlees brief. Dit het groot waarhede met ‘n glimlag tussenin raak gevat. Maar Gert, tog wil ek jou vra, jy sê jy scroll op facebook en lees raak die wonderlike nuus dat hulle Amy ongedeerd gevind het. En net daar wou jy op jou knieë val en dankie sê, maar besluit toe om eerder jou oë op die pad te hou. Nou Gert, ek hoop nie jy lees jou mobiele foon terwyl jy bestuur nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.