‘Ons mag maar boksies aftiek’

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

ʼn Student, A de Jonge, het ʼn paar weke terug ʼn brief aan Maroela Media geskryf waarin sy belangrike vrae oor die lewe vra. Lees gerus haar brief hier. Johan Oosthuizen is een van verskeie Maroela Media-lesers wat dié “soekende student” se vrae beantwoord het.

Liewe A,

Toentertyd het ek vir elke duif wat ek geskiet het, ’n kerfie op my kettiemikstok gemaak en onder my maters was dit ons statussimbool. Ek het ook gehoor hoe grootmense gepraat het van mense wat te veel op hulle kerfstok had. Nou ja, die tyd het aangestap en deesdae tiek mense boksies af. Op die oog af kan daarmee seker nie fout gevind word nie, maar ’n goeie ding kan ook onverwagse, verpletterende gevolge hê. Alles hang af van die ware rede waarom boksies afgetiek word. Gaan dit oor wat JY kan kry en bereik in die oë van ALMAL wat staan en kyk, of gaan dit oor wat jy kan GEE …? Tiek jy jou boksies met jou kop of jou hart af …?

Kom sit by my, dan vertel ek jou my storie. Ek het op hoërskool gou agtergekom dat ’n mens boksies moes aftiek om “bo” uit te kom. My eerste boksie was om met die mooiste meisie in standerd 7 “gekys” te raak terwyl ek nog maar ’n nikswerd standerd 6’ie was. Daarna is ek gekies as lid van die gesogte Volkspele-demonstrasiegroep en het ’n rol in die opvoering van ’n kantate losgeslaan – nogal! Toe formidabele redenaar, later CSV-voorsitter en uiteindelik prefek. Ek het baie gewroeg omdat ek nie die eerste rugbyspan-boksie kon aftiek nie. Ook nie die voltal onderskeidings toe die matriekeksamenuitslae bekendgemaak is nie!

Op Onderwyskollege het ek gou agtergekom dat daar hope boksies was wat kon en afgetiek MOES word. Wenner van die eerstejaarsredenaarskompetisie. Voorsanger in die Ambassadeurskoor. Voorsitter van die CSV. Stigter van die Avonturia-bergklim-en-voetslaanklub. Huiskomiteelid en uiteindelik lid van die Studenteraad. ’n Gesiene en gewaardeerde lid van die studentegemeenskap…

Ek het begin skoolhou en die opgestapelde boksies MOES afgemerk word. Sommer gou jeugdiaken en toe leierdiaken, lid van die Heldedag- en Geloftefeeskomitees, Voortrekkeroffisier en later kommandant. As onderwyser was ek gou senior assistent en toe het ek tot die bevorderingswedloop toegetree. Elke paar jaar het ons (eintlik EK) agter bevordering aan getrek. Die boksies is die een ná die ander afgetiek. Departementshoofposte, adjunkhoof en toe skoolhoof.

Daarbenewens was daar die stapel boksies vir diens aan volk en vaderland: Nasionale Party Jeugbond, Junior Rapportryers, Rapportryers, FAK, landsberade, geheime organisasies en die soort goed. Ek was ’n gesiene man wat die regte boksies afgetiek het en sekerlik die TROTS van my vrou en kinders. So het ek gedink. Hoe dan nou anders?

Dis toe ek skoolhoof geword het dat ek begin wonder het of die laaste boksie wat ek afgetiek het, die moeite werd was. Ek was nie ’n kantoormens nie. Intussen was ek jare lank betrokke by die aanbieding van leierskursusse by die destydse Veldskole en toe een van die hoofde my genader het om Veldskole toe te skuif, het ek die geleentheid aangegryp. Weer eens het ek my gesin ontwortel, onder die waan dat ek dit alles ter wille van hulle doen en bowendien was daar nuwe boksies af te tieke om te bewys hoe ’n suksesvolle pa en eggenoot ek was.

My oudste dogter was op Tukkies en my tweede dogter was met die intrapslag in die nuwe skool tot die leerlingraad verkies. Nog twee goue boksies afgetiek. My oudste seun was nie aanvaarbaar vir die modelseuns nie en die amokmakers het hom vinnig ingetrek. So min of meer ’n skande en die bitterste pil wat ek nog gesluk het. Vir die eerste keer is ek vir die verkeerde redes deur die skoolhoof na sy kantoor ontbied. Ondenkbare vernederings … My seun die voorbok onder die molesmakers.

Dis toe, een aand, dat die beste ding wat ooit met my kon gebeur het, gebeur het. ’n Verpletterende neerslaanhou wat my die geleentheid gegee het om op te staan en voor te begin. Die skoolhoof het my gebel en verwittig dat my seun en sy maters die aand by die sokkiejol gedrink het. Ek het by die huis op sy tuiskoms in die deur vir hom gestaan en wag. Hy het my in die deur sien staan en voordat ek ’n woord kon inkry, het hy aangeval: “Die hoof het Pa seker gebel en vertel dat ek gesuip is, maar dis alles Pa se skuld!”

Ek was te uit die veld geslaan om terug te slaan en het verslae en verslane geluister. Hy het onstuitbaar onder my ingeklim en toe onder vriende, onderwysers, ouderlinge, predikante en andere ingeseil. “Julle is die hoogheiliges, maar ons ken julle soos julle regtig is!” Vreesloos het hy alles tot op die been oopgevlek en ek was te verslae en skuldig om terug te veg. Ek en al my hogere vriende se boksies was aan flarde geruk. Ek was kaalgestroop – die afwesige pa vir my kinders en die afwesige man vir my liewe vrou.Die res van die storie is nie ter sprake nie, maar dit was die beste ding wat ooit oor my pad kon kom. Dit het die weg gebaan om voor te begin nadat ek myself deur die oë van my kind, wat slagoffer was terwyl ek boksies afgetiek het, kon sien.

Kort daarna het ek en my ou groot maat by ’n vuurtjie gesit en murgbene uitstamp en oor die groot LEWE gesels. Ek het hom my storie vertel en ons het diep besin. Voordat die kole as geword het, het hy sy hand op my skouer gesit en iets gesê wat my lewe verander het. “My ou maat, dit gaan nie oor hoeveel boksies ons aftiek nie. Dit gaan oor hoekom ons boksies aftiek. Dit gaan nie oor wat ons kan KRY nie, maar dit gaan oor wat ons kan GEE. Dit maak nie saak hoeveel en watter boksies ons aftiek nie, maar as ek vanaand my kop op die kussing sit en ek het nie vir iemand ’n verskil gemaak nie, het ek ’n dag van my lewe gemors.” Sy kosbare, waar woorde het die weg gebaan vir ’n nuwe begin – nie om te kyk wat ek kan kry nie, maar wat ek kan gee.

Vandag staan ek nie trots en selfvoldaan, dalk verwaand, voor my boksiemuur nie, maar ek sit dankbaar en delf in my mandjie van herinnering. ’n Ma staan jare nadat ek afgetree het voor my uitstaltafel tydens die KKNK en kyk na my sleutelhouers. Sy tel toe ’n leersleutelhouer met die woorde, “Ek het die arendlewe gekies”, op en kyk my in die oë met die vraag: “Jy’s nie dalk oom Johan nie?” Ek het bevestigend geantwoord, haar oë het vogtig geraak en haar woorde was musiek in my ore: “Dan is jy die man wat my afvlerkkind weer laat vlieg het. Vandag sweef sy tussen die arende!”

In 2002 het ek tydens die Londense UKkasiefees weer ’n stalletjie gehad en ’n jong dame het my goedjies deurgekyk. Toe sy by die sleutelhouers kom, het sy skielik uitgeroep: “Oom Johan! Onthou oom my?” Voordat ek verleë ontkennend kon antwoord, het sy verder oorgeborrel: “Onthou oom in 1991 tydens die hoofleierskursus, die oggend, ná die arendlesing, het oom onder Sommerreg se akkerboom vir my gevra hoekom my oë nie blink nie. Toe’t ek mos in trane uitgebars en oom het my uit die diep gat uitgehaal en weer leer vlieg!” Sy haal toe ’n sleutelhouer uit haar handsak met die woorde, “Ek het die arendlewe gekies”, en wys dit vir my. “Oom het die sleutelhouer vir my gegee die dag toe ons gegroet het. Ek het begin sweef en ek sweef vandag nog! Ek het medies gaan swot en ek praktiseer in Suid-Londen.” Nog musiek in my ore!

Later het ek weer in Engeland begin skoolhou en ’n pad met ’n kollega se seun begin loop. Nou die dag kry ek toe ’n e-pos van sy ma: “Just to let you know. Trevor has just graduated. Thanks to you who, for four years, were the Dad he never had.” Dit was my voorreg!

Vir oulaas het ons twee jaar van ons lewe gegee om in Thailand te gaan help met kerkplanting. Om die pot aan die kook te hou het ek weer skoolgehou. Ná ’n ruk is ek dikwels nie meer as “Teacher” aangespreek nie, maar “Dad”. Terug in Suid-Afrika korrespondeer ons nog met die Koreaanse sendelinge en gemeentetjie se predikant en ons word steeds “Father and Mother” genoem.

Nou, ná 13 jaar in die buiteland en op pad 80 toe, is ons terug op Riversdal met ’n uitdaging wat in ons harte brand: Om ’n verskil te maak vir bejaardes wat afgeskeep, weggegooi en vergete is. Om te gee, verruim die hart van die gewer en verbly die hart van die ontvanger.

Met groot vreugde kyk ek vandag na my kinders wat almal hulle boksies afgetiek het, maar met harte om vir ander ’n verskil te maak. En my rebelseun? Hy is gelukkig getroud met sy droomvrou en hulle spog met ses woelwaters wat tuisskoling ontvang. Vroeg soggens geniet hulle vrolike gesinsuur-saamwees voordat die dagtake begin. Later sien ek hom as hy ’n kleinding wat in die dorings beland het, optel, dorings uittrek, trane afvee, vertroos en verder op sy rug dra. Ek hoor hom wanneer hy sy kinders leer wat reg en verkeerd is. Saans sien ek hoe kleingoed op sy skoot aan die slaap raak voordat hy hulle bed toe dra.

Ons mag maar boksies aftiek, want ons moet nooit ophou strewe nie, maar in ons strewe om te bereik en te verwerf moet ons aan ander GEE, want dit word ons bron van ware vreugde. Ons wonder nooit of wat ons gedoen het dalk verkeerd was nie. Ons WEET dit was reg. Ons GEE maak dit moontlik vir ander om hulle boksies wat saak maak af te tiek en uiteindelik kan ons saam skep uit ’n onuitputlike bron van lewensvreugde.

Lees gerus nog briewe wat lesers aan A de Jonge geskryf het hier.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.