Om tydens grendeltyd te rou, is om te luister en te skryf

Anelia Heese van Neurenberg in Duitsland skryf:

Anelia Heese. (Foto: Verskaf)

Hoeveel keer begin ek deesdae ʼn brief met die sinnetjie: “Ek skryf uit ʼn koue Duitsland, 12 500 km van my tuisdorp af…”

Om huis toe te verlang, is al vir jare deel van my identiteit as ʼn Suid-Afrikaner wat in die buiteland leef. Hierdie unieke verlange voel soms soos ʼn wingerdloot wat stomp afgesnoei word. Dit is ongenaakbaar, maar dit laat ruimte vir nuwe groei.

Tydens grendeltyd word hierdie verlange verwronge in rou. Ek rou soos ʼn boer wat haar oes moet afskryf weens ʼn onsigbare pes wat aan die wortels vreet. Tydens oestyd bedank ons die aarde vir goeie weer; en mekaar, vir harde werk. Ek verpas hierdie lonende tyd: my ma se sestigste verjaarsdag, haar tweede jaar in remissie; my pa in die fleur van sy aftrede; my broerskind wat leer praat; vriende wat trou; blommetyd in Namakwaland.

Daar sal ʼn tyd kom waar ek weer hierin kan deel. Daar is egter een ding wat vir ewig ʼn verlies sal wees: die verlies wat my oupa agterlaat. ʼn Nuwe seisoen laat nie ʼn groot boom wat geval het weer toe om te bloei nie. Met dit in gedagte, het ek vir my oupa ʼn oudio-gedenkdiens saamgestel deur huldeblyke te versamel en dit in ʼn professionele oudiodiens te verwerk. Ons kon reg oor die wêreld daarna luister, elk in ons afsonderlike sitkamers… ʼn Globale danksegging.

Ongeag hoe dor hierdie seisoen mag voorkom, moet ons aanhou werk en aanhou dien. Ek is bevoorreg om dit met Herklink te kan doen. Twee families het na my uitgereik om vir ’n geliefde ʼn oudiodiens saam te stel. Helena van Schalkwyk skryf:

“Wat ʼn unieke en deernisvolle gedenkdiens wat Herklink met die heengaan van my moeder saamgestel het, in ʼn tyd waar ons, as gevolg van die koronapandemie, nie bymekaar kon wees nie. Hierdie oudiodiens is ʼn kosbare skat wat ʼn mens vir ewig kan bewaar om na te luister, en ʼn nagedagtenis om ons geliefdes te onthou.”

Baie jare het verstryk sedert Matriek, maar ek het nogtans my Afrikaansonderwyseres om hulp gevra aangaande taaloorsig vir Herklink. Ons ouderdomsverskil beloop dekades, maar die pen bly jonk, en haar rooipen bly flink.

In grendeltyd ruil ons spelfoute uit, asook ʼn gedig of twee:

geleende woorde vir geleende tyd

uit die digters se monde

ons gespreksgenote

in die oggende verlaat ons ons herd

en stap blootsvoets deur die strate

waar ons oor die duwweldorings loop

met lang bene blink in die lig

laat ons dus ons liggeeldae opteken

vir wanneer die donker ons kom haal

en die Here ons nie meer soek nie

want die lewe is ʼn asem lank

laat ons luister na die klank uit die mond

want die wêreld is ʼn groot blou bal

wat stil deur die ruimte val

en ons kom en ons gaan is

soos water uit die kraan

2020 was vir baie van ons nie maklik nie, maar dit het ʼn geleentheid geskep vir groei. Mag ons hierdie nuwe jaar sterker groei deur elke daad van deernis en omgee.

Met erkenning aan: Wilma Stockenström, Jean Goosen, Ingrid Jonker, Hunter Kennedy, Breyten Breytenbach, Johannes Kerkorrel

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.