Ons kan maar deel

baksteen

Foto: Peggy_Marco/Pixabay.com

Deur Lana Hitge

Waar ek in Pretroria-Wes werk, hoor (of sien) ek soms stories wat ek net voel vertel moet word. Ek het die volgende storie Vrydag gehoor. Juis in die tyd dat ons land so deurmekaar is, is dit lekker om ʼn storie met so ʼn tikkie verskuilde humor te vertel. Die ou met wie dit gebeur het, lag darem ook daaroor.

Piet sit met sy bene lui voor hom uitgestrek en ontspan. Sy agterkop rus teen die vensterraam agter die stoelreling, terwyl die stukkie afdak bokant hom net genoeg skaduwee gooi om sy gesig so amper teen die oggendson te beskerm. Ek kan nie regtig die uitdrukking op sy gesig peil terwyl hy ons vertel wat die vorige dag gebeur het nie. As daar egter so iets soos ʼn lui-tevrede, rustige verontwaardiging bestaan, dan is dit die beste beskrywing.

Voordat ek egter van Piet se moedeloosheid kan vertel, moet ek darem eers verduidelik waar hy en sy vrou (saam met ʼn paar ander familielede) woon. Hulle huis is deel van ʼn soort plakkerskamp. Die paartjie het hard gewerk om hulle huis mooi te maak en self gebou waar daar gebou moes word om die huis vir hulself gerieflik in te rig. Daar is wel nie lopende water nie en dit is absoluut noodsaaklik dat daar in alle omstandighede altyd iemand betroubaar tuis moet wees – dis nou as hulle seker wil wees dat hulle huis wel nog aan hulle behoort wanneer hulle tuis kom. Maar ten spyte daarvan leef hulle in relatiewe gemak.

Nou vir Piet se moeilikheid … Hy vertel hy sit nou die dag rustig in sy sitkamer en ontspan, toe hoor hy ʼn gekap iewers buite sy huis. Nie kliphard, soos wanneer iemand iets probeer afbreek nie. Eerder net tik-tik-tik, soos wanneer ʼn beeldhouer aan ʼn meesterstuk werk. Hy staan toe maar op en stap venster se kant toe om ondersoek in te stel, want die spulletjie klink heeltemal te verdag om te ignoreer.

Die uitdrukking op Piet se gesig word ergerlik, terwyl hy verder vertel. Daar staan meneer toe op sy agterstoep, besig om ’n baksteen uit ’n stoeppilaar te verwyder. Piet se stem klink skielik vies terwyl hy vertel dat hy sommer kon sien die knaap weet presies wat hy doen … Kap blykbaar baie mooi netjies en versigtig sodat die baksteen nie breek nie. Hy maak ’n vies handgebaar, terwyl hy vervolg dat dit wraggies ook nie die eerste baksteen is wat uitgehaal en weggedra is nie!

Sy stoepdak hang blykbaar al skeef waar al die bakstene weg is. Piet gee ʼn snork van verontwaardiging en vertel voort dat hy darem regtig geen begeerte het om te sien hoe sy huis baksteen vir baksteen weggedra word nie. Hy moes dus toe maar doen soos ʼn man moet doen as hy sy huis moet beskerm. Hy het sy kop sommer deur die venster gesteek, want om by die deur uit te gaan, sou te veel tyd neem. Toe spreek hy die knaap in ordentlike Afrikaans aan.

“Hei, wat dink jy doen jy?” (Ek vermoed ek het ʼn deel van die dialoog hier uitgelaat.)

Die outjie het hom glo met sulke half-skuldige, half-verlepte ogies aangekyk, toe hy antwoord. “But I’m huuungry!” Blykbaar kan ’n mens ’n baksteen vir R5-00 op die swartmark verkwansel.

Piet se stem klim ’n oktaaf of twee van opgewondenheid toe hy vertel dat hy die outjie inlig dat hy ook honger is, maar beslis nie sy huis afgebreek wil hê nie. Hy is ʼn oomblik stil voordat hy effens regop op sy stoel gaan sit en sy kop moedeloos skud. Hy sê hy kon sy twee oë nie glo nie. Die volgende oomblik hou meneer die netjies gekapte baksteen voor hom uit en sê: “But we can share!”

Hy gaan sit weer agteroor met sy oë effens toe.’n Lui glimlag begin om sy mondhoeke speel, terwyl hy sy storie afsluit. Hy het nie veel van die outjie se vrygewigheid gedink nie en hom duidelik laat verstaan presies wat hy met sy “sharing” kan doen. Die outjie het hom dus maar redelik haastig, baksteen in die hand en sonder om te “share”, uit die voete gemaak.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.